Nuut opgedateerde - Gratis Slimfoon Applikasie  
12:58:49 ---Day: 1
Faan Rabie Middag: 12:00 – 17:00
LUISTER AANLYN:  
 
DSTV Radio Kanaal:887  

Nuuskommentaar

NUUSKOMMENTAAR : 6 DESEMBER 2018

Waar jou standbeelde is, is waar jy jou verlede sal kry

 

Die standbeeld van pres. M.T. Steyn is nou amptelik ook nie meer welkom op die Kovsie-kampus nie.

Die universiteitsraad het besluit die beeld moet skuif ná wat voorgehou is as ’n uitgerekte konsultasieproses, dinkskrums, voorleggings, insette, betoë en vertoë.

Eintlik was dit maar net die gewone “kom-ons-speel-vir-tyd of kom-ons-wens-die-probleem-gaan-weg-benadering” wat die meeste universiteitsbesture in 2018 ten opsigte van talle probleme en uitdagings gevolg het.

Daar kan baie gesê word oor die patetiese reaksie van universiteitsbesture wat duidelik nie die hedendaagse kulturele problematiek in die land kan pak nie en ook nie meer aan die hoof van instellings staan wat verdraagsaamheid, openlike debat, redevoering, wedersydse begrip, erkenning en respek vir verskillende identiteite en alle mense kan bevorder nie.

Dit is eenvoudig nie goed genoeg om aan te voer dat alle beelde uit die verlede aanstoot gee en teen die beginsels van inklusiwiteit en diversiteit is. Deur selektief met Suid-Afrika se geskiedenis en erfenis om te gaan, misken juis inklusiwiteit en diversiteit.

Om terug te keer na die verskuiwing van standbeelde die afgelope jaar of wat op Suid-Afrikaanse kampusse, het dit vir Suid-Afrikaners, en Afrikaners in besonder, tyd geword om dalk te besin oor hoe ons na die kwessie in die toekoms moet kyk.

M.T. Steyn gaan nou ’n rusplek by die Oorlogsmuseum van die Boererepublieke in Bloemfontein kry –  wat ook die goedkeuring van sy familie en nasate wegdra. Dit is goed en reg so, aangesien honderde voorleggings oor dié internasionale figuur en laaste president van die Vrystaatse Republiek op dowe ore geval het. Dit is klaarblyklik vir radikale jeugdiges onmoontlik om te verstaan dat Steyn, wat in 1916 dood is, niks met apartheid te make gehad nie. Des te meer is dit goed dat die Steyn-standbeeld skuif na waar dit na waarde geag sal word.

Net soos wat die Steyn-standbeeld suiwer om ideologiese redes verwyder is, was dit ook die geval met die standbeeld van C.R. Swart, die eerste staatspresident van die Republiek van Suid-Afrika, ook by  die Universiteit van die Vrystaat.

By die Universiteit van Kaapstad het die standbeeld van Cecil John Rhodes, Britse mynmagnaat en eerste minister van die Kaapkolonie in die slag gebly, terwyl 75 kunswerke ook uit openbare ruimtes verwyder is.

By die Noordwes-Universiteit se Potchefstroom-kampus was die standbeeld van die digter en Bybelvertaler Totius in die spervuur en nie meer welkom nie. Dít terwyl hy hom nooit met die politiek opgehou het nie en die NWU waarskynlik nie eens vandag sou bestaan het as dit nie vir hom was nie.

Ondanks dié treurige situasie, is daar egter ook ’n vlam van hoop waaraan Afrikaners moet bly vashou. Ons kan M.T. Steyn nog by die Oorlogsmuseum van die Boererepublieke gaan besigtig. C.R. Swart is veilig op die Voortrekkers se plaas Doornkloof, buite Lindley in die Vrystaat. Totius het rus gevind in die voorportaal van die sinodesaal van die Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika (GKSA) in Potchefstroom. Rhodes se heenkome is wel nog ’n geheim aangesien daar nog nie besluit is waarheen hy moet skuif nie.

