Nuut opgedateerde - Gratis Slimfoon Applikasie  
12:58:32 ---Day: 1
Faan Rabie Middag: 12:00 – 17:00
LUISTER AANLYN:  
 
DSTV Radio Kanaal:887  

Nuuskommentaar

NUUSKOMMENTAAR : 28 NOVEMBER 2018

Die Media se Malema-dilema

Demokrasie is ʼn woord wat die gewone Suid-Afrikaner op straat redelik gereeld hoor.  Alhoewel ons regering homself dikwels heeltemal te veel mag toe-eien, is die amptelike regeringstelsel wat binne die grense van Suid-Afrika heers, ʼn demokratiese sisteem.  Die woord demokrasie kom van die Griekse woorde Demos, wat beteken “mense” en Kratia wat beteken “heers”. ʼn Demokrasie is dus ʼn regeringstelsel waartydens dit die mense is wat heers.  Oor hierdie regeringstelsel en hoe dit beter kan funksioneer, sou daar sekerlik baie geskryf kan word, maar kom ons fokus op media, en veral die vryheid en ongestoordheid van die media, se rol in ʼn demokrasie.

Siende dat moderne demokratiese prosesse daarvan afhang dat mense gaan stem, dus fisies hul stem agter ʼn persoon of party sit, is dit noodsaaklik dat daar in ʼn demokrasie so veel moontlik inligting beskikbaar moet wees.  Onder alle omstandighede is ingeligte landsburgers voordelig vir ʼn land, maar in ʼn demokrasie is dit juis belangrik omdat kiesers veronderstel is om die beste kandidaat te kies tydens ʼn stemproses, en goeie, volledige inligting is nodig om te kan bepaal wie presies hierdie “beste kandidaat” is.  Dit is op hierdie punt waar die media ʼn kernrol speel.

Die eerste koerante is in ongeveer 1780 versprei, en sedert daardie tyd is media, aanvanklik net gedrukte media, maar later alternatiewe soos radiostasies en televisiestasies, selfs moderne alternatiewe media, verantwoordelik daarvoor om mense in te lig van die dinge wat om hulle, en oor hulle, aan die gang is.  Die media is, wanneer dit reg funksioneer, ʼn waghond, wat die burger beskerm teen regeringsvergrype, of korrupsie, of enige ander vorm van magsmisbruik of oortreding van regulasies deur die regeerder wat ons oor ons staat aanstel.

Dit is van kernbelang dat die media vry en ongebonde moet wees, juis omdat die werk van die media as geheel dikwels is om fel kritiek uit te spreek teen gesaghebbendes.

Op 20 November 2018 het Julius Malema, die leier van die Ekonomiese Vryheidsvegters, aan ʼn skare mense buite die kommissie van ondersoek na staatskaping, gestel dat sy ondersteuners “met oortuiging moet afreken” met die media, wat volgens Malema teen hom en sy party gekant is.  Na afloop van sy kommentaar het die Suid-Afrikaanse Redakteursforum, SANEF, hom uitgenooi na ʼn gesprek toe, omdat hulle die intimidasie van joernaliste natuurlik in ʼn uiters ernstige lig beskou.

Sou Julius Malema daarin slaag om joernaliste in die samelewing te negeer tot “Personae non Grata”, waarop konstant gepik word, en wat gebuk moet gaan onder alle vorme van intimidasie en selfs fisiese geweld, soos in die geval was toe die EFF se adjunkhoof Floyd Shivambu op 20 Maart vanjaar vir Adrian de Kock, ʼn joernalis, buite die Parlement rondgestamp het, sou dit beteken dat kiesers nie meer volledige inligting sal kry nie, omdat joernaliste nie daaroor verslag sal lewer nie.

As samelewing is dit ons plig om van joernaliste akkuraatheid en eerlikheid te verwag, maar ons het ook die plig om hulle te beskerm, om hierdie werk van waghond wees doeltreffend en gereeld te kan verrig!

