Europeërs raak krapperig oor misdaad deur immigrante

 

Die aanval op ’n Duitse man deur twee immigrante op Sondag 26 Augustus in die stadjie Chemnitz in die Duitse deelstaat Saksen, was vir baie Duitsers een aanval te veel. Oor die afgelope paar maande was daar gereeld, soos in talle ander Europese lande, berigte oor geweldadige misdade wat deur immigrante en asielsoekers uit die Midde-Ooste en Afrika gepleeg is.

 

Teen verlede week is die polisie in Chemnitz verras toe ’n groot skare betogers na die stadsentrum opgeruk het. Die betoging is eers as ’n neo-nazi byeenkoms deur die media afgemaak, maar dit was gou duidelik dat baie gewone Duitsers opgeruk het om hul misnoeë met die groeiende misdaad te toon.

 

Volgens ’n omvattende regeringstudie wat verlede jaar bekend gemaak is, is 70,7% van alle misdadigers in Duitsland nie Duitse burgers nie. Van die orige byna 30% van misdadigers is 14,9%, in die buiteland gebore en het hulle na Duitsland immigreer waar hulle uiteindelik Duitse burgerskap gekry het. Volgens ’n studie van die Universiteit van Zurich se Departement vir Toegepaste Wetenskap wat op misdaad in een Duitse deelstaat, Nedersaksen gefokus het, is buitelanders verantwoordelik vir 90% van die toename in misdaad wat tussen 2015 en 2016 in dié deelstaat plaasgevind het. Die totale hoeveelheid misdaadinsidente het vanaf 2015 tot 2016 met 10% toegeneem.

 

Die probleem van misdaad wat deur immigrante gepleeg word, is nie net tot Duitsland beperk nie. Ook in lande soos Frankryk, Nederland, België en Swede is daar gereeld berigte van geweldsmisdade wat deur immigrante gepleeg word. In Swede is misdaad wat deur immigrante gepleeg word tans een van die belangrikste kwessies in ’n vurige verkiesingstryd. Sweedse burgers gaan eerskomende Sondag na die stembus en die Sweedse Demokrate, ’n regse politieke party wat sterk op die immigrante-uitdaging fokus, gaan volgens alle peilings baie goed in Sondag se verkiesing doen. Dit is duidelik dat baie Sweedse burgers werklik bekommerd is oor die toenemende voorvalle van geweldsmisdaad wat deur immigrante gepleeg word. Swede is een van die lande in Europa wat oor die afgelope paar jaar die meeste vlugtelinge ingeneem het.

 

Ook in Nederland is daar toenemend berigte oor misdaad wat deur immigrante-bendes gepleeg word. In Amsterdam moes die nuwe linkse burgemeester, Femke Halsema, skaars nadat sy op 12 Junie vanjaar as burgemeester van Nederland se hoofstad aangewys is, ’n versoek aan die regering in Den Haag rig vir die ontplooiing van heelwat meer polisiemanne in Amsterdam se strate. Die ombudsman van Amsterdam, Arre Zuurmond, het gedurende Junie sover gegaan om te sê dat die polisie in Amsterdam beheer oor groot dele van die stad verloor het en dat misdaadbendes in die nag chaos veroorsaak.

 

Nie alle lande in Europa is bereid om deeglike statistiek oor die verband tussen toenemende misdaad en die groei in migrante-getalle bekend te maak nie. Dit is egter gewone Europese burgers wat by die stembus en tydens optogte en byeenkomste hul stem laat hoor. Die vraag is of die politieke elite in plekke soos Berlyn, Den Haag, Brussel en Parys betyds gaan besef dat wesenlike optrede nodig is? Indien nie gaan hulle meer en meer verras word deur woedende betogings soos verlede week s’n in die rustige Duitse stadtjie, Chemnitz.