Kan die regte pres. Cyril Ramaphosa nou asseblief opstaan?

 Kan die regte pres. Cyril Ramaphosa nou asseblief opstaan?

Dit is die versugting van ‘n menigte denkende Suid-Afrikaners, want die jaar is nie eens twee weke oud nie maar die bontpratery van die staatshoof het reeds nuwe dieptes bereik.

Drie voorbeelde uit hierdie week alleen, tydens Ramaphosa se besoek en openbare vergaderings in KwaZulu-Natal, is spesifiek pertinent, en is aanduidings van die manier waarop hy voortgaan om sy gehoor se intelligensie te onderskat.

Eerstens is daar die grondkwessie. Tydens ‘n toespraak hierdie week voor die KwaZulu-Natalse jeugliga voer hy populisties aan dat onteiening sonder vergoeding gaan plaasvind, of mense nou daarvan hou of nie. Groot gejuig deur die onmiddellike gehoor, en dis nou ook nie die eerste keer dat hy die lekker sin kwytraak nie.

Maar dink hy mens is onbewus van wat hy vir beleggers en buitelandse diplomate sê, en dat dit die absolute teenoorgestelde is? Kan hy, as dit dan sy erns is, asseblief vir ons inlig hoe presies hy dit wil doen? ‘n Meerderheid vir ‘n wysiging in die Grondwet gaan hy nie sommer kry nie – die DA sal hom nooit steun nie en die EFF ook nie, so hy kom die stemme kort. So wat bedoel hy nou eintlik? Dis sedert Augustus dat hy nou al op groot skaal teenstrydige praatjies vir die vaak maak. Kan die regte Ramaphosa nou opstaan?

Dan is daar die kwessie van gratis tersiêre onderwys. Ramaphosa weet dis onbekostigbaar en onwerkbaar. Maar in dieselfde week dat sy eie minister van hoër onderwys en opleiding, Naledi Pandor, gewaarsku het dat die veiligheidsmagte ingeroep gaan word teen enige studente wat registrasie ontwrig of regulasies oortree (hoewel sy dit nie uitgespel het nie, beteken dit in hierdie geval dat hulle hul registrasiegeld moet betaal.

Nou hoe strook dit? Kan die regte Ramaphosa nou opstaan, asseblief?

En dan is daar sy huldiging aan wyle Peter Mokaba, in lewe leier van die ANC-jeugliga. Ramaphosa meen elke lid van die jeugliga moet elke oggend in die spieel kyk en vir hulself afvra: “Is ek Peter Mokaba?”, met die klaarblyklike veronderstelling dat hulle daarna moet strewe om “ja” te kan antwoord.

Dis nou dieselfde Peter Mokaba van “Kill the boer, kill the farmer”-faam teen wie se verdelende optrede Ramaphosa in die tyd van die grondwetlike ondderhandelinge en daarna stewig standpunt moes inneem – en ingeneem het. Nou gaan hy aan asof ons dit nie weet nie. Nou hemel hy Mokaba op asof dit nooit gebeur het nie. Nou onderskat hy ons intelligensie: Kan die regte Ramaphosa opstaan, asseblief.

Wat Ramaphosa met al sy dubbelpratery waarskynlik nie besef nie, is dat dit sy eie geloofwaardigheid is wat skade ly. Hy het sy klakkelose napraters, maar die meeste kiesers is nie so dom nie. Hulle weet hy praat met ‘n gesplete tong, soos ‘n slang. Politieke geloofwaardigheid is ‘n kosbare bate – as dit eenmaal verlore is, kan dit nooit weer herwin word nie. Dit sal die president nog leer.

Jy kan, per slot van rekening, nie almal die heeltyd om die bos lei nie.