Nuuskommentaar: 14 Maart

Deur on Mrt 14, 2019

Afrikaners moet konsentreer, nie ontbind deur inlywing by die meerderheid

Die afgelope tyd was Afrikaanse doemprofete weer in sak en as oor die toekoms van Afrikaners. Hulle gebruik verkeerde statistieke om ‘n vooropgestelde prentjie van demografiese ondergang te regverdig. So word dan gesê dat Afrikaners te min is om voort te bestaan, waarna hulle weereens voorstel dat Afrikaners hul bestaan moet ophef en eerder in ‘n groter meerderheid moet opgaan.

Hierdie toekomsbeeld van kulturele selfmoord besiel niemand met hoop nie. Dit is boonop verkeerd en hou nie rekening met die werklikhede nie. Die Solidariteit Navorsingsinstituut het verlede jaar oortuigend aangetoon dat Afrikaners se grootste probleem nie ons klein getalle is nie, maar ons yl verspreiding. Daar is meer Afrikaners as die onderskeie bevolkings van Botswana, Lesotho, Swaziland, Namibië, Slowenië, Estland, Letland en vele ander. Ons uitdaging is nie dat ons minder word nie, maar dat ons ’n kleiner persentasie van die groter meerderheid word.

Afrikaners se bestaansprobleem is ons yl verspreiding, wat daartoe lei dat ons oral dieselfde probleem van oorheersing en die gevolglike swak regering het. Daarom is dit nodig om te kyk hoe ander klein volke dit reggekry het om hulle toekoms te verseker.

Die Duitsprekende minderheid in die provinsie van Suid-Tirool in Italië bly een van die beste voorbeelde van hoe ‘n klein gemeenskap homself nou al ’n eeu lank suksesvol handhaaf. Die Tirolers is ’n skrale 0,6% van die Italiaanse bevolking van 60 miljoen, maar tog is hulle nie ’n magtelose minderheid nie. Hulle het volledige interne outonomie, hul eie provinsiale regering, en kry sowat 75% van hul eie belasting om dienste aan hul mense te lewer.

Maar hoe kry die Tirolers dit reg, aangesien hulle ’n skamele 360 000 mense is? Die groot geheim van die Duitste Tirolers is dat hulle nie wyd verspreid oor Italië woon en oral in die minderheid is nie, maar dat hulle gekonsentreerd in die provinsie Suid-Tirool bly. Daar vorm hulle 70% van die bevolking. Die Tirolers het besef dat die enigste oplossing vir ’n klein bevolking is om homself in ’n bepaalde gebied te konsentreer. ’n Verspreide minderheid kan homself nie blywend handhaaf midde in ’n groeiende meerderheid met ’n moeilik versoenbare kultuur en ideologie nie.

Die meerderheid gaan maar altyd in die versoeking wees om ’n presterende minderheid se bates te vat, sy instellings oor te neem, en hierdie minderheid te blameer vir hul eie mislukkings. Daarom bly dit roekeloos onverantwoordelik van ’n minderheid om vir hul toekoms staat te maak op die verdraagsaamheid van die meerderheid. Geen grondwet, politieke stelsel, hof of selfs militêre mag kan ’n maglose minderheid blywend verskans teen die gevolge van die oorheersing van die meerderheidsgroep nie. Die top opgeleide deel van die minderheid gaan bloot na veiliger en gelyker weivelde begin emigreer.

Die grootste uitdaging vir Afrikaners is dat ons nie ’n natuurlike Tirool, Skotland of Lesotho het waar ons ’n natuurlike meerderheid is nie. Dít is ons bestaansuitdaging, nie ons getalle nie. Daarom is die oplossing groter konsentrasie, nie selfmoord deur inlywing by ’n groter groep nie.


Laat 'n boodskap

Laat ń boodskap

Jou e-pos adres sal nie gepubliseer word nie.Verpligte velde is gemerk *



Current track

Title

Artist