Om nie by verkiesings te berus nie

Deur on Mei 9, 2019

Nuuskommentaar – 8 Mei 2019
D

Verkiesings, een maal elke vyf jaar, geniet groot aandag. Met reg, want dit gaan om beheer van ontsaglike hulpbronne en ontsaglike magshefbome.

Tog is die politiek en die ekonomie te belangrik om aan politici, wat slegs elke vyf jaar verkies word, oor te laat.

Die hulpbronne kan immers goed of sleg aangewend word. In Suid-Afrika, dikwels baie sleg.

Ook die magshefbome kan goed of sleg aangewend word. Baron Montesquieu, die 18de eeuse politieke wetenskaplike, is beroemd vir sy teorie van die staat se trias politica, oftewel drie politieke sfere. In al drie sfere word die magshefbome in Suid-Afrika toenemend sleg aangewend: Die wetgewende gesag maak slegte wette. Die regsprekende gesag lewer politieke uitsprake. Die uitvoerende gesag is in ‘n swak toestand. ‘n Mens kan praat van ‘n vervallende staat.

Ons moet die feite in die oë staar. Die 2019-verkiesing sal die trajek waarop Suid-Afrika is nie grondliggend verbeter nie.

Waar laat dit ons as gemeenskapswesens? Want Suid-Afrika dreig om ‘n plek te word waar nóg ons, nóg ons medemense, nóg ons nageslagte kan floreer.

Met soveel op die spel kan daar van berusting by ‘n verkiesingsuitslag nie sprake wees nie. Daarom is dit gelukkig dat ons – selfs al beskik ons nie oor dieselfde hulpbronne en magshefbome as ‘n regering nie – nie magteloos is nie.

As sakelui of werknemers beskik ons oor ons eie hulpbronne, danksy die waarde wat ons daagliks skep. En as burgers het ons dalk nie ‘n trias politica nie, maar miskien het ons iets beter. Wat van ‘n trias strategica, oftewel drieledige strategie?

Ten eerste kan ons beskermend optree. Ons kan politieke risiko antisipeer en ons ondernemings, finansies, loopbane, gesinne en gemeenskappe daarteen verskans. Miskien behoort ons van vlakke van staatsbestandheid te praat: dalk is jy met ‘n sonpaneel op jou dak, of ‘n klein buitelandse belegging reeds vlak 1 staatsbestand.

Ten tweede kan ons bevorderlik optree. Ons kan mekaar help om ryker, wyser en vaardiger te word. Ons kan beding, stry, pleit en inspring om ons omgewings te verbeter: ons natuurlike omgewings, ons sake-omgewings, ons eie gemeenskappe en die gemeenskappe om ons. Dalk vereis dit ‘n sagte woord, dalk hofsake, dalk buurtwagte, dalk watervoorsiening, dalk beursfondse, of dalk openbare druk en internasionale veldtogte.

En derdens kan ons bou aan die infrastruktuur en instellings van ‘n gesonde gemeenskap. As ‘n staat iets nie voorsien nie, wat verhoed burgers om self skole, kerke, markpleine, hospitale, universiteite, paaie, elektrisiteit, en alles moontlik en nodig self op te rig? Niks. Al hierdie dinge was wêreldwyd telkemale al privaat tot stand gebring, met én sonder winsbejag.

Maar die trias strategica – ons drieledige strategie – is nie in isolasie haalbaar nie. Dit kan nie elkeen vir homself wees nie. Ons sal ons hulpbronne moet kombineer en die regte organisasies en vennote moet wees, vind en vorm. Daar is nie ‘n makliker antwoord nie. Slegs dan sal ons waarlik wigte en teenwigte in hierdie samelewing hê.


Laat 'n boodskap

Laat ń boodskap

Jou e-pos adres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde is gemerk *



Lees verder

Volgende artikel

NAMPO


Thumbnail
Current track

Title

Artist