Ons wil bly!

Deur on Mei 1, 2019

Nuuskommentaar: 2 Mei

Met die verkiesing slegs enkele dae weg, en die bespiegelings oor politieke partye se steun, is een ding seker, en dit is dat niks seker is nie en die algemene onsekerheid, veral vir die Afrikaners, voortduur.

Die hofsaak oor die ou Republiekvlag, wat kwansuis haatspraak verteenwoordig, is een van die meer tasbare aksies teen ons mense. Nes die politieke klimaat vir die ANC te ongunstig raak, word daar weer een of ander haas van skuldgevoel uit die hoed gepluk. Hierdie keer is dit die ou landsvlag wat gebruik word om Afrikaners weer in ‘n nuwe skuldgevoel te probeer forseer.

Onderliggend is daar egter die deurlopende beskuldiging dat ons mense kwansuis die land se grond gesteel het, en dat dit terug moet gaan na die sogenaamde oorspronklike eienaars. Deur die boere as diewe te brandmerk, is dit logies dat daar geen genade met sodanige misdadigers betoon hoef te word nie, en dit kan een van die snellers vir die toenemende plaasaanvalle en -moorde wees. Met die EFF en BLF wat waarskynlik hulle steun in die parlement gaan vergroot na die verkiesing, gaan hulle, net soos na die 2014-verkiesing, die ANC verder na links forseer, wat dus nie goeie nuus vir die boere en die Afrikaners in die algemeen is nie.

Tog kom president Cyril Ramaphosa met die oproep dat Suid-Afrikaners in die buiteland, moet terugkeer na die land. Die afgelope naweek kon gesien word hoeveel duisende Suid-Afrikaners wel in die buiteland is wat reeds daar gaan stem het vir volgende week se verkiesing. Die meeste van hulle is kundiges wat die wyk gevat het juis omdat hulle onwelkom voel.

Een groep wat egter nie veel lus het om te gaan nie, is die jonger geslag boere.

TLU SA se Jongboere het dit in ‘n petisie aan president Ramaphosa baie duidelik gestel dat, ten spyte daarvan dat hulle onwelkom en onveilig voel, hulle in die land wil bly, dat hulle wil bly boer en vir die land voedsel voorsien, maar dat daar natuurlik ‘n paar voorwaardes aan verbonde is.

Die petisie gee agt punte wat die president behoort aan te spreek, en ons haal daardie punte woordeliks aan soos TLU SA se Jongboere dit gestel het:

As partye soos die BLF en EFF nie meer toegelaat word om te sê dat hulle witmense gaan vermoor nie, sal ons bly;

“As ons saamwerk om ‘n veilige omgewing te skep en daar drasties teen plaasmoorde opgetree word, sal ons bly;

“As die BEE-, kwotas- en transformasiebeleide geskrap word, sal ons bly;

“As privaat besitreg en die vryemark gerespekteer word en onteiening sonder vergoeding afgekeur word, sal ons bly;

“As daar teen alle korrupte staatsamptenare opgetree word, sal ons bly;

“As droogtehulp vir alle boere – ondanks hulle velkleur – gegee word, sal ons bly;

“As die gehalte van ons water beskerm word, sal ons bly; en

“As ons stabiele elektrisiteitsvoorsiening het en nie buitensporige tariewe daarvoor betaal nie, sal ons bly.”

Hulle sluit dan hulle petisie af met die stelling: Wanneer ek op meriete mag boer, sonder vrees of veroordeling in ons geliefde land, dan sal ek bly!

Die jongboere het hiermee waarskynlik verwoord wat baie ander landsburgers ook voel, en geen wonder nie dat hulle petisie deur etlike duisende mense onderteken is.

Gaan die regering daarna luister? Dit sal ons nog maar eers moet sien, maar intussen gaan ons voort, hou ons moed en kan ons die jongboere se positiwiteit ons eie maak, maar bowenal weier om enige skuldgevoel opgelê te word!


Laat 'n boodskap

Laat ń boodskap

Jou e-pos adres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde is gemerk *



Current track

Title

Artist