fbpx

Nuuskommentaar: 2 April

Deur on Apr 2, 2019

Verkiesingsuitslae as barometer in ’n snelveranderende wêreld

Behalwe vir Suid-Afrikaners wat volgende maand na die stembus gaan, is die 2019-kalender volgepak met interessante verkiesings. Drie verkiesings het die afgelope naweek plaasgevind en in al drie gevalle het dit belangrike gevolge vir streeks- en selfs internasionale politiek. Die belangrikste van die drie was die plaaslike verkiesing in Turkye. Sedert ’n nuwe presidensiële stelsel verlede jaar in Turkye in werking getree het, bestaan daar vrae oor die gesondheid van die Turkse demokrasie.

Recep Tayyip Erdoğan regeer sedert 2003 in Turkye. Weens ’n sterk ekonomie kon Erdogan oor die afgelope vyftien jaar voortdurend nuwe politieke mandate by kiesers kry en meer en meer mag vir homself toeëien. In 2017 was Turkye nog die vinniggroeiendste ekonomie onder die G-20 lande. Deesdae het die land enorme ekonomiese probleme.

Hoewel Erdogan se Regs- en Ontwikkelingsparty steeds die gewildste party in Turkye is, het hulle in die naweek se verkiesing die burgemeestersposisie in talle belangrikste stede soos Ankara en Istanbul en Antalya verloor.

Erdogan en sy party het oor die afgelope paar jaar ’n harder Islamitiese hoek begin volg en het stelselmatig hul fokus weg van die Weste verskuif. Dit alles terwyl Turkye ’n groot vlaag van sekularisering beleef en die meeste jongmense in Turkye pro-Westerse gesind is. Erdogan sal eers weer in 2023 op die stembrief verskyn en sy party het ’n baie groot meerderheid in die Turkse parlement, maar die naweek se verkiesing het getoon dat genoeg Turke bereid is om ’n waarskuwing aan Erdogan te rig.

Nie ver van Turkye af nie, eintlik net anderkant die Swartsee, het kiesers in die Oekraïne selfs nog ’n harder boodskap vir politieke leiers gehad. Die komediant, Volodymyr Zelensky, het die eerste rondte van die land se presidentsverkiesing gemaklik met byna ’n derde van die stemme gewen. Die sittende President, Petro Poroshenko, het skaars tweede geëindig met minder as 18% van die stemme. Die Oekraïne is die tweede armste land in Europa en strompel reeds vir jare voort van die een krisis na die ander. Korrupsie, die probleme met geweld in die ooste van die land en die voortdurend getoutrekkery tussen die Weste en Rusland het kiesers in dié land so kwaad gemaak dat hulle vir ’n komediant met geen politieke ervaring gestem het nie.

In Slowakye het ’n liberale politikus, Zuzana Caputova, die presidentsverkiesing in haar konserwatiewe land gewen. Hier het die kiesers ’n waarskuwing aan konserwatiewe politici gerig dat korrupsie nie geduld sal word nie.

Verlede maand se provinsiale verkiesing in Nederland het ’n harde waarskuwing aan die huidige regeringskoalisie gestuur dat die huidige vlakke van immigrasie en die omvang van die politieke burokrasie nie meer geduld sal word nie. ’n Nuwe regse party het van nêrens gekom en eerste geëindig.

Terwyl ’n mens nie te veel in enkele verkiesingsuitslae moet lees nie, is dit tog in Europa en ook elders, soos Turkye, duidelik dat kiesers toenemend bereid is om uit protes te stem in ’n wêreld waar meer en meer mense voel politici luister nie na hulle nie. Die Europese verkiesing volgende maand gaan waarskynlik ’n voortsetting hiervan wees. Die protesstem in Suid-Afrika se nasionale verkiesing gaan moontlik ook hoër as in die verlede wees.


Laat 'n boodskap

Laat ń boodskap

Jou e-pos adres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde is gemerk *



Current track

Title

Artist