Nuuskommentaar – 11 Februarie

Deur on Feb 11, 2019

PRETORIA FM: NUUSKOMMENTAAR – 11 Februarie

Oliekolonie

Teen dié tyd is pres. Cyril Ramaphosa se staatsrede van verlede Donderdagaand reeds voos bespreek. Menings daaroor wissel van goed tot swak, en boonop ook nog dié wat meen dit sou goed gewees het as die ANC nie ’n kwart eeu se geskiedenis van planne het, maar struikel met die uitvoering daarmee nie. Of die geld daarvoor verdwyn eenvoudig.

Maar een aspek het nie die aandag gekry wat dit verdien nie – die olie- en gasvonds wat op die Brulpaddabank suid van Plettenbergbaai gevind is.

Dit is in enige geselskap minstens ’n beduidende vonds, wat Suid-Afrika se ekonomie ’n gedaantewisseling kan laat ondergaan.

Natuurlik sal daar, soos met die staatskapingsage, mense wees wat ook gaan kyk waar hulle kan tap aan die geldjies wat gaan instroom, en gaan soek na diegene wat daarvoor omgekoop moet word. Maar miskien het die staatskaping-episode genoeg mense laat wakker skrik.

Inligting oor die vonds het enkele dae voor die aankondiging in die staatsrede deur mediaberigte bekend geword. Kort voor die staatsrede het die deuntjie egter effens verander, en blyk dit dat dit nie so ’n watwonderse olievonds is nie, maar wel ’n groot gasvonds. Nog verskeie toetsboorgate moet gesink word om ’n meer presiese idee van die omvang te bepaal.

Maar voor die entoesiasme te veel verdamp, daar is sterk aanduidings van groot olievelde see-in van Port-Elisabeth en die kus van KwaZulu-Natal. Beduidende gasreserwes is reeds aan die Weskus gevind.

Hoewel die huidige vonds minder as ’n 100 meter onder die see-oppervlak ontdek is, is tot op ’n diepte van  3,4 kilometer geboor om ’n idee van die omvang van die fonds te kry. ’n Taamlike akkurate skatting kan gemaak word deur die bestudering van plate met radarfotos.  Die vertolking van hierdie foto’s vereis baie ondervinding want vir die nuweling lyk dit net na ’n klomp kolletjies wat lukraak voorkom. Olie kom gewoonlik onder ondeurdringbare plate voor wat soos onderstebo papborde lyk. Die holte daaronder is met poreuse materiaal gevul  wat die holte onder die bord gevul het. Die olie en gas kom dan hierin voor. Hoe meer deurlatend die rots is, hoe vinniger kan die olie onttrek word. Maar dit kan net akkuraat bepaal word deur boorwerk.

Die aanvanklike berigte het gelui dat die veld, waar die see 1 500 meter diep is na verwagting tussen 500 000 miljoen en ’n miljard vate olie sal lewer.

Die tegnologie om sulke diep boorgate so diep onder die see te kan boor het maar betreklik onlangs ontwikkel, en nadat dit ontwikkel is, was diep boorgate besonder duur. Toe die olieprys ’n aantal jare gelede tot $130 dollar per vat gestyg het, het dit vir Maleisië lonend geword om olievelde wat baie diep is, te ontgin. Die prys het daarna meer tot in die omgewing van $40 per vat gedaal. Vandag is die diepste oliegat sowat 13 kilometer diep.

Dit gaan sowat tien jaar neem om die Brulpaddaveld in produksie te kry, en daar is dus ’n geringe kans dat die olieprys met die voltooiing van die ontwikkeling onlonend kan wees, soos as ‘n skoon goedkoper plaasvervanger vir petrol en diesel ontwikkel sou word.

Intussen kon ‘n groter ophef tot ‘n verhoogde optimisme onder Suid-Afrikaners gelei het. Buitelandse beleggers sou aflei dat hul beleggings veilig behoort te wees.

Dit kan ook daartoe lei dat die regering se fokus op skaliegas-ontginnig in die binneland afgeplat raak. Dit is egter nie vanselfsprekend nie. In Argentinië probeer die regering hard om eksplorasie ter see aan te moedig, maar sukkel omdat beleggers se oë gefokus bly op ‘n reuse skaliegasreserwe op land.


Laat 'n boodskap
  1. Janine   On   Feb 12, 2019 at 9:40 am

    Hierdie gas is nie suid van Plettenberg gevind nie, maar suid van Mosselbaai. Ek weet nie hoe lyk die omgewing nadat die olie onttrek en infrakstruktuur gebou is nie. Die Weskus se mense het reeds kapsie gemaak daar by hulle. Hier in Mosselbaai is daar ‘n besondere skeptisisme omdat daar al duisende gate in die see gesink is – en niks gevind is nie! Ons weet nie wat die impak op ons mooi en gewilde dorp as toeriste-oord gaan wees nie. Dalk kan julle ons meer hieroor vertel.

Laat ń boodskap

Jou e-pos adres sal nie gepubliseer word nie.Verpligte velde is gemerk *



Current track

Title

Artist