NUUSKOMMENTAAR: 27 NOVEMBER 2018

Bibi-saak plaas kollig op ekstremisme in Pakistan

 

Honderde aktiviste is die afgelope naweek regoor Pakistan in hegtenis geneem in die soveelste reeks geweldadige betogings deur Moslemekstremiste in dié land sedert ’n omstrede, onlangse uitspraak in die Hooggeregshof van Pakistan. Die saak van die jong Christen-vrou, Asia Bibi, wat in 2010 in Pakistan aan haatspraak skuldig bevind is, was altyd omstrede, maar die reg het geseëvier toe die hof gedurende Oktober vanjaar beslis het dat Bibi onskuldig is.

 

Bibi is in 2010 daarvan aangekla dat sy die Profeet Mohammed beledig het. Bibi is in 2010 skuldig bevind en die doodstraf opgelê. Dit het hewige reaksie uit veral Westerse lande veroorsaak en ’n uitgerekte appèlproses het gevolg. Na die Hooggeregshof se onlangse uitspraak moes Bibi se regsverteenwoordiger na Nederland vlug terwyl Bibi en haar familie verbied is om die land te verlaat.

 

Die betogings is grootliks georkestreer deur die groep, Tehreek-e-Labbaik Pakistan, ’n uiters konserwatiewe Moslembeweging wat sterk gekant is teen enige regte vir Christene in Pakistan. Die groep se politieke vleuel het in die verkiesing wat in Julie plaasgevind het daarin geslaag om twee miljoen stemme te kry. Aanvalle op Christene in Pakistan vind gereeld plaas en dié land se Christenbevolking van 2,5 miljoen mense leef veral die afgelope paar jaar in vrees.

 

Die onlangs verkose Eerste Minister van Pakistan, Imran Khan, het aanvanklik na die uitspraak van die Hooggeregshof die uitspraak verdedig en ekstremistiese optrede veroordeel. Kort daarna het sy regering egter onder druk geswig en ’n ooreenkoms met die betogers bereik waarvolgens Bibi weer vervolg sou kon word en waarvolgens sy nie die land kon verlaat nie.

 

Intussen het die betogings teen Bibi se vryskelding voortgeduur en leef haar hele familie in vrees vir aanvalle. Die Khan-regering het die afgelope tyd baie internasionale druk ervaar en dit lyk toenemend moontlik dat Bibi na Europa sal kan vlug. Duitsland het reeds asiel vir haar aangebied.

 

Die vraag is of hierdie en ander soortgelyke insidente tekenend van ’n verdere radikalisering in Moslemlande, veral in die Midde-Ooste is. Sedert die terreuraanval van 11 September 2001 en die talle ander terreuraanvalle in Westerse lande, sedertdien is die vraag van Moslem-ekstremisme voortdurend aktueel.

 

Peilings deur die Pew Navorsingsinstituut in Amerika en die bekende navorsingsagentskap, Gallup, toon dat ’n groot meerderheid van Moslems, ook in Pakistan, geweld verwerp. Die probleem is egter dat ’n meerderheid nie almal is nie. Indien ’n minderheid van 20% mense in ’n land soos Pakistan wel geweld teen ander groepe ondersteun beteken dit dat een uit elke vyf burgers van daardie land vatbaar vir radikalisering is.

 

Christene en Jode woon reeds vir eeue in talle Midde-Oosterse lande. Hierdie mense se lewens word toenemend bedreig en groot getalle Christene het oor die afgelope paar jaar uit lande soos Pakistan, Irak en Sirië gevlug.

 

Die Weste het ’n rol om te speel om lande soos Pakistan te ondersteun in die stryd teen radikalisering. Dit moet egter vanuit ’n fokus op vertroue en respek ontwikkel en nie intervensionistiese stappe soos oorlog plaasvind nie. Dit is in die belang van die hele wêreld, dat ekstremisme in Moslemlande doeltreffend teengewerk word.

