Kernkrag se peperduur speletjie

 

Wanneer ’n mens gereeld Belgiese, en veral Vlaamse koerante lees, is ’n mens verstom oor die ooreenkomste met Suid-Afrika. Die taalkwessie is lank nie meer die enigste ooreenkoms nie – deesdae kom die raskwessie met eentonige reëlmaat in koerantberigte aan die bod, en wysgerige artikels waarin die raskwessie aangespreek word, probeer sommer oplossings vind.

Kwessies soos kragvoorsiening en van waar België drinkbare water kry, het onlangs ook heelwat plasingsruimte opgeneem.

En nou het kernkrag en die onmoontlike koste daarvan aan die beurt gekom. Om met ’n meetbare syfer te kan werk, is na een aspek van die benutting van kernkrag gekyk, naamlik die berging van lewensgevaarlike kernafval. Tot dusver is beraam dat dit 3,2 miljard euro sou kos – dit is sowat 53,12 miljard rand. Dit is ongeveer dieselfde bedrag as wat Suid-Afrika in sy begrotingstekort probeer vind.

En dit is nog net die beraamde bergingskoste.

Die bedrag is ook nie die amptelike bergingsbedrag nie, en die Nationale Instelling voor Radioactief Afval en Verrijkte Splijtstoffen (Niras), moet hom nog hieroor uitlaat. Niras meen die berging van gevaarlike kernafval kan tussen 8 en 10 miljard euro beloop.

Die hoofrede hoekom die werklike koste in ’n ander orde sal wees, is omdat tot nou aanvaar is dat die berging van die skadelike stowwe in ’n klipharde kleilaag 200 meter diep, veilig genoeg sou wees. Die internasionale norm is egter eerder in die orde van 400 meter, en soms selfs meer as twee keer so diep. En België het geen begeerte om ter wille van kostebesparing veiligheid op die spel te plaas nie – in elk geval nie wanneer met lewensgevaarlike kernafval gewerk word nie.

Dit staan in skrille kontras met Suid-Afrika waar verskeie wetenskaplikes en politici hulle sterk vir kernkrag beywer. Ongelukkig word hul motiewe baie maklik onder verdenking geplaas, enersyds omdat dit met Rusland in verband gebring word wie se hande, so word geglo, nie skoon is nie. So was daar ’n weergawe dat Russe ’n tas vol kontant by Nkandla gaan aflewer het om die tender te verseker om teen miljarde rande etlike kernsentrales in Suid-Afrika te bou. Ontkennings red nie die Russe en Suid-Afrikaners se reputasies nie.

Dit is verbasend hoe dikwels kernkragsentrales deur vulkaniese uitbarstings bedreig word. Met Kilauea se uitbarsting op Hawaii moes ’n Japannese aanleg inderhaas ontruim, en alle skadelike materiaal verwyder word. In 2016 het ’n vulkaan op ’n eiland met ’n kernaanleg uitgebars. ’n Groot kernaanleg is ook deur ’n aardbewing, gevolg deur ’n tsunami, beskadig.

Suid-Afrika hou geen gevaar in wanneer dit by vulkane kom nie, maar ironies is die land es enigste kommersiële kernaanleg by Koeberg naby die Milnerton-verskuiwingsvlak geleë. Dié verskuiwingsvlak het sowat ’n eeu gelede baie groot skade in Kaapstad aangerig.

Hierteenoor is min lande so geskik om sonkrag, windkrag en selfs golfkrag op te wek soos Suid-Afrika.