Lesufi se Onderwysfoefie

Die naam Panyaza Lesufi het in die afgelope maande ‘n bekende naam onder Afrikaanssprekendes in Suid-Afrika geword, of dalk eerder ‘n berugte naam. Meneer Lesufi het hierdie berugtheid verwerf vir sy openlike uitsprake teen enkelmedium Afrikaanse skole, en skole wat nie die nasionale rassedemografie verteenwoordig nie.

By ‘n onlangse vergadering tussen hom en ouers, wat by Hoërskool Montana Noord van Pretoria aangebied is, het meneer Lesufi dieselfde geluide gemaak as tevore, maar hierdie keer met meer dringendheid as by verskeie van sy vorige openbare verskynings. “Hierdie grond is van ons voorvaders gevat, en moet aan ons terugbesorg word” het meneer Lesufi ondermeer gesê.

Die gedagte aan grond wat sonder vergoeding gevat word is alreeds skrikwekkend en finansiële selfmoord vir ʼn land, maar dit is noodsaaklik om te besef dat meneer Lesufi, die LUR vir onderwys in Gauteng, nie hier verwys na die grond van volwassenes, van boere of besigheidspersone nie, hy verwys na sesjarige- en dertienjarige kinders. Net omdat hulle Afrikaans is behoort hierdie kinders nou, volgens meneer Lesufi, benadeel te word. Hierdie benadeling sal juis daarin geskied dat skole nie meer enkelmedium Afrikaans sal wees as sy planne slaag nie, wat sal beteken dat saalopenings, administrasie, en selfs rugby-oefening eweskielik in Engels sal plaasvind, met die fisiese taal van instruksie wat, soos wat geskiedenis ons geleer het, kort op die hakke van administrasie sal volg. So hoe presies gaan dit gebeur?

Tydens sy gesprek by die Hoërskool Montana, wat op 22 Augustus plaasgevind het, het meneer Lesufi verder gegaan as om net te praat oor grondonteiening onder die voetjies van graad eentjies uit, hy het weer die punte van voedingsarea en kapasiteit bespreek, punte waarop hy reeds aan die begin van die jaar in die Hoërskool Overvaal saak bloedneus gekry het. Dit is meneer Lesufi se plan dat sy departement moet kan besluit wat ʼn skool se kapasiteit is, en hoe groot die voedingsarea is. Dit is nodig om te verstaan waarom hy juis hierdie twee aspekte van skole-administrasie in sy eie beheer wil hê.

Eerstens sal die vermoë om ʼn skool se kapasiteit te bepaal vir meneer Lesufi die mag gee om te besluit wanneer ʼn skool vol is of nie. As ons ʼn Afrikaanse skool in Pretoria as voorbeeld gebruik, kan ons sê dat dié skool dalk vas glo dat klasse nie meer as 35 leerders in mag hê nie, en dat hulle dus op, argumentshalwe, 1000 leerders kapasiteit bereik het. Sou enigiemand anders dan aansoek doen, kan die skool hulle weier omdat hulle vol is. As meneer Lesufi egter oornag besluit dat hierdie skool vyftig kinders per klas mag vat, is die skool skielik nie vol nie, en kan nog kinders aansoek doen – al kom hulle uit Hamanskraal, sal hulle maklik binne die nuwe voedingsarea van 30km val vir onder andere Affies, Meisieshoër, of Menlo Park.

Die volgende stappe in meneer Lesufi se plan is uiters voorspelbaar. Sodra die kinders toegelaat is, omdat hulle nie geweier mag word nie, dring hulle aan op Engels in die klas. Binnekort word Engels in die saalopening en by die Rugby-oefening gevra, en as jy weer sien bestaan daar nie meer ʼn Afrikaanse skool nie – siedaar, Lesufi se foefie is kompleet!