Eiendomsreg is swart en wit, en die woordspeling is aspris

 

Een van die afgelope week se groot nuusgebeure is die aankondiging deur AgriSA dat die ANC toegewyd is om eiendomsreg te beskerm en dat die regerende party oor die impak wat die proses oor grondonteiening sonder vergoeding het op die ekonomie en beleggersvertroue. Hierdie aankondiging kom nadat die ANC en AgriSA, wat onderskeidelik in 1912 en 1904 gestig is, hierdie week ontmoet het om grondonteiening te bespreek.

 

Na aanleiding van hierdie vergadering het die ANC onderneem om onwettige grondgrype teen te staan en dat grondonteiening nie voedselsekerheid of die ekonomie gaan bedreig nie. Die ANC het verder gesê dat grondonteiening slegs gaan fokus op braak landbougrond. AgriSA glo dat hierdie ondernemings deur die Ramaphosa regering onderstreep dat die ANC toegewyd is om eiendomsreg te beskerm.

 

Die ironie van hierdie stelling is egter lagwekkend.

 

Eiendomsreg kan nie as ‘n relatiewe beginsel nie maar is egter redelik swart en wit. Dit is op hierdie punt dat talle regskenners sal sê dat eiendomsreg nie absoluut is nie, en dat eiendomsreg onderhewig kan wees aan vele beperkings, soos dit die geval is met enige ander reg.

 

Daar is egter ‘n ‘n belangrikke maar deurslaggewende verskil. Eiendomsreg is absoluut tot die mate dat elkeen die reg het om self oor hul eiendom te besluit. Eiendomsreg word eers relatief wanneer die eienaar of individu self en vrywillig hul eie eiendomsreg oor hul eie besittings beperk.

 

Om dus te sê dat die ANC eiendomsreg sal eerbiedig terwyl die organisasie dreig met ‘n ingrypende staatsbeleid, wat die staat by magte maak om eiendom na eie goeddunk te ontneem en te versprei is blatant oneerlik.

 

Dit is gelykstaande aan om te sê dat die reg tot lewe beskerm word ten spyte van die regering wat dreig met wetgewing wat die staat in staat stel om te besluit wie mag lewe en wie mag nie. Om almal dan gerus te stel tydens hierdie hipotetiese scenario, sê die regering dat moorde deur die publiek glad nie geduld sal word nie en dat slegs lewens wat nie tans ‘n bydra lewer nie deur die staat ontneem sal word. Die feit dat hierdie so ontstellend klink beklemtoon hoe ontstellend die aanslag op eiendomsreg in Suid-Afrika is.

Die konsep van natuurlikeregte behels in die eerste plek beskerming teen die staat wat daardie regte wil ontneem. Wat elke individu verder met hul regte maak en hoe hulle dit vrywillig dalk beperk is elkeen se eie saak.

 

Eiendomsreg en die bewaring daarvan teen die staat word eenvoudig of beskerm of dit doen nie. In die sin is eiendomsreg soos swangerskap ‘n binêre konsep. Dit is of dit is nie.Daar is ongelukkig nie ‘n gouelokkies middeweg in hierdie debat nie.