Nuuskommentaar: 1 Maart 2017

Regstelaksie moet reggestel word

 

Mnr Jacob Zuma het in die Parlement gesê dat “regstellende aksie” steeds nodig is om ongelykhede aan te spreek, en dat witmense meer deernis met die armoede van hulle landgenote moet hê. Die ANC sien witmense se houding hieroor as die van ‘n onregverdig bevoordeelde minderheid, wat selfsugtig vasklou aan die voorregte van die verlede, en nie beter geleenthede aan hulle landgenote gun nie.

Maar dis die ANC se kant van die saak, en die party se werklike beweegrede is veel eerder om swart politieke steun met rassewette te verseker. In Afrikaans word hierdie soort wetgewing verkeerdelik “regstellende” aksie genoem, wat ‘n gelaaide propagandawoord is wat homself regverdig. In die praktyk kom dit veel eerder op “rastelling” as regstelling neer, agv die rassekwota’s waarmee dit gedoen word.

Hierdie soort wetgewing het in die VSA begin om minderhede te bevoordeel, wat sowat 15% van die bevolking uitmaak. In Suid-Afrika word dit gebruik om die meerderheid te probeer ophef. Dit beteken dat net sowat 10% wit werkende mense die bevoordeling van 90% van die bevolking moet dra.

Om gestalte te gee aan die gelykheidsbepaling in die Grondwet, is gelykheid in die Wet op Gelyke Indiensneming omskryf as verteenwoordigendheid, gemeet aan gelyke uitkomste in die vorm van rasseverteenwoordiging. Maar daar is ‘n wêreld se verskil tussen gelyke geleenthede en gelyke rasse-uitkomste. Die een is ‘n gelyke wegspring, en die ander is dat almal gelyk by die wenpaal moet uitkom.

Dit is taamlik maklik om rassewette tot voordeel van ‘n minderheid toe te pas in ‘n groeiende ekonomie waar meer geleenthede vir almal geskep word. Dit is heeltemal ‘n ander saak om ‘n groot meerderheid in ‘n krimpende arbeidsmark te probeer ophef. Daarom is die groot risiko dat regstellende aksie daartoe kan lei dat 80% wit mense daardeur benadeel kan word, terwyl hoogstens 10% van swart mense daardeur bevoordeel sal word. Dit laat die res met onvervulde verwagtinge en ‘n gevoel van verontregting.

Dis te verstane dat die regering ná 1994 meer geleenthede aan swartmense wou gee, en ‘n regstellende aksie wou gebruik om ongelykhede reg te stel. Die probleem is dat daar onder die vaandel van regstelling ‘n hele arsenaal praktyke ingespan word wat wissel van noodsaaklike opleiding tot onaanvaarbare diskriminasie. Maar die opheffing van die swart meerderheid hoef nie ‘n zero som te wees, waar bevoordeling van een groep net kan geskied deur ‘n ander groep terselfdertyd te benadeel nie. Waarom moet die Suid-Afrikaanse model die enigste metode wees om die geldige doelwitte van swart opheffing te bereik? Waarom moet jong wit mense wat nooit deur apartheid bevoordeel is nie, nou benadeel word? Waarom moet ‘n nuwe geslag swart mense wat nooit benadeel is nie, nou bevoordeel word? Hoe kan gevalle van omgekeerde apartheid geregverdig word deur dit net “regstelling” te noem?

Die aanstelling van mense bloot op grond van rasseteikens, lê aan die wortel van die verswakking van die staat, tot op die punt waar daar nie meer doeltreffende dienste aan die burgery gelewer kan word nie.