Weste word onnodig by konflik tussen Rusland en Oekraïne betrek

Op 25 November het die besluit van die Oekraïne om drie van hul vlootskepe deur die Kertsj-seestraat te stuur, tot ’n internasionale krisis aanleiding gegee. Die Kertsj-seestraat is ’n smal verbinding tussen die Swartsee en die See van Azov. Sedert Rusland se anneksasie van die Krim-skiereiland in 2014 beheer die Russe die Kertsj-seestraat.

 

Dié seestraat is geleë tussen die Krim-skiereiland en die Taman-skiereiland wat dit vir Rusland van groot strategiese belang maak. Dit is egter ook vir die Oekraïne van belang omdat dit die enigste verbindingsroete tussen hulle hawens in die Swartsee en dié in die See van Azov is.

 

Rusland se reaksie op die Oekraïne se besluit om die drie skepe deur die seestraat te stuur, was om redelik aggressief op te tree. Die skepe is verhoed om deur die seestraat te beweeg en die Russiese weermag het beheer oor die skepe geneem en bemanningslede gearresteer.

 

Sedertdien het veral Westerse media en politieke leiers Rusland se optrede veroordeel en is die indruk geskep dat Rusland die enkele skuldige party in hierdie insident was. Die waarheid is egter heelwat ingewikkelder.

 

Die President van die Oekraïne, Petro Poroshenko speel reeds sedert Rusland se anneksasie van die Krim-skiereiland in 2014 ’n politieke spel waarin hy Westerse lande in die voortslepende konflik tussen sy land en Rusland probeer betrek.

 

Poroshenko se politieke oorlewing hang af van die mate waartoe hy die gesig van patriotisme in die Oekraïne kan word. Dit is nie sommer toevallig dat hy twee dae na die insident in die Kertsj-skiereiland die datum vir volgende jaar se presidentsverkiesing aangekondig het nie. Poroshenko is tans baie ongewild in sy land en slegs tussen 8% en 15% van kiesers beplan om volgens peilings op 31 Maart 2019 vir hom te stem. Indien hy egter die krisis met Rusland kan eskaleer staan hy ’n kans om sy eie gewildheid te verhoog.

 

Poroshenko het sedert 2014 voortdurende druk op lidlande van die Noord-Atlantiese Verdragsorganisasie geplaas om die Oekraïne militêr te ondersteun. Terwyl die media die indruk skep dat die Trump-administrasie in Amerika sagter met Rusland omgaan, is die teendeel waar. Die Trump-administrasie het al twee keer gesofistikeerde wapentuig aan die Oekraïne verkoop. Amerika is ook betrokke by die opleiding van soldate in die Oekraïne. Ander Navo-lidlande moedig weer ’n onderhandelde skikking aan.

 

Om die spore van die konflik tussen Rusland en die Oekraïne te verstaan moet ’n mens verder kyk as net blote Russiese aggressie. Hoewel Rusland se optrede in 2014 onaanvaarbaar was, is daar groter en ingewikkelder historiese vraagstukke wat begryp moet word. Voeg daarby ’n lang geskiedenis van ingewikkelde demografiese en geografiese kwessies en ’n mens besef vinnig dat die huidige konflik deel is van ’n baie ouer konfliksituasie.

 

Aan die een kant het die Oekraïne die reg gehad om hul skepe deur die Kertsj-seestraat te stuur en aan die ander kant het Rusland die reg gehad om die skepe voor te keer. Westerse lande moet verhoed dat die Oekraïne hul betrek by ’n konflik waarin hulle baie min belang het. Anders kan dit tot grootskaalse konflik tussen Navo-lande en Rusland aanleiding gee. Dit is ’n scenario wat niemand wil sien gebeur nie.