NUUSKOMMENTAAR: 26 NOVEMBER 2018

Dit gaan oor vertroue

Verlede jaar die tyd het die land asem opgehou wat gaan gebeur by die ANC se beleidskonferensie, waar ‘n opvolger vir Jacob Zuma verkies sou word. Zuma was op daardie stadium al erg ongewild, en die vrees was dat sy eks, Nkosazana Dlamini Zuma, die leisels sou kon oorneem om sy korrupte spore dood te vee.

‘n Jaar later is daar inderdaad ‘n opvolger vir Zuma, en ‘n sug van verligting is bemerk dat dit nie weer ‘n Zuma is nie.

Maar het dis situasie nou werklik verbeter?

In Zuma se laaste deel van sy bewind het daar in wese niks meer plaasgevind nie. Die staat en sy funksies het tot stilstand gekom. Die positiewe daarvan was dat baie van die beleidsuitsprake bloot by praatjies gebly het, want daar was nie meer die kapasiteit om dit in dade om te sit nie. Nou word daardie praatjies werklikheid, waarvan die onteiening sonder vergoeding tans die skrikwekkendste voorbeeld is.

Behalwe dit het nie baie verander nie. Die ekonomie gly steeds verder na benede, ten spyte van die sogenaamde kapitalistiese Cyril Ramaphosa. Verbruikers swoeg nou met die hoogste brandstofpryse in ons geskiedenis, en vir die eerste keer in dekades moes die BTW koers verhoog word, terwyl inkomstebelasting vir die gans wat die goue eiers lê, steeds hoër kruip.

Plaaslike owerhede funksioneer net so pateties onder Ramaphosa en sy nuwe minister vir daardie portefeulje, Pravin Gordhan. Sogenaamde dienste protesoptredes vind steeds meer plaas, waartydens die land in anargie gedompel word as winkels geplunder word en munisipale kantore en klinieke afgebrand word.

En, les bes, wil dit tog voorkom of die sogenaamd onbesprokenes nou ook maar met geraamtes in die kas sit. Nie dat mens altyd te veel waarde wil heg aan die EFF nie, maar hulle protesoptrede voor die Zondo komissie na staatskaping, laat tog die vraag ontstaan of daar nie agter hulle rokie, ‘n vuurtjie skuil nie? Hulle eis die kop van Pravin Gordhan omdat hulle beweer dat dié se dogter bevoordeel is.

En dan president Ramaphosa self, van wie dit nou blyk dat hy uit twyfelagtige bronne so ‘n halfmiljoen rand gekry het vir die ANC leierskapstryd. Sy bewering dat hy nie geweet het waar die geld vandaan gekom het nie en dit per ongeluk geneem het, gaan nie op nie. Al is enigiemand so ryk soos Ramaphosa, sal hy in terme van die toets van die gemiddelde man, deeglik uitvind waar kom die geld vandaan en waarvoor.

Ramaphosa het daarmee die bietjie vertroue wat daar dalk nog in hom was, verloor. Hy het sy geloofwaardigheid al self weggegooi in Amerika toe hy ontken het dat Suid-Afrikaanse boere op hulle plase vermoor word. Hoe kan hy verder enigsins vertrou word?

Daarom kan niemand enige waarde heg aan sy uitlatings dat onteiening sonder vergoeding sal geskied sonder dat die ekonomie en voedselsekerheid daardeur benadeel word.

Die week gaan TLU SA en ander weer voorleggings maak by die VN se Menseregtekommissie se Minderheidsforum. Nadat president Trump al kennis geneem het van die situasie, en die Duitse afvaardiging van dié week ook te kenne gegee het dat hulle allermins gelukkig is met gebeure in die land, laat ons hoop dat die res van die wêreld ook sal kennis neem en sterk standpunt inneem. Intussen moet ons eie organisasies mekaar die hand reik tein einde maksimale wringkrag te ontwikkel deur te weier om toegewings oor ekonomiese beginsels te maak.

NUUSKOMMENTAAR: 23 NOVEMBER 2018

Hulle stink so lekker want hulle dink nie so lekker

 

Die land se rioolprobleme kom nie van gister af nie, en die feit dat die probleem nou eers skynbaar ernstig opgeneem word, is ’n skande. Wetstoepassing moet nou ernstig aandag kry.

