Nuuskommentaar: 4 April

Deur on Apr 4, 2019

Moet ons tevrede wees met die minimum standaard?

In die laaste weke het Suid-Afrika erg deurgeloop onder beurtkrag. Eskom steier van die een krisisbestuur na die ander en nog steeds is daar nie antwoorde nie. Ons ʼn nasie geword wat te dankbaar is as ʼn dag verbygaan sonder kragonderbrekings.  Die vereiste van 100% krag wat 24 uur per dag, 7 dae ʼn week  elke dag van die jaar beskikbaar is ondenkbaar. Eskom het die simptoom eintlik baie duidelik gediagnoseer as dat ons maar met die minimum standaard, middelmatige dienste, middelmatige regering en middelmatige prestasie tevrede geraak het. Ons het die strewe na uitnemendheid al lankal verloor. 

Middelmatigheid is te bespeur in elke sfeer van ons samelewing en kan ons op een hand tel as daar eilande van uitnemendheid te voorskyn kom.

  • Ons sien dit in die swak leierskap wat ons op plaaslike, provinsiale en nasionale sfere van regering ervaar.
  • Ons beleef dit in gebrekkige dienslewering waar sypaadjies nie in stand gehou word nie en slaggate die norm begin raak.
  • Ons sien dit waar moorde en ander ernstige misdaad soms nie meer in die media gerapporteer word nie en indien wel, dit weggesteek word tussen berigte van korrupsie en onbevoegdheid. 
  • Ons sien en hoor dit elke dag as ons teenoor mekaar kla oor die toue mense by die plaaslike lisensiekantoor, binnelandse sake en die poskantoor.
  • Ons skud maar net ons kop as ons hoor dat die begunstigdes van maatskaplike toelaes elke dag meer word terwyl die een werkskeppingsprogram na die ander nie die mas opkom nie en korrupsie en selfverryking toeneem.
  • Ons beleef dit as nog ʼn blouligbrigade een of ander belangrike persoon by die volgende laat afspraak moet kry en in die duurste en mees luukse motors by ons verbyjaag.
  •  Ons uit ons velle is van vreugde as ons sportspanne darem kwalifiseer om na ʼn volgende rondte deur te dring. Ons troos ons darem daaraan dat ons spelers in soveel internasionale spanne kan speel omdat hulle as gevolg van kwotas tuis nie plek kry of eers oorweeg word nie.
  • In ons reeds bedenklike onderwysstelsel word die verlaging van taaltoelatingsvereiste vir ’n BA-graadkursus na 30% allerweë toegejuig terwyl standaarde reeds op skoolvlak verlaag word om dit moontlik te maak.
  • Ons is nie vreeslik bekommerd in die verkiesingsveldtog met ʼn  sukkelende land met 49% werklose jeugdiges (18 tot 34 jaar) nie, maar fokus eerder op emosionele kwessies soos grond en rassisme.

Suid-Afrika het ʼn land geword:

  • waar middelmatigheid nie net meer geduld word nie, maar beloon word.
  • waar uitnemendheid en prestasie die uitsondering word en nie meer die reël is nie.
  • Waar gemiddelde insette met die grootste salarisse en bonusse beloon word as die SABC en ESKOM as kriteria geneem word.
  • Waar prestasie en meriete nie vir bevordering belangrik is nie, maar wel velkleur en politieke konneksies.
  • Waar ons verheug is as die krag aangaan en nie dat dit aanbly nie.
  • Waar die meerderheid van ons staatsinstellings wat noodsaaklike dienste lewer maar gemiddeld is in dienslewering en die dienste al meer geprivatiseer word en al meer onbekostigbaar is.
  • Waar munisipale status gemeet word aan die duurste en spoggerigste motor vir burgemeesters en stadsbestuurders, terwyl hulle munisipaliteite onder hulle in bankrotskap in bestuur word.
  • Waar kandidate op die kieslyste van die regerende party vir almal behalwe vir die party self,  ʼn verleentheid is as gevolg van hulle betrokkenheid in staatskaping, korrupsie en totale onvermoë.
  • Waarin die bedrae ter sprake in die omvang van korrupsie, mense nie meer skok nie en  Ace Magashule se lof nog steeds besing word.   

Die strewe na middelmatigheid moet gesoek word in die kultuur van toe-eiening (entitlement) wat toegelaat is om ons samelewings te oorheers. Kenners beskryf die kultuur van toe-eiening (Culture of Entitlement) as:

  • ‘n Houding waar mense glo dat hulle nie deur verdienste iets hoef te kry nie.
  • Dit is aan hulle verskuldig as gevolg van wie hulle is, nie as gevolg van wat hulle doen nie.
  • In ‘n kultuur van toe-eiening  neem mense dit wat hulle het as vanselfsprekend, bly vra vir meer, en is nooit tevrede nie.
  • Om goed te lyk is meer belangrik as om goed te doen.

Daarom is dit dringend noodsaaklik dat ons moet beweeg na ʼn stelsel van verdienste en meriete in die werkplek en besigheid, verdienste en meriete in die samelewing en verdienste en meriete in die politiek. Meriete vra nie of jy wit of swart is nie. Meriete vra slegs of jy gedrewe  en bevoeg is om die werk te kan doen en uit te blink daarin. Meriete vra nie die kleur van jou vel nie dit vra net is jy die beste in wat jy doen op die sportveld, in die openbare sektor, die privaatsektor, in die politiek en in die kabinet. Slegs meriete en verdienste sal die Suid-Afrikaanse samelewing, insluitende die staatsdiens, verhef tot ‘n aanvaarbare standaard van uitnemendheid waar ons behoort te wees.


Laat 'n boodskap

Laat ń boodskap

Jou e-pos adres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde is gemerk *



Current track

Title

Artist