Afrikaners kan in 2018 saam hoop skep

Die geskiedenis van Afrikaners is deurspek met voorbeelde van mense wat onder moeilike omstandighede moed gehou en vasgebyt het en wat deur hoop en harde werk gedryf is om groot uitdagings te oorkom.

Dink maar aan hoe hulle na die verwoesting van die Anglo-Boereoorlog weer opgestaan het om hul plase te herbou of hoe hulle in die depressiejare planne gemaak het om ondanks erge armoede te oorleef.

Afrikaners is vandag weer by ’n kruispad waar hulle as minderheidsgroep uitgeskuif, verwerp en vervreem voel en polities en toenemend ekonomies ontmagtig is.

Maar soos die geskiedenis bewys het, is dit in sulke tye wat die innerlike krag, innoverende denke en ’n oorlewingsdrang Afrikaners nie verlam nie, maar inspireer om hoop vir die toekoms te skep.

Tydens die burgerregte-organisasie AfriForum se afgelope nasionale takkongres, was dit juis die boodskap van hoop wat honderde kongresgangers geïnspireer het om na hul gemeenskappe terug te keer om saam hande te vat en ’n verskil op elke vlak te gaan maak. Tydens die kongres was die boodskap duidelik dat ons self vir ons toekoms verantwoordelik is en dat ons op plaaslikeregeringsvlak moet werk om te sorg dat ons dorpe en stede nie verder verval en agteruitgaan nie. Afrikaners is ook self vir hul eie veiligheid verantwoordelik en daarom is opnuut ’n beroep op mense gedoen om by buurt- en plaaswagte aan te sluit om die veiligheid in hul omgewings te verbeter.

In die woorde van Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum, is ons almal bewus van die uitdagings wat daar is soos druk op Afrikaanse skole, haatspraak en beledigings teen minderhede, paaie wat verval, belastingbetalers wie se geld gesteel en vermors word, waterbronne wat onder druk is, riool wat in die strate afvloei en munisipale dienste wat nie gelewer word nie.

“Al hierdie dinge kan ons baie moedeloos maak. Maar as ’n mens tou opgooi kan dit ’n selfvervullende professie word en kan ons later glo dat ons niks aan ons omstandighede kan doen nie. Ons moenie toelaat dat ons slagoffers van die geskiedenis word nie. Ons moet saam beplan en saam hoopvol bly.”

Afrikaners se oorlewing in die toekoms gaan ook afhang van hoe hulle konsentreer en organiseer om saam sterker te wees.

Flip Buys meen Afrikaners moet verstaan wat hul bestaansvraagstuk is en rondom dit oplossings vir hul probleme kry.

Afrikaners se probleem is nie verdeeldheid, klein getalle, die swak ANC-regering of selfs besluite wat vorige leiers tydens die onderhandelingsproses geneem het nie. Afrikaners se probleem is dat hulle nie ’n eie gebied het wat hulle besit, bewoon en bewerk nie. Hulle is ’n kwesbare minderheid tussen die meerderheid.

Afrikaners se probleem is demografies en daarom is demografiese oplossings nodig. Dit het reeds spontaan begin gebeur met Afrikaners wat nader aan mekaar trek om ’n Afrikaanse lewe te lei. Afrikaners het nog altyd getrek. Van Europa af hierheen, van die Kaap na die binneland. En nou trek hulle na groter dorpe en sentra waar Afrikaners gekonsentreer is. Dit is dié tendens wat vra vir ’n behoorlike strategie wat nou ontwikkel word om in die toekoms die nodige fisiese, maar ook kulturele infrastruktuur daar te stel waarbinne Afrikaners sal kan oorleef.