Minstens die helfte van die land se infrastruktuur is besig om ineen te stort, en dit gaan glo sowat R5 miljard kos om die Vaalrivier te rehabiliteer. Tesourie gee jaarliks genoeg geld aan munisipaliteite om hul rioolwerke in stand te hou, maar die geld word vir salarisse aangewend. Dis ook nie bekend of die departement van water en sanitasie al iemand vervolg het vir rioolstorting nie.

So sê ’n direkteur van die nasionale tesourie. Hy meen ook daar is in die departement van water en sanitasie nie meer genoeg kundigheid nie. Hy lê getuienis  voor die Menseregtekommissie af wat veral die ineenstorting van die Vaalrivier ondersoek. In die geheel beskou is sy getuienis ontstellend.

Hoogverraad, skryf ’n leser in sy kommentaar.

As die regering vanuit hierdie bron nie genoegsaam kennis geneem het nie – die media het die storie ook al genoeg opgerakel. Oor die jare is ontstellende berigte geplaas – byvoorbeeld die sterftes in Delmas weens tifoïde, cholera wat al in die Vaalrivier en ’n waterplas in Soweto aangetref is, en vele meer.

Maroela het op 18 Maart 2014 reeds volledig oor die kwessie kommentaar gelewer. Dit was na aanleiding van ’n verslag wat AfriForum oor munisipale drinkwater opgestel het. Hiervoor is die drinkwater van 100 munisipaliteite getoets. In die drinkwater van verskeie munisipaliteite is E.Coli aangetref.

Maar wat het ’n verslag oor drinkwater te make met ’n bespreking oor die rioolprobleem?

Die antwoord is ontstellend. E.Coli het net een bron om in te ontstaan – in water wat deur menslike of dierlike afval besoedel is. Die bron is gewoonlik ’n rioolplaas waarvan besoedelde water in rivierstrome, en uiteindelik munisipale waterwerke beland. E.Coli, in elk geval die tipe wat in Suid-Afrika voorkom, is op sigself nie dodelik nie, maar is ’n handige klikbek dat die medium wat nodig is vir die groei van ander organismes wat wel dodelik kan wees soos cholera en tifoïde in die water teenwoordig kan wees. Dit sluit in virusse, bakterie en swamme. Die hele spektrum is al jare gelede met een toets by die Barrage in die Vaalrivier gevind.

Rou riool wat in ’n straat afloop is nie net ’n stinkende ongerief nie, dit kan dodelik wees.

Dit is nie net die rioolplase wat so dikwels verwaarloos word dat meer as die helfte daarvan dreig om ineen te stort nie, maar die rioolnetwerke self. Die probleme is legio, soos swellende kleigrond wat die gelyke afloop versteur en soms selfs pype breek. Wortelindringing wat nie net verstop nie, maar water laat uitlek – dikwels in swellende kleigronde.

Dit is byna ondenkbaar dat die regering nié van al die onheile bewus was nie. Dat toegelaat is dat dit so erg ontaard is ’n erge skande. Dit terwyl staatsdepartemente se ongemagtigde uitgawes reeds R51 miljard beloop het.

Die vraag wat ’n mens wil vra – waar is die oranje pakke? Tegnies is dié verwaarlosing dalk nie hoogverraad nie, maar daar word beslis ’n misdaad gepleeg, al is dit ’n statutêre misdaad. Want iemand wat nie weet dat rioolbesmette water iemand se dood kan veroorsaak nie, hoort nie in ’n openbare pos of amp nie.

NUUSKOMMENTAAR: 22 NOVEMBER 2018

Malema en doodspraatjies (Herman Toerien)

Julius Malema maak eenvoudig te maklik opmerkings oor dood wanneer hy sy politieke mond so groot rek. Wanneer hy self egter glo doodsdreigemente kry, gaan kla hy gou by die polisie en dié keer het hy vir beskerming ’n bloulig-kavalkade met luukse motors ter beskerming van die polisie (dus belastingbetalers) gekry – ’n baie handige meevallertjie vir ’n skynbaar bankrot party so kort voor ’n algemene verkiesing.

