Nuuskommentaar: 12 Februarie

Deur on Feb 12, 2019

Nuuskommentaar: 12 Februarie 2019

So neem jy eienaarskap van jou geskiedenis en jou toekoms 

Op 16 Desember 1913 word die beeldegroep by die Vrouemonument onthul. Die monument is, soos baie monumente van daardie tyd, opgerig met klein bydraes uit die volk. `n Verarmde volk met die vernietiging van die oorlog nog vars in hulle gedagtes. Daar kan maklik gevra word waarom hulle bereid was om die bietjie wat hulle het op te offer om `n monument op te rig wat as `n ewige herrinnering sal dien van `n tyd wat hulle dalk eerder sou wou vergeet. En dit boonop onder `n vyandige regering.

Die FAK het onlangs `n projek geloods wat ten doel het om drie nuwe beelde te laat maak wat deur Afrikaners self gefinansier word. Die beelde wat beplan word is ‘Die Penkop’, wat moontlik by Doornkloof in die Vrystaat opgerig gaan word; ‘Sorg’, wat ’n kampsuster in ’n konsentrasiekamp uitbeeld en wat 13 Oktober in Irene-kamp onthul word; en die N.J. van der Merwe-beeld wat Vrydag by die FAK se hoofkantoor in Pretoria onthul is. Van der Merwe was die eerste hoofleier van die Voortrekkers.

Vandag is daar seker ook diegene wat vra waarom ons monumente en beelde oprig in onseker omstandighede soos die. Hoekom belê in erfenisstukke terwyl soveel Afrikaners apaties raak en sommige oorsee gaan? Hoekom bou onder `n regering wat met hul optrede wys dat hulle nie die Afrikaner goedgesind is nie.

Na afloop van die Anglo-Boereoorlog was Afrikaners se moraal op `n laagtepunt. Dit was nie maklik om terug te keer na afgebrande plase met die karkasse van vee wat op groot skaal deur Britse troepe doodgeskiet is nie. Baie het weggestap van trane in die aarde wat `n klein kissie bedek. Sommige met berge skuld. Daar was vrouens wat uit die hekke van die konsentrasiekamp gestap het met letsels wat hulle tot hul dood sou saamdra. Daar was mans wat dae gelede nog moes toekyk hoe `n boesemvriend voor hulle gewond word en eers dae later aan hulle wonde beswyk. Tien jaar later het genesing nog nie gekom nie maar die wonde was bietjie dieper weggebêre. Soos grond wat jaar na jaar `n dikker laag vorm en die verborge item `n bietjie dieper wegsteek. Toe sommige dus begin praat van monumente oprig was daar sekerlik diegene wat nie wou onthou nie en die wat wou weet of dit enigsins van waarde sou wees.

Soos meer as `n 100 jaar gelede kan die antwoord vandag steeds geld: Want ons moet onthou. Deur te onthou weet ons wie ons is en waar ons vandaan kom. Deur monumente op te rig anker ons dieper aan die plek, dieper aan die kontinent en kan diegene wat dalk in die raadsale regeer aanhou sê, tot hulle blou in die gesig is, dat ons nie hier hoort nie. Ons weet van beter. Ons wortels bewys hulle verkeerd. En deur eienaarskap te neem van ons verlede wys ons dat ons toekoms ook hier lê.


Laat 'n boodskap

Laat ń boodskap

Jou e-pos adres sal nie gepubliseer word nie.Verpligte velde is gemerk *



Current track

Title

Artist