Ons moet besef wat in Gauteng-skole aangaan

Deur on Mei 14, 2019

Nuuskommentaar: 14 Mei

Dit is dikwels so dat die man op die straat nie elke politikus in die Kabinet, Parlement, of plaaslike regering ken nie.  Tog, ondanks hierdie heel verstaanbare onkunde, is daar min ouers in Gauteng wat nie die naam van die pas uitgetrede LUR vir onderwys in dié provinsie ken nie.  Meneer Panyaza Lesufi, wat in alle eerlikheid baie deernis getoon het en alles gedoen het wat hy kon na afloop van die Driehoek-tragedie in Februarie, het buiten vir hierdie een uiting van menslikheid, nog feitlik elke geleentheid tot sy beskikking gebruik om Afrikaanse skole, en die Afrikaanse taal aan te val.

Meneer Lesufi glo vas, en noem in ʼn artikel van 11 Maart 2019, dat Afrikaans gebruik word om sekere skole vir bevoorregtes te reserveer – wat loutere nonsens is, want om ʼn kind in hul moedertaal te onderrig is die beste vir daardie kind.  Dit is nie polities nie.  Tog, desondanks, het hy al verskeie kere sy misnoeë daarteenoor uitgedruk dat Afrikaanse skole moeite gedoen het om Afrikaans te bly.

In antwoord op hierdie onbegronde aantygings, wat doodeerlik niks meer regkry as om Suid-Afrika te verdeel nie, het meneer Lesufi en sy departement drie veranderings aangebring in die aansoekproses vir Gautengse skole.

1 – Die Gautengse departement van onderwys mag besluit in watter skool jou kind geplaas word, nadat jy aansoek gedoen het op ʼn stelsel.

2 – Die departement mag besluit wanneer ʼn skool vol is, dus wat die kapasiteit van ʼn skool is.

3 – Die departement mag besluit om ʼn skool te vul, vanuit ʼn 30km radius om die skool.

Die gevolg van hierdie drie wette, wat hier vereenvoudig word maar geensins verdraai word nie, is veelvuldig.  Ten eerste het die Gautengse departement van onderwys aan homself ʼn majestueuse hoeveelheid mag toegeëien, in die sin dat ʼn stuk sagteware volgens hulle beter weet in watter skool hul kind sal pas as die ouers van hierdie kind.  Ten tweede kan hierdie wetgewing baie maklik gebruik word as ʼn instrument om Afrikaanse skole mee by te kom, en Afrikaans onder druk te plaas by staatskole waar dit as enigste medium van onderrig aangewend word.  So ʼn scenario sal tipies so verloop dat die stelsel kinders in skole plaas, irrelevant van hul taalvoorkeur, wat dan ʼn groep Engelse kindertjies in ʼn Afrikaanse skool plaas.  Hierdie kindertjies en hul ouers sal dan natuurlik, en te verstane, vra dat die kinders in Engels onderrig ontvang.  Wat staan ʼn Afrikaanse skool dan te doen?  Veral as van die plaaslike Engelse skole met ʼn paar Afrikaanse kindertjies gevul word, wat nie mag skuif nie.

Ons is so besig om die stemsyfers dop te hou, en te wonder wat die volgende vyf jaar vir ons gaan inhou in terme van die demokrasie, maar miskien is dit tyd om minder aandag te gee aan die volgende termyn, en meer aandag te gee aan die volgende generasie.


Laat 'n boodskap

Laat ń boodskap

Jou e-pos adres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde is gemerk *



Lees verder

Current track

Title

Artist