Ondersoeke moet mekaar nie verdrink nie

Deur on Apr 26, 2019

PRETORIA FM: NUUSKOMMENTAAR – 26 April

Dit mag goed wees vir die gemiddelde mens dat hy nie al die onaangenaamhede wat hom in sy lewe oorgekom het nie, akuut kan onthou nie. Vergeet kan ’n goeie dokter wees – tot die dag dat iets die persoon aan daardie traumatiese gebeurtenis herinner en ou wonde tot die rou vlees oopkrap.

Daar is in verskeie koerantrubrieke reeds gevra of die baie kommissies van ondersoek na aspekte van staatskaping, nie algaande die rol begin speel van ’n soort vergeethouer nie.

En dis nie net die kommissies van ondersoek nie, dis hofuitsprake – ook deur die grondwetlike hof, en die een onthullende boek na die ander deur ondersoekende joernaliste. Die skokkende nuus word net al meer, en het skynbaar ook reeds begin om lede van die publiek af te stomp.

Veral die getuienis voor die Zondo-kommissie sukkel om die aandagspan van lede van die publiek te hou. Daar is al genoeg spykers in verskeie doodskiste geslaan, maar niemand, behalwe van die belangrikste getuies, is nog gearresteer en voor die hof gedaag nie. Die wagtende oranje oorpakke staan onder ’n al dikker stoflaag tussen die motbolle en oud word.

Kortom, genoeg getuienis is al gelewer om in ’n normale demokrasie ’n baie sterk regering tot ’n val te bring. In Suid-Afrika is dit nie die geval nie, en die meeste analiste krap kop oor hoe groot die ANC se oorwinning met die verkiesing van 8 Mei gaan wees.

Die moedeloosheid wat soveel mense beetgepak het, het tot ’n herderlike skrywe binne die Hervormde Kerk gelei waarin lidmate moed ingepraat word en mildelik na Bybelse tekste verwys word.

Moontlik is die gees van amperse fatalisme aangedryf deur die Seriti-kommissie se verslag oor die wapenskandaal. Die wapenskandaal is egter ruim deur die kommissie se skandalige verslag oortref. Verskeie instansies het aangedui dat hulle die verslag op hersiening voor die howe wil neem. Dit lyk of die stophorlosie hiervoor nog voor die wegspring gaan staan het, en die onregte begin in baie se verwysingsraamwerk in die vergetelheid verdwyn.

Die kommissie van ondersoek in die post-Zuma-era skyn egter van ander stoffasie te wees en verskeie verdoemende verslae het reeds die lig gesien. Daar is selfs, soos in die geval van die Inkomstediens, regstellende stappe gedoen, maar die oranje oorpakke kon nog nie base begin kry nie. Boonop voel dit of die hooffigure se posisies in tipiese Mafiastyl so verskans as moontlik is.

Nou het die Mokgoro-verslag na die twee omstrede senior lede van die Nasionale Vervolgingsverslag, Nomgcobo Jiba, en Lawrence Mrwebi as ’n skande vir die NVG verwys. Regter Mokgoro het aanbeveel dat pres. Cyril Ramaphosa hulle ontslaan.

Maar gaan oud-president Jacob Zuma ooit sy dag in die hof kry. Hoe langer gewag word, hoe langer gaan die paddatjies gewoond raak aan die water waarin hulle is, wat geleidelik al warmer word.

Of gaan daar ’n kantelpunt kom wat daartoe sal lei dat die ou patronaatskap intuimel, en die ANC se knou so hard sal wees dat daar ’n nuwe regering aan bewind gaan kom?

Want ons is darem nie regte paddatjies nie.


Laat 'n boodskap

Laat ń boodskap

Jou e-pos adres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde is gemerk *



Lees verder

Current track

Title

Artist