Senator McCain vir kleurryke loopbaan onthou

Op 29 Augustus 1936 is John Sidney McCain in Panama gebore waar sy vader in die Amerikaanse vloot diens gedoen het. Verlede week is McCain na ’n kleurryke loopbaan in die ouderdom van 81 oorlede. John McCain sal onthou word vir sy kragdadige teenwoordigheid oor die afgelope meer as drie dekades in die Amerikaanse kongres, eers as lid van die Huis van Verteenwoordigers en daarna as senator vir die deelstaat Arizona.

 

McCain het bekendheid verwerf as ’n vegvlieënier wat tydens die Vietnam-oorlog gevange geneem, gemartel en eers na vyf jaar as krygsgevangene vrygelaat is. Na die oorlog het hy vir ’n tydperk vir die Amerikaanse vloot bly werk totdat hy in 1982 tot die politiek toegetree het.

 

John McCain het altyd groot aspirasies gehad. Hoewel hy as as student by die Amerikaanse Vloot Akademie in Annapolis slegs 894ste uit ’n klas van 899 studente kon eindig, het hy voortgegaan om ’n bekende vegvlieënier te raak. Na die Vietnam-oorlog het McCain geen vordering in sy loopbaan in die vloot gemaak nie, net om met die hulp van goeie kontakte in Washington D.C. en die finansiële bydrae van sy skatryk tweede vrou ’n suksesvolle verkiesingsveldtog in ’n kiesdistrik in Arizona waar hy nooit voorheen gewoon het nie, aan te pak.

 

Kort nadat McCain in 1987 tot die Amerikaanse senaat toegetree het, het die bewerings reeds die ronde begin doen dat hy aspirasies gehad het om homself as presidentskandidaat vir die Republikeinse Party beskikbaar te stel. In ’n harde stryd in 2000 het McCain die nominasie vir presidentskandidaat net-net teen George W. Bush verloor. In 2008 kon McCain uiteindelik daarin slaag om as presidentskandidaat aangewys te word. McCain sou egter voortgaan om teen Barack Obama te verloor.

 

Oor die afgelope jaar of wat was John McCain nie net in die nuus vir sy stryd teen kanker nie, maar ook vir sy afkeur in die huidige Amerikaanse president, Donald Trump. Hy het selfs sover gegaan om Trump te versoek om na sy dood nie sy begrafnis by te woon nie.

 

John McCain se politieke loopbaan sal altyd onthou word vir sy sterk intervensionistiese benadering tot internasionale politiek en sy onvoorspelbare optrede wat partykeer kollegas in sy party verstom het. McCain se stemme ten gunste van liberale regters in die Clinton-era en sy samewerking met Demokrate op verskeie terreine soos die regulering van die finansiering van politieke veldtogte is slegs enkele voorbeelde hiervan.

 

Dit was egter McCain se oorlogslustige benadering tot Amerikaanse optrede in die buiteland wat hom die titel van hoofseun van die intervensioniste besorg het. Hy was ’n groot ondersteuner van die oorloë in Afganistan en Irak en het oor die afgelope paar jaar die Amerikaanse regering aangemoedig om in lande soos Sirië en Libië betrokke te raak. McCain was selfs ’n ondersteuner van Saoedi-Arabië se bloedige oorlog in Jemen en het nog onlangs Amerika aangemoedig om Iran aan te val.

 

McCain het tydens sy lewe ’n duidelike stempel op die Amerikaanse politiek afgedruk. Hy sal vir sy vasberadenheid as krygsgevange en sy onafhanklike denke as verkose verteenwoordiger van sy mense onthou word, maar ongelukkig ook vir sy steun aan mislukte Amerikaanse intervensionisme en sy gereelde afwyking van gesonde konserwatiewe beginsels.