Al is ons erfenis nie waar dit altyd was en waar ons dit onthou nie, het dit nie verdwyn nie. Ons het ’n plig om ons erfenis te bewaar en ook om dit aanhoudend op te soek en vir ons kinders te wys, al is dit nie meer daar waar dit was of waar ons dit onthou nie.

NUUSKOMMENTAAR : 5 DESEMBER 2018

Weste word onnodig by konflik tussen Rusland en Oekraïne betrek

Op 25 November het die besluit van die Oekraïne om drie van hul vlootskepe deur die Kertsj-seestraat te stuur, tot ’n internasionale krisis aanleiding gegee. Die Kertsj-seestraat is ’n smal verbinding tussen die Swartsee en die See van Azov. Sedert Rusland se anneksasie van die Krim-skiereiland in 2014 beheer die Russe die Kertsj-seestraat.

 

Dié seestraat is geleë tussen die Krim-skiereiland en die Taman-skiereiland wat dit vir Rusland van groot strategiese belang maak. Dit is egter ook vir die Oekraïne van belang omdat dit die enigste verbindingsroete tussen hulle hawens in die Swartsee en dié in die See van Azov is.

 

Rusland se reaksie op die Oekraïne se besluit om die drie skepe deur die seestraat te stuur, was om redelik aggressief op te tree. Die skepe is verhoed om deur die seestraat te beweeg en die Russiese weermag het beheer oor die skepe geneem en bemanningslede gearresteer.

 

Sedertdien het veral Westerse media en politieke leiers Rusland se optrede veroordeel en is die indruk geskep dat Rusland die enkele skuldige party in hierdie insident was. Die waarheid is egter heelwat ingewikkelder.

 

Die President van die Oekraïne, Petro Poroshenko speel reeds sedert Rusland se anneksasie van die Krim-skiereiland in 2014 ’n politieke spel waarin hy Westerse lande in die voortslepende konflik tussen sy land en Rusland probeer betrek.

 

Poroshenko se politieke oorlewing hang af van die mate waartoe hy die gesig van patriotisme in die Oekraïne kan word. Dit is nie sommer toevallig dat hy twee dae na die insident in die Kertsj-skiereiland die datum vir volgende jaar se presidentsverkiesing aangekondig het nie. Poroshenko is tans baie ongewild in sy land en slegs tussen 8% en 15% van kiesers beplan om volgens peilings op 31 Maart 2019 vir hom te stem. Indien hy egter die krisis met Rusland kan eskaleer staan hy ’n kans om sy eie gewildheid te verhoog.

 

Poroshenko het sedert 2014 voortdurende druk op lidlande van die Noord-Atlantiese Verdragsorganisasie geplaas om die Oekraïne militêr te ondersteun. Terwyl die media die indruk skep dat die Trump-administrasie in Amerika sagter met Rusland omgaan, is die teendeel waar. Die Trump-administrasie het al twee keer gesofistikeerde wapentuig aan die Oekraïne verkoop. Amerika is ook betrokke by die opleiding van soldate in die Oekraïne. Ander Navo-lidlande moedig weer ’n onderhandelde skikking aan.

 

Om die spore van die konflik tussen Rusland en die Oekraïne te verstaan moet ’n mens verder kyk as net blote Russiese aggressie. Hoewel Rusland se optrede in 2014 onaanvaarbaar was, is daar groter en ingewikkelder historiese vraagstukke wat begryp moet word. Voeg daarby ’n lang geskiedenis van ingewikkelde demografiese en geografiese kwessies en ’n mens besef vinnig dat die huidige konflik deel is van ’n baie ouer konfliksituasie.

 

Aan die een kant het die Oekraïne die reg gehad om hul skepe deur die Kertsj-seestraat te stuur en aan die ander kant het Rusland die reg gehad om die skepe voor te keer. Westerse lande moet verhoed dat die Oekraïne hul betrek by ’n konflik waarin hulle baie min belang het. Anders kan dit tot grootskaalse konflik tussen Navo-lande en Rusland aanleiding gee. Dit is ’n scenario wat niemand wil sien gebeur nie.

