Bou op die verlede

Dit was oudpres. Paul Kruger van die ZAR wat die raad gegee het dat ons uit die verlede moet neem wat goed is, en die toekoms daarop bou. Goeie raad, Oom Paul, maar watter twee dinge, in ‘n verlede so omstrede en verdeeld soos ons land s’n, is die goeie waarop voortgebou moet word?

Pas kort na die demokratisering van die land het die departement geskiedenis aan die Universiteit Stellenbosch daardie sleutelvraag gevra aan die gerekende Nederlandse historikus Frank Ankersmit van die Universiteit van Groningen. Sy antwoord was dat dit wat Suid-Afrikaners van alle agtergronde in gemeen het, ‘n geskiedenis van lyding is.

Dis ‘n dapper mens wat iemand so gereken soos Ankersmit oor die geskiedenis sal takel, maar ons reken lyding is ‘n bietjie te veel van ‘n passiewe handeling om ‘n toekoms op te bou. As aksiestap wat voortvloei uit lyding, is empatie dan sekerlik ‘n beter lewenswaarde om uit die verlede te haal. Empatie, of meelewing, of deenis, as jy wil, met mekaar se bagasie van die verlede en drome vir die toekoms is trouens glad nie ‘n slegte plek om met die genesing van ‘n verdeelde samelewing te begin nie.

Hoe werk dit? Meelewing beteken dat ons mekaar se belewing so intens sal meemaak dat dit ons eie belewing word. Dit is ‘n proses van gee eerder as neem – om, soos in die Christelike tradisie, jou deernis te gee sonder om te verwag om noodwendig terug te ontvang. Dus: “Wat kan ek by jou leer?”, eerder as “Ja, maar dan moet jy darem nou eers hoor wat ek te sê het.”

Die gee van deernis is nie ‘n wederkerige verwagting nie.

Die tweede lewenswaarde waarmee ons land se geskiedenis ons toerus, is die gewaarwording dat dit nooit te laat is om te probeer nie. Ons land se geskiedenis is deurspek met voorbeelde daarvan dat mens nooit moet moed opgee nie – deur die genade kom daar wel uitkoms as jy vertroue behou.

Dit is ‘n baie positiewe boodskap van hoop uit ons geskiedenis. Daar is tye dat die uitkoms ver en die probleme onoorbrugbaar lyk, maar dit is belangrik om te onthou om op die uitkyk te bly vir geleenthede – om die flonkerende lig in die duister te sien.

Dit is ook die antwoord in hierdie dae, wanneer die retoriek van verskeie leiersfigure in veral die gronddebat wegstuur van die versoenoningsideaal, en waar dit voorkom asof elkeen net hul eie belang op die hart dra en iemand soek om te blameer. As elkeen sy of haar vermoë om te luister eerder as te praat (daarom het ons mos twee ore en net een mond!) behou en daarmee saam sy of haar vermoë tot deernis en meelewing, sal dit met ons land en met ons nasie wel wees. En as elkeen van ons nooit moed opgee nie, maar daagliks ons bes probeer om die beste mense te wees wat ons kan wees, sal mens verbaas wees oor hoe die toekoms kan verhelder in die taaiste van tye