Met geweld

Hierdie week het die onwelkome terugkeer van liggaamlike geweldpleging na die Nasionale Vergadering plaasgevind, met die EFF-LP Nazier Paulsen en die Agang-LP Andries Tlouamma wat albei tydelik uit die liggaam geskors is, nadat hulle gister tydens presidensiële vraetyd in ‘n vuisgeveg betrokke geraak het.

Dit is ongelukkig nie die eerste keer dat ‘n vuisgeveg tussen Suid-Afrikaanse parlementslede uitbreek nie. Die eerste keer was in September 1998 toe ‘n LP van die ANC, Johnny de Lange, kort na die verdaging van ‘n debat vir dr. Manie Schoeman van die Nasionale Party toegetakel het. Vreemd genoeg het De Lange (wat uiteindelik adjunkminister van justisie sou word en tans getroud is met die adjunkminister van binnelandse sake, Fatima Chohan) en Schoeman later as partygenote in die Nasionale Vergadering gedien nadat Schoeman by die ANC aangesluit het.

Sedert 2014 en die koms van die EFF na die parlement kom liggaamlike geweld al meer voor. Dit het veral gevolg op EFF-parlementslede se onwilligheid om die raadsaal te verlaat wanneer die voorsittende beamptes hulle beveel om dit te doen. Daardie onwilligheid was die aanloop tot die aanstel van die sogenaamde withemde – uitsmyters oor wie se rol en arbeidsregtelike indiensnemingsproses vele vrae gevra word – deur die parlement.

Die verskil tussen hierdie week se geweld en die geweld sedert 2014 is dat die geweld in die verlede tussen die ANC-bestuurde owerhede en die lede van die opposisieplaasgevind het, met die laagtepunt die keer toe die withemde die 63-jarige EFF-LP mev. Reneilwe Mashabela se kakebeen gebreek het. Hierdie week was die geweld tussen opposisielede onderling.

Sulke gebeure opper die vraag of ons wetgewers en volksverteenwoordigers die waardes van ons samelewing – en onsself – reflekteer. Eenvoudig gestel: Wanneer is liggaamlike geweld en vuisslanery ‘n aanvaarbare manier om meningsverskille te besleg?

Vir baie Suid-Afrikaanse ouers bly die mag van die vuis ‘n aanvaarbare oplossing. Mens siwn dit selfs in die vermaakwaarde wat so ‘n parlementêre vuisgeveg vir baie Suid-Afrikaners inhou. Heimlik geniet hulle dit.

Dit is dalk nodig dat diesulkes selfondersoek doen. Hoeveel van die geweldsmisdaad en geweldskultuur in ons land (insluitend huishoudelike en ander geslagsgeweld) kan voor die deur gelê word daarvan dat ons nie van kleins af geleer word dat geweld ‘n onaanvaarbare manier is om geskille te besleg nie?

Wat dit beteken, is dat die ou waarheid steeds steek hou: As jy ‘n vinger wys na ‘n ander, wys drie vingers so gereeld terug na jou toe. Laat elkeen wat die vinger wys na ‘n ander oor geweldadige gedrag, hom/haarself afvra: Wat doen ek persoonlik om geweld as oplossing pro-aktief te verwerp?

Suid-Afrika en die wêreld kan net ‘n beter plek wees as ons kies om ons verskille op ‘n beskaafde en vreedsame wyse te besleg. Maar niks gaan gebeur as ons altyd wag vir die ander een om die eerste skuif te maak nie. Die beste begin is in ons huise en ons handel en wandel, om voor ons eie deur te vee in belang van ons gemeenskap, maar ook uiteindelik in belang van ons eie verbeterde sieleheil.