NUUSKOMMENTAAR : 4 DESEMBER 2018

Veel meer as net ‘n eeufees

Vandag, 4 Desember is dit presies honderd jaar sedert die eerste eksemplaar van die Vlaamse koerant, De Standaard, van die rolpers afgerol het. Vir die personeel en eienaars van die koerant is dit ‘n groot oomblik, maar veel meer as net vreugde is onderliggend aan die historiese oomblik.

Om te kon oorleef moes die koerant ‘n wêreldoorlog trotseer, verguising beleef, koersaanpassings aanbring en hom deurlopend posisioneer in die wisselgang tussen Vlaamse en Belgiese sentimente en realiteite.

In sy kommentaar op De Standaard se eeufees, spoel die web-opinieblad, Doorbraak, die kuberbek behoorlik uit. Die koerant sou nog altyd deel van die establishment uitmaak, en ‘n versamelput van politiek-korrekte sentimente wees.

As voorbeeld noem Doorbraak dat toe die woord neger ongeveer 50 jaar gelede politiek-inkorrek geword het, het dit vir De Standaard ‘n verbode woord geword. Daarom meen Doorbraak sal Zwarte Piet binne ‘n jaar of twee  ook kleurloos wees. Doorbraak se oordeel oor De Standaard neem egter die karakter van ‘n goedkoop foutvindery aan.

De Standaard sal ook nie saamstem met die stelling dat dit ‘n handperdjie van die establishment is nie. ‘n Analise van sy opinie-artikels dui inderdaad aan dat dit ‘n wye verskeidenheid onderwerpe hanteer, en ‘n velerlei standpunte word ook gestel – ook deur onverbonde skrywers.  Seker die mees opvallende is ‘n simpatieke artikel oor die opkoms van die sogenaamde gele hesjes in Nederland en België. Die gele hesjes, of te wel geelhemde, is ‘n voortsetting van die gilets jaunes wat pas enorme skade in Frankryk tydens brandstof-prysbetogings aangerig het.

In ander bydraes kom lugbesoedeling, die glasplafon vir vroue in die Belgiese argitektuur en toestande in die vlugtelingkampe op Lesbos onder die loep.

By geleentheid het De Standaard selfs die uiters sensitiewe kwessie van of België  in ‘n konfederasie omskep moet word, opgehaal. Dit was na een van die groter partye gevra het dat die kiesers solank die saak moet bedink. Na heftige kritiek van die publiek het die aangeleentheid skielik stilgeraak.

Die Vlaamse gemeenskap is leeuwêreld waarin ‘n Vlaamse koerant hom begeef – selfs meer as om die Vlaams-Waalse kwessies krities onder die pen te neem. So was daar ‘n polemiek toe gewaag is om te skryf dat Wes-Vlaams geen taal is nie, maar ‘n keelaandoening.

Miskien, omdat aanvaar word dat De Standaard verantwoordelik met feite omgaan, is lesers geneig om nie so heftig te reageer soos  normaalweg verwag sou kon word nie soos toe ‘n ekonoom geskryf het België se begroting sal klop as die Wale so volledig belasting betaal soos die Vlaminge.

Veel kan geleer word uit De Standaard se oorlewingevermoë, maar veral uit die feit dat lesers gehalte en die waarheid verkies, wat netjies en volledig aangebied is.

NUUSKOMMENTAAR : 3 DESEMBER 2018

DIE MEDIA IS NIE DIE ENIGSTE SLAGOFFER VAN MALEMA NIE.

 

Die Amerikaanse kommentator  William F. Buckley Jnr het by geleentheid gesê” “Ons is so begaan daaroor om die meerderheid ter wille te wees, dat ons uit die oog verloor hoe gereeld dit nodig is om die meerderheid trompop te loop ter wille van die behoud van die vryheid van die minderheid, sowel as vir die individu.”

 

Die laaste paar dae is die media met reg ontsteld oor die EFF leier Julius Malema se aanvalle in toesprake op individuele lede van die media. Pas het die EFF ook die Suid-Afrikaanse Redakteursforum se uitnodiging tot gesprek om die kwessies op te klaar van die hand gewys. Dit kan dus met reg aanvaar word dat die aanvalle op die media meer bitsig en nog meer vyandig gaan word.

