Waar jou standbeelde is, is waar jy jou verlede sal kry

 

Die standbeeld van pres. M.T. Steyn is nou amptelik ook nie meer welkom op die Kovsie-kampus nie.

Die universiteitsraad het besluit die beeld moet skuif ná wat voorgehou is as ’n uitgerekte konsultasieproses, dinkskrums, voorleggings, insette, betoë en vertoë.

Eintlik was dit maar net die gewone “kom-ons-speel-vir-tyd of kom-ons-wens-die-probleem-gaan-weg-benadering” wat die meeste universiteitsbesture in 2018 ten opsigte van talle probleme en uitdagings gevolg het.

Daar kan baie gesê word oor die patetiese reaksie van universiteitsbesture wat duidelik nie die hedendaagse kulturele problematiek in die land kan pak nie en ook nie meer aan die hoof van instellings staan wat verdraagsaamheid, openlike debat, redevoering, wedersydse begrip, erkenning en respek vir verskillende identiteite en alle mense kan bevorder nie.

Dit is eenvoudig nie goed genoeg om aan te voer dat alle beelde uit die verlede aanstoot gee en teen die beginsels van inklusiwiteit en diversiteit is. Deur selektief met Suid-Afrika se geskiedenis en erfenis om te gaan, misken juis inklusiwiteit en diversiteit.

Om terug te keer na die verskuiwing van standbeelde die afgelope jaar of wat op Suid-Afrikaanse kampusse, het dit vir Suid-Afrikaners, en Afrikaners in besonder, tyd geword om dalk te besin oor hoe ons na die kwessie in die toekoms moet kyk.

M.T. Steyn gaan nou ’n rusplek by die Oorlogsmuseum van die Boererepublieke in Bloemfontein kry –  wat ook die goedkeuring van sy familie en nasate wegdra. Dit is goed en reg so, aangesien honderde voorleggings oor dié internasionale figuur en laaste president van die Vrystaatse Republiek op dowe ore geval het. Dit is klaarblyklik vir radikale jeugdiges onmoontlik om te verstaan dat Steyn, wat in 1916 dood is, niks met apartheid te make gehad nie. Des te meer is dit goed dat die Steyn-standbeeld skuif na waar dit na waarde geag sal word.

Net soos wat die Steyn-standbeeld suiwer om ideologiese redes verwyder is, was dit ook die geval met die standbeeld van C.R. Swart, die eerste staatspresident van die Republiek van Suid-Afrika, ook by  die Universiteit van die Vrystaat.

By die Universiteit van Kaapstad het die standbeeld van Cecil John Rhodes, Britse mynmagnaat en eerste minister van die Kaapkolonie in die slag gebly, terwyl 75 kunswerke ook uit openbare ruimtes verwyder is.

By die Noordwes-Universiteit se Potchefstroom-kampus was die standbeeld van die digter en Bybelvertaler Totius in die spervuur en nie meer welkom nie. Dít terwyl hy hom nooit met die politiek opgehou het nie en die NWU waarskynlik nie eens vandag sou bestaan het as dit nie vir hom was nie.

Ondanks dié treurige situasie, is daar egter ook ’n vlam van hoop waaraan Afrikaners moet bly vashou. Ons kan M.T. Steyn nog by die Oorlogsmuseum van die Boererepublieke gaan besigtig. C.R. Swart is veilig op die Voortrekkers se plaas Doornkloof, buite Lindley in die Vrystaat. Totius het rus gevind in die voorportaal van die sinodesaal van die Gereformeerde Kerke in Suid-Afrika (GKSA) in Potchefstroom. Rhodes se heenkome is wel nog ’n geheim aangesien daar nog nie besluit is waarheen hy moet skuif nie.

Al is ons erfenis nie waar dit altyd was en waar ons dit onthou nie, het dit nie verdwyn nie. Ons het ’n plig om ons erfenis te bewaar en ook om dit aanhoudend op te soek en vir ons kinders te wys, al is dit nie meer daar waar dit was of waar ons dit onthou nie.