Nuuskommentaar: 7 Februarie

Deur on Feb 7, 2019

Nuuskommentaar: 7 Februarie

Bossasa sinisme

Dis moeilik om enigiets anders as ongemak te voel oor die arrestasie hierdie week van vier mense na aanleiding van die blykbaar korrupte verhouding tussen die departement van korrektiewe dienste (DKD) en sy eerstydse diensverskaffer Bosassa nie.

Bosassa, deesdae bekend as die African Global Group, is die maatskappy wat onder leiding van die Oos-Kaapse sakeman Gavin Watson ‘n geskatte R120 miljard aan staatskontrakte losgeslaan het, baie daarvan by DKD. 

Na baie jare van gerugte is vier mense hierdie week aangekeer: Linda Mti, voormalige kommissaris van die DKD, Joe Gillingham, die departement se voormalige finansiele hoof, Angelo Agrizzi, voormalige bedryfshoof van Bosassa, en Andries van Tonder, Bosassa se voormalige finansiele hoof.

Laasgenoemde drie het in die hof vir gespesialiseerde handelsmisdade in Pretoria verskyn en is op borgtog van R20 000 elk vrygelaat.  

‘n Mens moet seker bly wees dat die owerhede nou uiteindelik op die skelms begin toeslaan. Nietemin vier sinisme hoogty.

Waarom is dit?

Eerstens is daar die name van diegene wat in hegtenis geneem is, tweedens die name van diegene wat nie in hegtenis geneem is nie en derdens die tydsberekening van die stap.

Onder die vier name van diegene wat nou in die pekel is, val Agrizzi s’n dadelik op. Hy het oor die afgelope paar weke landwyd bekend geword danksy sy getuienis voor die Zondo-kommissie van ondersoek na staatskaping, waar hy die sluier oor die omvang van korrupsie gelig het soos niemand voor hom nie.

Waarom sou hy juis nou gearresteer word, direk nadat hy met die hele sak patats vorendag gekom het? Is dit nie dalk om ander wat magtiges aan die kaak wil stel, die skrik op die lyf te jaag nie?

En wat van diegene wat nie tans gearresteer is nie? Wat van Gavin Watson, Bosassa se hoofamptenaar, wat luidens daardie getuienis die hoofspinnekop is wat die hele web manipuleer, maar nou (dalk soos die Guptas verlede jaar?) volop geleentheid kry om hom uit die voete te maak?

Wat van ministers soos Gwede Mantashe (minerale hulpbronne) of Nomvula Mokonyane (toerisme) wat ten sterkste geimpliseer is deur Agrizzi se getuienis, maar steeds in die kabinet dien?

Dan is daar die tydsberekening. Die arrestasies volg op ondersoeke wat al soveel as nege jaar gelede afgehandel is, en vind plaas ‘n dag voor pres. Cyril Ramaphosa se staatsrede. Baie gerieflik vir die staatshoof om krediet op te eis en politieke munt te slaan.

Sulke sinisme is die gevolg as ‘n geloofwaardigheidsgaping tydens ‘n bewind ontstaan. Die teksboekvoorbeeld is die bewind van oudpres. Richard Nixon van die VSA, toe niemand later meer ‘n woord uit die Withuis geglo het nie.

Die ANC-regering het oor ‘n tydperk van 25 jaar die strafregstelsel willens en wetens so gepolitiseer dat dit nou ook hier die geval is. Mens is nie oortuig deur hierdie week se gebeure nie. 


Laat 'n boodskap

Laat ń boodskap

Jou e-pos adres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde is gemerk *



Lees verder

Current track

Title

Artist