Nasionale Boekeweek

 

Dit was die skrywer CS Lewis aan wie ons die aanhaling te danke het dat ons lees om te weet ons is nie alleen nie.

Vandeesweek, wat nasionale boekeweek is, is ‘n wonderlike geleentheid om te sorg dat nie ons, ons familie, ons vriende en mislien veral ons kinders en kleinkinders, nooit alleen is nie. Dit kan ons doen deur hulle life te maak vir lees – ‘n liefde en ‘n vaardigheid waarvoor hull eons altyd dankbaar sal bly, en wat hulle altyd tot voordeel sal strek.

Waarom sê ons so? Want die person wat baie goed lees, sal ook baie goed skryf, en deur die ontwikkeling van taalvaardigheid baie goed praat. In hierdie dae waarin kommunikasie koning is, is dit gesogte en nodige vaardighede.

Maar, so sou die twyfelaars kon beweer, boeke en koerante en tydskrifte is duur, dan nie? Dit hang natuurlik af van jou posisie, want geld is relatief. As jy regtig nie geld het nie, is daar mos biblioteke, deur die belastingbetaler gefinansier en deur die owerhede geadministreer tot die algemene heil van die gemeenskap. Daardie boeke kos joui as gebruiker niks, en d3is ‘n skatkis van leesgenot en kennis.

As jy wel ‘n paar rand te spaar het, is ‘n goeie boek, koerant of tydskrif nie soveel ‘n uitgawe nie as wat dit ‘n belegging is. Dit sal jou lewe verryk, nou en altyd, en ‘n goeie boek is altyd handig om naby te he, ook vir terugverwysing. Boonop is boeke – so kan enige bedrewe eiendomsagent jou vertel – van die grootste bydraers om ‘n huislikheidsgevoel aan jou huis te gee – ‘n geselligheid en gemeensaamheid wat net die geduld van papier in die hand kan werk.

Boonop is die ondersteuning van die Afrikaanse boek spesifiek ‘n pro-aktiewe stap ter ondersteuning van die Afrikaanse taal, ons pêrel van groot waarde. Die Afrikaanse letterkunde – prosa, poësie en dramatekste – is ‘n bron van plesier en trots vir ons almal wat die taal liefhet.

Afrikaans kan met blik omhoog en skouers terug sy plek volstaan tusxsen die letterkundeskat van die wereld. Aan die prosakant word die erns van Karel Schoeman, die allegoriese briljantheid van Etienne Leroux, die spanning van Deon Meyer, die bedrewenheid van Andre P. Brink, die geworteldheid van Ronelda Kamfer en die luim van Jan Spies moeilik oortref.

Afrikaanse digters soos Eugene Marais, DJ Opperman, NP van Wyk Louw, Loftus Marais en Nathan Trantaal maak ons trots en gelukkig, en dramas van die hoogste peil het name soos C Louis Leipoldt, Oppeerman (nogmaals), PG du Plessis, Deon Opperman en Christiaan Olwagen gewaardeerde volksbesit gemaak.

Ons elkeen se genotvolle plig is dus duidelik: Sorg dat niemand alleen is nie. Koop ‘n boek, gaan neem een uit of deel dit uit aan iemand wat daarby kan baat nadat jy met die boek klaar is. Dis ‘n edel daad vir die gewer, die koper en die uitnemer en die ontvanger, want lees en boeke is ‘n groot genade vir ons geliefde land en ons geliefde taal.