 

Wat egter in die tyd ook gevra moet word is hoekom sommige media nou eers wakker skrik en reageer op die uitsprake van Julius Malema? Waar was dieselfde lede van die media toe Julius Malema met sy haatveldtog begin het teen wittes, telkens al in die besonder gemik teen Afrikaners? Waar was die media toe Malema anti-Semitiese uitsprake gemaak het met haatspraak teen Indiërs en Bruinmense sy ondersteuners aangehits het.

 

Sommige van die media het die Malema-rassisme in die verlede of bloot geïgnoreer of aktief bygedra tot ‘n diep verdelende debat en die instansies wat wel in die bresse getree het vir minderheidsgemeenskappe verdag of as regsgesind probeer afmaak. Hoe ironies dat sommige van die media instansies en ook individue nou self aan die ontvangkant staan van die Malema-rassisme.

 

Die Suid-Afrikaanse grondwet is baie duidelik daaroor dat die grondwet  die regte van alle mense in ons land verskans en bevestig die demokratiese waardes van menswaardigheid, gelykheid en vryheid.

 

Dit moet weer eens baie duidelik gestel word. Die media word nie verkwalik dat hulle standpunt inneem teen Malema nie. Die vraag is waarom nou eers en waarom nou so verontreg terwyl minderhede al lankal (Sedert 2010 al) aan die ontvangkant is van Malema se haattirades?

 

Dit is nie mediavryheid wat nou skielik in gedrang is nie. Alhoewel Vryheid van uitdrukking gewaarborg word in die grondwet 16. Word dit beperk en “omvat dit nie– (a) propaganda vir oorlog nie; (b)die aanstigting van dreigende geweld nie; of (c) die verkondiging van haat wat op ras, etnisiteit, geslagtelikheid of godsdiens gebaseer is en wat aanhitsing om leed te veroorsaak, uitmaak nie.”  Oor elkeen van die punte kan baie omvattende klagstate teen Malema en lede van sy EFF gemaak word.  Vele klagte is inderdaad ook al ingedien by die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie, wat eintlik maar net in naam bestaan en hoegenaamd nie sy mandaat uitvoer nie. 

 

Professor Kader Asmal het reeds in 2007 ernstige leemtes en gebrek aan doeltreffendheid in sy ondersoek van Grondwet 9 instellings waaronder die Menseregtekommissie uitgewys. Die verslag is aan die parlement oorhandig. Die erkenning van ʼn vorige voorsitter van die MRK, mnr Jody Kollapen, dat “die MRK onvoldoende magte het om op te tree teen mense wat die Grondwet skend of bepalings daarin oortree” word in 2018 korrek uitgewys. Die Parlement het egter versuim om die verslag verder te neem en pluk ons nou die vrugte van die versuim. Daar is nie ʼn instrument wat Malema tot orde kan roep nie  . Veel erger – dit word nou baie duidelik dat die Suid-Afrikaanse Mensregtekommissie nie net hulle  grondwetlike plig versaak het nie, maar in werklikheid Malema se nuwe rassisme en haatspraak teenoor minderhede en nou ook die media deur hulle gebrek aan optrede en stilswye kondoneer.

 

Die eerste skote is geskiet in die aanloop tot die 2019 algemene verkiesing en dit is nou reeds duidelik dat daar geen genade gaan wees nie, nie vir die media nie, nie vir minderhede of selfs vir sommige politici nie.

 

Suid-Afrika het ‘n brose demokrasie wat beskerm moet word. Hierbinne is die Grondwet die fondament, met die parlementêre stelsel, die regstelsel en ‘n vrye media die pilare vir die demokrasie.  Uitsprake van Julius Malema ondermyn die demokrasie en speel in die hande van elemente, merendeels misdadig, met moontlike noodlottige gevolge.

NUUSKOMMENTAAR : 30 NOVEMBER 2018

Die Tweede Amerikaanse Burgeroorlog word ʼn wêreldoorlog

 

Die politieke konflik in die VSA is besig om in ʼn ideologiese “Tweede Burgeroorlog” te ontaard. Amerika se eerste burgeroorlog was tussen Noord en Suid. Dié een is tussen links en regs, of in Amerikaanse terme, tussen liberaal en konserwatief.