 

Dit is vanjaar tien jaar sedert Julius Malema, toe leier van die ANC se jeugliga by Botshabelo gesê het hy sal doodmaak vir Zuma.  Die geleentheid was die amptelike Jeugdagvieringe wat die ANC blatant as ’n ANC-saamtrek op belastingbetalerskoste gekaap het, en deur sowel Jacob Zuma en Malema, wat geen staatsampte toe beklee het nie, as sprekers opgetree het.

Destyds was pres. Jacob Zuma en Malema nog goed by mekaar ingekruip. Zuma het byvoorbeeld nie lank nie hierna nog Malema as ’n toekomstige president van die land gesalf: toe hy besoek aan Malema se geboortegrond gebring het.

Nou het Malema verklaar hy is selfs tot lewensverlies bereid in sy en die EFF se stryd teen minister Pravin Gordhan, minister van Openbare Ondernemings. Dit kos kophou om by te hou oor wie almal vir wie kwaad is. Die EFF het duidelik hul mes vir Gordhan in en wil hê hy moet bedank, Malema is duidelik nog kwaad vir Zuma, en Zuma en Gordhan sit nie om dieselfde vuur nie. Dis die soort chaos waarbinne die EFF floreer. Volgens Malema is Gordhan ’n vername figuur in die staatskapingsdrama, maar Malema hang nou die “titel” van leier van die “wit monopolie-kapitaal” vir Gordhan en sy “Kabaal” om die nek.

Maroela het reeds op 15 Oktober 2015 die kwessies hierbo bespreek. Grondgryp sonder vergoeding was toe reeds ’n brandpunt vir die EFF.

Terwyl Malema nie skaam is om oor sterftes in die konteks van politieke geweld te praat nie, is hy en sy party gou om die polisie te nader vir verdere beskerming wanneer hy glo doodsdreigemente kry. Op die oomblik word hy deur ’n bloulig-kavalkade vergesel nadat verweer is dat hy weer so ’n waarskuwing gekry het. In April vanjaar het Malema ook ’n besoek aan die minister van polisie gebring toe hy glo doodsdreigemente gekry het.

Die volgende algemene verkiesing vind in Mei volgende jaar plaas. Die mis- / gebruik van blouligkavalkades met BMW’s en ander luukse motors om in werklikheid ’n statuur by kiesers te bou, is nie vreemd aan die land nie. Verlede jaar het dr. Nkosazana Dlamini-Zuma, toe ’n gewone LP, ook so ’n kavalkade gekry. Eers na heelwat vrae hieroor gevra is, het die verduideliking van dreigemente gekom. Min mense het egter getwyfel dat dit eenvoudig ’n geval was dat sy, as Zuma se kandidaat vir ANC-president, ’n kavalkade gekry het om haar statuur te verhoog.

Die EFF kan klaarblyklik nie uit eie sak so ’n kavalkade vir die “commander in chief” bekostig nie.

Hierdie soort mentaliteit word eerder by ’n piesangrepubliek verwag – maar dan ontstaan die vraag of Suid-Afrika nie op die oomblik niks anders as ’n piesangrepubliek is nie.  Nie alle bevolkingsgroepe in Suid-Afrika word egter deur ’n gepronkery beïndruk nie, en die spreekwoord: “Hoe kaler jonker, hoe groter pronker” dui duidelik aan dat die Afrikaner daarop neersien.

Sy groot mond het hom al verskeie kere duur te staan gekom, en om doodspraatjies te maak waarborg negatiewe reaksie. Maar ook hier kan diep in die Afrikaanse idiomatiek gegraaf word.

Die naam, Grootbek-skreeubaber wat in die Zambezi voorkom, laat ’n mens onwillekeurig aan ’n sekere Commander  in Chief dink. In Engels heet grootbek ’n braggart of popinjay, of te wel ’n grootprater en papegaai. Vandag het popinjay meer die betekenis van ’n mens wat maar ’n vakuum-persoonlikheid het.

