Nuuskommentaar – 14 Februarie

Deur on Feb 14, 2019

Die DA se onderrok skyn steeds deur

Omtrent ‘n maand gelede is die Suid-Afrikaanse politiese sfeer op sy kop gekeer deur die bedanking van die Demokratiese Alliansie se hoof van beleid, Gwen Ngwenya.  Alhoewel die redes wat sy vir haar bedanking aangevoer het skokgolwe deur die DA se interne strukture moes stuur, sou die optimis, en selfs die realis, glo dat die DA nog kon herstel van die skade wat sy beeld in die openbare domein gelei het.

In die afgelope week het daar nog ʼn duidelike kinkel in die DA se verkiesingskabel na vore gekom, een wat die potensiaal het om nie net die stemmers van die party te vervreem nie, maar ook om die party in die middel deur te verdeel.  Hierdie kinkel is die DA se benadering tot, en beleid oor Swart Ekonomiese Bemagtiging.

Verlede jaar het die DA aan die publiek bekend gemaak dat hulle Swart Ekonomiese Bemagtiging, of SEB, as model verwerp, en ʼn beter manier wil kry om bemagtiging te bewerk.  Die DA se leier, Mmusi Maimane, het op 12 Februarie vanjaar duidelik gestel dat SEB, soos wat die ANC dit beoefen, lei tot korrupsie en veroorsaak dat die rykes ryker word.  ʼn Realistiese volgende vraag sou dan nou wees, waarmee wil meneer Maimane hierdie stelsel vervang?  Dit is op hierdie punt dat die kinkel in die kabel duidelik te voorskyn kom.

“Ek soek ʼn SEB wat meer mense insluit.  Ek soek meer swart Suid-Afrikaners, en meer swart studente wat voordeel trek.” het hy aan ʼn Engelse Radiostasie (702) vertel.

In reaksie op meneer Maimane se opmerkings het Frans Cronjé genoem dat die DA ʼn gevaarlike speletjie speel, omdat hulle voorgee om SEB teen te staan, maar steeds openlik in hul beleid velkleur as voorwaarde vir minderbevoorregting neem.

ʼn Mens kan nie anders nie, as om te wonder wat presies die DA se standpunt oor hierdie kwessie is.  Om openlik teen die idee van ras as voorwaarde vir sekere voorregte en geleenthede in te gaan sou edel wees, en aanvanklik het dit geklink asof die DA neig na hierdie tipe meritokrasie – waar jou vermoë meer tel as jou velkleur.  Dit kom nou ongelukkig voor asof hierdie aanvanklike gedagte net lippediens was, miskien met die idee om ʼn kerndeel van hul kiesers, die wat deur SEB benadeel word, te verloor ondanks beleidsonsekerheid nie.  Dit kom voor asof die DA op een of ander manier die praktyk van Swart Ekonomiese Bemagtiging wil verander, maar nie werklik ʼn beleidsposisie wil inneem wat hierdie rasgebaseerde benadering verwerp nie.

In samevatting kan die DA se posisie op die politiese spektrum eintlik met simpatie bejeën word – aan die een kant wil hulle nie hulle klassiek-liberale stemmer verloor nie, dus kan hulle nie op hulle kernwaardes kompromitteer nie, aan die ander kant probeer hulle om ʼn jonger, nuwer stem te trek, wat dalk meer links neig, en utilitariese beleide soos SEB aanhang.

Dit is hierdie kommentator se mening dat die DA moet besluit aan watter kant van die draad hy staan – want tyd om mense oor te wen, raak maar min…


Laat 'n boodskap

Laat ń boodskap

Jou e-pos adres sal nie gepubliseer word nie.Verpligte velde is gemerk *



Current track

Title

Artist