 

Hierdie politieke konflik behels nie net meer die normale mededinging tussen opponerende partye in die wêreld se oudste moderne demokrasie nie. Dit is ʼn verbete stryd om idees wat die hele samelewing op elke gebied verdeel, verpolitiseer en polariseer.

 

Hoewel daar nog altyd skerp politieke verdelingslyne in Amerika was, het dit nou in ʼn volskaalse ideologiese “burgeroorlog” ontaard wat dreig om die demokrasie te ondermyn.

 

Baie demokrate wil eenvoudig nie Trump se verkiesing en die Republikeinse oorwinning aanvaar nie. Daar was ʼn lang aanloop tot hierdie onverklaarde burgeroorlog, maar dit is twee jaar gelede op die spits gedryf deur Donald Trump se onverwagse verkiesing tot president. Trump se omstrede verlede en sy aanvallende styl maak van hom ʼn gewilde politieke slaansak, maar Amerika se republikeinse idee is die linkses se werklike teiken. As hulle Trump kan laat val, val dié idee, en dit wat daarmee saamgaan, alles saam met hom.

 

Die president is dus nie die oorsaak van die konflik nie, maar die gevolg van die gapende kloof tussen die strydende kampe. Trump se trompop styl en sy verdelende optrede is olie op ʼn vuur wat reeds woed. Dié vuur het egter ontstaan weens diep en onoorbrugbare verskille. Die Amerikaanse linkses is beslis nie die onskuldige slagoffers in hierdie oorlog nie. Daar is min “demokrate” onder Trump se linkse teenstanders in die Demokratiese Party.

 

Die wese van hierdie stryd om idees strek oor politieke, ekonomiese, maatskaplike en kulturele terreine heen. Die Republikeine staan vir ʼn Amerika gegrond op die Westerse Christendom. Hulle wil die beste van die Westerse beskawing bewaar en verder daarop voortbou. Daarom word hulle in Engels “conservatives”– oftewel “bewaarders” – genoem. Daarteenoor wil die linkses niks goeds weet van die Westerse beskawing en die Christelike waardes wat dit onderlê nie. Hulle wil die VSA eerder soos die wêreld maak as wat hulle die wêreld soos die VSA daar wil laat uitsien.

 

Die woord “vryheid” beskryf die Republikeine se lewensbeskouing die beste, teenoor “gelykheid” wat die linkses se beskouing tipeer. Hierdie botsende vertrekpunte lei tot sienings van die ekonomie en die rol van die staat wat lynreg van mekaar verskil. Waar die Republikeine aan ʼn vrye ekonomie glo, veg die linkses vir sosialisme. Die Republikeine glo die staat moet mense se persoonlike regte en vryhede beskerm. Die Demokrate wil staatsmag gebruik om gelykheid af te dwing deur herverdeling, welsyn en voorkeurbehandeling van sekere groepe. Die Republikeine staan vir ʼn gelyke wegspring vir almal; die linkse Demokrate wil almal gelyk by die wenpaal hê.

 

Die Demokrate is gekant teen konserwatiewe waardes soos die gesin, wet en orde, patriotisme en geskiedenis, en staan liberale sosiale waardes voor soos aborsie en genadedood. Die konserwatiewes is demokratiese nasionaliste, teenoor die Demokratiese Party se liberale internasionaliste.

 

Die moderne media, soos TV en die internet, het hierdie “tweede Amerikaanse Burgeroorlog” wêreldwyd bekendgestel. Die tyd sal leer of hierdie konflik tot ʼn nuwe ideologiese “wêreldoorlog” gaan uitkring.

NUUSKOMMENTAAR : 29 NOVEMBER 2018

Beroepsgildes

 

Na die middel-eeue was Europa en Asië onderworpe aan verskeie vorme van feodale stelsels.

 

In daardie stelsels het konings en grondbaronne oor alle mag beskik.  Hulle kon na goeddunke lappies grond aan klein boere en huurpagters toeken en indien die kleinboere en huurpagters in onguns verval het, kon hulle dit weer wegneem.

