Strooipoppe, korrelkoppe en die nuwe fopnuus

 

Die afgelope week het die vlak van beriggewing en debatvoering in Suid-Afrika `n laagtepunt bereik. Dit het alles begin met `n tweet deur die Amerikaanse president, Donald Trump. In die tweet sê Trump dat hy sy minister van buitelandse sake, Mike Pompeo, opdrag gegee het om die hoë voorkoms van plaasmoorde en berigte van onteiening sonder vergoeding in Suid-Afrika dop te hou. Die plasing het skaars die Twittersfeer getref en joernaliste en sogenaamde meningsvormers in die hoofstroom het teen Trump uitgevaar en hom daarvan beskuldig dat hy op vals inligting reageer. En die skuld vir die sogenaamde vals inligting word voor AfriForum se deur gelê.

Die betrokke joernaliste en meningsvormers sal aan woordvoerders van AfriForum vra waarom hulle vals inligting versprei soos byvoorbeeld dat daar `n volksmoord teen Afrikaners gepleeg word. Hulle sal ook aan AfriForum vra waarom hulle `n lys met plaasname versprei en aanvoer dat dit die lys plase is wat deur die regering onteien gaan word. Die waarheid is egter dat AfriForum nie een van daardie stellings ingeneem het nie. AfriForum het daarop gewys dat `n lys met plaasname wat binne `n regeringsdepartement in hulle besit gekom het en dat hulle dit openbaar gaan maak sodat boere voorbereid sal wees indien dit die lys is wat die regering vir onteiening gaan gebruik. Verder wys AfriForum gereeld op die feit dat boere baie groter teikens is as wat persone in ander beroepe is en dat Suid-Afrika `n hoë voorkoms van plaasmoorde het. Die woord ‘volksmoord’ is nog nie een keer gebruik nie. Die sogenaamde joernaliste en meningsvormers stel dus hulle eie strooipoppe op, dig die standpunte aan AfriForum toe en val die strooipoppe met bloeddorstige aggressie aan.

Tydens `n onderhoud met die 702-omroeper, Bongani Bingwa het die adjunk-uitvoerende hoof van AfriForum, Ernst Roets, herhaaldelik verduidelik dat Bingwa se feite verkeerd is wanneer hy aanvoer dat AfriForum `n volksmoord verkondig. En hoe meer Roets hom tot die bewys daarvan daag hoe meer het Bingwa aangevoer dat dit `n feit is dat AfriForum daardie uitlatings gemaak het en dat dit op rekord is. Bingwa het ook na AfriForum as `n regse organisasie verwys en gesê dat Adam Habib korrek is om na hulle as fasciste te verwys omdat hulle van vals inligting gebruik maak. `n Bewering wat hy nie kan staaf nie. Bingwa is egter nie die enigste joernalis wat hom die laaste tyd aan strooipopargumentering skuldig gemaak het. Ander publikasies het sedert Trump se tweet lustig meegedoen aan die praktyk.

Wat selfs meer tragies is as die feitelik foutiewe bewerings wat die joernaliste en meningsvormers maak is die hardkoppige wyse waarop hulle dit verdedig. In plaas daarvan om organisasies soos AfriForum wat eiendomsreg wil beskerm aan te val behoort hulle eerder diegene wat dit bedreig in die spreekwoordelike visier te kry.

Daar is twee moontlike redes waarom hulle die feite ignoreer en veel eerder met AfriForum as die regering baklei:

  1. Hulle glo werklik dat die regering, en meer spesifiek president Cyril Ramaphosa nooit so ver sal gaan as om eiendom sonder vergoeding te onteien nie
  2. Hulle het reeds vir te lank die sogenaamde Ramaforie verkondig en sy uitsprake (ook oor onteiening sonder vergoeding) verdedig dat dit te vernederend sal wees om nou van standpunt te verander

Wat ookal die rede vir die laaste week se strooipopargumentering mag wees, daar is een feit wat nie ontken kan word nie: Fopnuus is nie meer beperk tot obskure webpublikasies nie.