Nuuskommentaar – 8 Februarie

Deur on Feb 8, 2019

Nuuskommentaar: 8 Februarie

Netanyahu en die toekoms van Israel

Oor die afgelope tien jaar het Benjamin Netanyahu daarin geslaag om die politieke landskap in Israel met groot vernuf in ‘n nuwe rigting te stuur. Op 9 April sal kiesers in Israel kan besluit of hulle vir Netanyahu ‘n mandaat gaan gee om hiermee voort te gaan.

Die onstuimige politieke periode in Israel in die laat 1990’s en vroeë 2000’s het gepaard gegaan met twee Amerikaanse presidente, Bill Clinton en George W. Bush se pogings om ‘n langtermyn vredesooreenkoms tussen Israel en die Palestyne te bewerkstellig. Teen die tyd toe Netanyahu op 31 Maart 2009 sy terugkeer as Eerste Minister van Israel gemaak het, na ‘n onsuksesvolle vorige termyn van 1996 tot 1999, was die land gereed vir ‘n nuwe politieke rigting.

Tydens die 2009-verkiesingsveldtog het Netanyahu ‘n nuwe roetekaart vir Israel voorgestel en tydens volgende verkiesings in 2013 en 2015 het hy suksesvol daarop voortgebou. Voormalige leiers van Israel soos Ariel Sharon, Ehud Barak en Yitzhak Rabin was almal baie krities teenoor Netanyahu. Sy belofte van ekonomiese sukses en veilige lewensomstandighede terwyl Israel permanensie gee aan sy blokkade van die Gaza-strook en sy besetting van dele van die Wesbank, het in 2009 onwerklik geklink.

Vandag is dit duidelik dat Netanyahu grootliks in sy doelwitte geslaag het. Israel beleef deesdae baie min wesenlike veiligheidsbedreigings. Die land se ekonomie het oor dié afgelope tien jaar sterk gegroei en sonder ‘n oorlog kon Netanyahu daarin slaag om die Palestynse nasionalistiese beweging toenemend te laat verkrummel. Die aanvaarding verlede jaar van wetgewing in die Israeliese parlement dat Israel voortaan die nasiestaat van die Jode sal wees, het Netanyahu se ideale afgerond.

Oor die afgelope twee jaar het hy ook ‘n betroubare bondgenoot in die Withuis. Michael Oren, ‘n voormalige ambassadeur van Israel in Washington, skryf onlangs dat Israel sedert sy totstandkoming in 1948 nog nooit so ‘n betroubare bondgenoot soos die Trump-administrasie gehad het nie.

Terwyl ‘n internasionale peiling in meer as 100 lande getoon het dat slegs 21% van mense buite die VSA vir Donald Trump steun, wys dieselfde peiling dat 69% van Israeli’s Trump steun. Dit is dus geen wonder dat Netanyahu se veldtog sterk op sy vriendskap met Trump steun nie. In al die groot stede in Israel het daar oor die afgelope paar weke enorme groot advertensieborde met ‘n foto van Netanyahu en Trump saam verskyn.

Die peilings wys dat Netanyahu voorloop en waarskynlik die verkiesing gaan wen, maar dat daar groot uitdagings op hom wag. Verskeie klagtes van korrupsie het verlede jaar oor hom te voorskyn gekom en die kans is goed dat hy reeds voor die verkiesing formeel aangekla gaan word. Hoewel Netanyahu se Likud-party steeds die grootste party in Israel gaan bly, sal hy heelwat ander partye moet oortuig om in ‘n nuwe koalisieregering saam te werk. Dit kan selfs meer uitdagend as in 2009, 2013 en 2015 wees.

Benjamin Netanyahu het egter die afgelope tien jaar daarin geslaag om die ou politieke orde in Israel behoorlik te isoleer en die land en ‘n meerderheid van sy burgery op ‘n nuwe meer regse politieke trajek te plaas. Vanjaar se verkiesing sal minder oor ekonomie en veiligheid gaan en eerder oor die vraag of die veilige opsie van nog ‘n Netanyahu-termyn die regte opsie vir Israel is.


Laat 'n boodskap

Laat ń boodskap

Jou e-pos adres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde is gemerk *



Current track

Title

Artist