 

Feodale stelsels regoor die wêreld het mettertyd danksy revolusies of evolusionêre staatkundige ontwikkeling beweeg in die rigting van groter demokrasie en groter gelykheid tussen die burgers.

 

Dit was meestal die opkoms van die burgerstand wat hierdie omwentelinge tot gevolg gehad het.

 

Interessant genoeg was die verwantskap tussen grondeienaarskap en groter vryheid altyd daar.

 

Hoe minder eiendomsreg daar was, hoe meer outokraties was die heersers.

 

Die patroon was dieselfde vir Westerse- sowel as Oosterse feodale en later totalitêre bedelings.

 

‘n Belangrike bestanddeel van die opkoms van die burgerstand was die feit dat hulle hulleself aan die hand van hulle beroepe georganiseer het. Daar was beroepsgildes vir elke denkbare beroep.

 

Daardie gildes het uiteindelik die boustene geraak van goedgevestigde demokrasieë regoor die wêreld.

 

As tussen-instellings tussen die burgery en die owerhede, het hulle die burgery sterk gemaak en instaatgestel om kollektief op te tree om hulle werks- en leefomstandighede te verbeter.

 

Suid-Afrika bevind homself tans in ‘n allesomvattende proses van die sentralisering van staatsmag.

 

Oor die afgelope 25 jaar het die owerheid gaandeweg meer en meer reëls geskep om staatsmag te sentraliseer en om beheer oor die professies uit te oefen.

 

Vanaf 1 November word die hele regsprofessie, prokureurs sowel as advokate, nie meer gereguleer deur die balierade en die prokureursordes nie maar deur die Regspraktisynsraad wat ingestel is kragtens ‘n wet wat effektief beheer van die professies oorhandig het aan ‘n raad waarvan ‘n wesenlike deel van die lede deur die Minister van Justisie aangestel word en die res volgens ‘n streng kwotavereiste van 70% swart en 30% wit verkies moes word.

 

Die Getrouheidsfonds vir Prokureurs, en al die bates van die prokureursordes wat deur die prokureursprofessie opgebou en geadministreer is, is oorgedra aan die regspraktisynsraad, wat effektief ‘n staatsorgaan is.

 

Sodoende het die grootste onteiening sonder vergoeding van bates en privaatbesit naamlik die bates van die prokureursprofessie en sy getrouheidsfonds, onder ons neuse plaasgevind.

 

Prosesse is tans aan die gang om die basiese reg op eiendom sodanig af te water dat dit aan die staat die geleentheid gee om eiendom sonder vergoeding te konfiskeer vir die doeleindes van herverdeling en grondhervorming.

Ons bevind ons dus in ‘n era waarin Suid-Afrika eintlik deur politieke druk homself de-moderniseer deurdat selfstandige eienaarskap, selfstandige professies, selfstandige beroepsbeoefening en ‘n selfstandige lewenskragtige ekonomie gaandeweg vervang word met ‘n stelsel waarin alle eiendom, alle beroepsbeoefening en alle ekonomiese aktiwiteit onder die streng wakende oog van ‘n sistemies korrupte staat val.

 

Dit is binne hierdie omstandighede wat die vakbond Solidariteit, wat homself besig hou met die wêreld van werk, twee weke gelede sy nuutste inisiatief aangekondig het om aktief te fokus op die vestiging van beroepsgildes.

 

Hierdie beroepsgildes gaan poog om te midde van groeiende staatsdominasie aan gewone burgers, professionele en werkende mense die geleentheid te skep om hulleself te organiseer in tussen-instellings wat rondom hulle beroepe en professies te organiseer en hulleself te staal teen die ingrepe van ‘n oppermagtige korrupte staat.

 

Die vestiging van instellings soos hierdie en die uitbouing daarvan op elke lewensterrein sal in die jare wat voorlê gewone burgers se enigste verweer wees teen ‘n groeiende staatsverval wat noodwendig volg op die sentralisering van staatsmag wat tans in volle vaart voortduur.