In April vanjaar het The Citizen ’n ondersoek gedoen na ’n kuberruim-tuiste wat haatspraak aanblaas. Hierin is Malema as ’n “grootbek ‘k’” uitgetrap, en die kubertuiste het binne twee weke 1 500 lede gekry. Dié optrede kan nie goedgepraat word nie, maar dit dui ook aan hoeveel vyande Malema al met sy groot mond gekry het.

Intussen moet Suid-Afrikaners maar katvoet loop om nie reg in die leeu se (groot) bek in te loop nie. Daar is bepaald beter opsies as om nie hierdie gegewe perd in die bek te kyk nie.

NUUSKOMMENTAAR: 21 NOVEMBER 2018

Behoort Discovery te kan diskrimineer? 

Die afgelope paar weke was Discovery gereeld in die nuus. Eers weens hul leierskapsberaad, toe oor die bedreiging wat die Nasionale Gesondheidsorg-versekeringsfonds vir mediese skemas inhou en mees onlangs oor Discovery Bank se planne om 10% van hul aandele uitsluitlik aan swart kliënte te gee.

 

Op die oog af lyk hierdie eenvoudig diskriminasie te wees. Vervang die woord “swart” met “wit” of “bruin” en kyk of mense dan sê of dit rassisties of diskriminerend is. Ek glo die antwoord is voor die hand liggend.

 

Die vraag is gevolglik eerder of ‘n privaat maatskappy, wat Discovery is, mag diskrimineer. Ons weet in die land se huidige regsraamwerk word diskriminasie wat in die naam van transformasie en regstelling gepleeg word nie net geduld nie maar aktief aangemoedig. Ons moet dus eerder op ‘n beginselvlak bepaal of hierdie optrede deur die privaatmaatskappy afkeurenswaardig is of nie.

 

In beginsel glo ek as ‘n voorstaander van die vryemark dat ‘n privaatmaatskappy behoort te kan maak soos hulle goed vind het. Discovery behoort blatante diskriminasie te kan pleeg sou hulle wou, omdat hulle die gevolge van so ‘n besluit dan ook gaan moet dra. Soos wat ons sien in talle Suid-Afrikaners se reaksie gaan hierdie diskriminasie nie geduld word nie en mense gaan eerder na ander mediese versekeraars skuif. In ‘n vryemark behoort Discovery dus vrylik 10% van hul aandele aan swart kliënte te gee, indien hul glo dat dit in hul en hul kliënte se beste belang is en mits hulle bereid is om die gevolge van so ‘n besluit te dra.

 

Die realiteit is egter dat Discovery nie in ‘n vryemark funksioneer nie. Die Suid-Afrikaanse staat plaas druk op privaatmaatskappye om programme soos hierdie te implementeer. Ons het wette op die boek wat swarteienaarskap en uitsluitlike bevoordeling verplig.

 

Indien Discovery nie vooraf bewus was dat talle Suid-Afrikaners nie hierdie soort diskriminasie aanstaan nie, behoort hulle na die afgelope week wel deeglik bewus van Suid-Afrikaanse sentiment te wees. Discovery sit dus in die moeilike posisie waar weet dat hulle kliënte gaan verloor maar steeds gebind is tot rasraamwerke en uitsluitlike beleide.

 

Alhoewel woede en misnoë teenoor Discovery geregverdig is, en die openbare aandag op hierdie gebeur noodsaaklik is in die breër debat oor regstellende aksie en ekonomiese transformasie, moet ons ook erken dat Discovery in hierdie posisie geplaas is. Dit wel gesê, behoort mense steeds beter besluite en posisies van Discovery te vereis. Dit is nie genoeg dat net burgerregte organisasies, sommige vakbonde, akademici en ‘n joernalis hier en daar kritiek uitspreek teen hierdie soort diskriminasie nie. Ons kort die privaatsektor en magtige rolspelers soos Discovery om ook saam te staan en nee te sê.