Geykte liberale opvattings moet skrum vir plek

Wanneer die een bekende in ’n artikel, brief of rubriek intree vir die een of ander liberale saak, beteken dit nie noodwendig dat hy of sy dieselfde politiek-ideologiese taal as ander sal praat nie. Veral noudat liberalisme wêreldwyd nie as die onafwendbare ideologiese eindbestemming gemanifesteer het nie. So sou dit interessant wees om ander bekende liberale se reaksie op ’n onlangse artikel van prof. Steven Friedman te lees. Friedman het ’n hele paar ideologiese sommetjies gemaak, en die antwoorde klink of hy vir elke som ’n eie wortel gebruik.

“Trump se twiet dui op wit vrees” verklaar hy. Sy sompompie het besluit die som het nie oor belangrike kwessies soos grondroof en die bereddering van ’n ekonomie gehandel nie, maar wel oor wit vrese vir swart mense of hul belange.

Hy besluit ook dit handel nie vir AfriForum oor die feit dat hy homself as ’n burgerregte-organisasie beskou nie, maar dit is in werklikheid ’n drukgroep vir Afrikaanssprekendes wat deur die meerderheidsregering bedreig voel.

Hierna gaan maak hy ’n ewe bisarre draai deur die VSA, Brittanje, Europa en selfs Indië.

Maar dan kom hy nog meer bisar toegerus na Suid-Afrika terug, en dié keer pak hy die kwessie van ras met alles waaroor hy beskik aan. Volgens hom moet ons leer om godsdiens en ander identiteite as minder belangrik as die ekonomieë en die politiek te verstaan.

Die doel met hierdie relaas is egter nie om Friedman se sompompie as verward te beskryf nie, maar bloot om uit te wys dat mense verskillend dink en daarvolgens optree.

Ongebreidelde liberale demokrasieë is nie net moeilik om in stand te hou nie, dis moeilik om te verdedig. Hoe dikwels word die oorbeklemtoning van spraakvryheid nie die stok waarmee ’n ander liberaal se menswaardigheid gelooi word nie? En tog word die onmenswaardige optrede voorgetrek.

Die leemtes is al baie vroeg besef. Die Griekse stadstate met demokrasieë het so min vertroue in die demokrasie gehad dat dit in oorlogstyd ’n outokraat aangewys het om die stad te lei. Met die Wall Street-ekonomiese krisis is Italië feitlik gedwing om Berlusconi met die tegnokraat Monti, te vervang. Dié noodoptrede was geslaag.

Uit die leserskommentare lyk dit of Friedman hoofsaaklik daarin geslaag het om lesers kwaad te maak. Plaasmoorde is nie, soos die Friedman-dampkring graag meld, bloot die Afrikaner se verbeelding nie. Nog ’n leser skryf dat omdat Friedman aan wit vrees ly, moet hy dit nie ook op ander projekteer nie. Jou populistiese ultra-liberale argumente is lagwekkend dog voorspelbaar – as julle nie meer weet waarheen nie speel julle die rassekaart.

Hierdie lesersbydraes is maar net die tippie van die ysberg. Met die skryf hiervan was daar reeds 50 lesersreaksie – nie almal so mak soos die vrae hierbo nie.

’n Stukkie gewilde advies wat Afrikaners nou weer gereeld kry, is om nie laer te trek nie. Dit sal interessant wees om te kyk na die forte wat die mense wat ander teen laertrek adviseer eers vir hul eie veiligheid en lewensstandaard opgerig het voor die advies-uitdelery begin het.