fbpx

Nog meer politieke onsekerheid in Israel

Deur on Sep 27, 2019

Nuuskommentaar: 23 September

Terwyl verlede week se verkiesing in Israel grootliks ‘n referendum oor die voortsetting van die politieke loopbaan van Benjamin Netanyahu was, het die verkiesingsuitslag geen duidelike resultaat gelewer nie.

Presies hoe die volgende Israeliese regering gaan lyk is onduidelik en of Netanyahu enigsens deel daarvan gaan wees is selfs meer onseker. ‘n Regse meerderheidsregering is na die verkiesing onmoontlik en Netanyahu het dit self erken. Sy voorkeur nou is ‘n regering van nasionale eenheid waarin hyself die leiding neem as Eerste Minister of waarin die posisie van Eerste Minister tussen homself en die ander groot party van Israel, Die Blou en Wit Beweging van Generaal Benny Gantz afgewissel word. President Reuven Rivlin verkies ook die laaste opsie.

Hoewel Israel oor baie dekades bekend is vir moeilike koalisievorming en gereelde nuwe verkiesings, lyk dit tog of die situasie tans selfs meer ingewikkeld as in die verlede is. Die eerste rede hiervoor hou juis met Netanyahu se nalatenskap verband. Oor die afgelope paar jaar, maar veral tydens vanjaar se twee verkiesings, het Netanyahu sy politieke opponente sodanig vervreem dat baie van hulle nie met hom wil saamwerk nie. Daar begin ook toenemend stemme in sy Likud-party na vore kom wat vra dat hy as partyleier vervang moet word.

Die tweede drywer van politieke …. in Israel is die toenemende verdelingslyne tussen ortodokse Joodse groepe en die sekulere partye. Verder het die kloof tussen Jode en Arabiere tydens die Netanyagu-era ook dramaties vergroot. Arabiese party het vanjaar bymekaar gekom en kon in verlede week se verkiesing daarin slaag om sowat 20% van die stemme op hulle te verenig en om daardeur die derde grootste groep in die Israeliese Parlement, die Knesset, te word.

Avigdor Lieberman, ‘n voormalige minister van verdediging in Netanyahu se kabinet het verlede jaar na sy bedanking, sy eie party, Yisrael Beiteinu, opgerig en die party het in verlede week se verkiesing sterk steun geniet. Netanyahu het egter tydens die verkiesingsveldtog vir Lieberman van linkse politiek beskuldig en die twee gaan moeilik weer in ‘n koalisieregering saamwerk. Lieberman se party volg ‘n harde nasionalistiese benadering, maar is ook sterk sekuler wat veroorsaak dat hy nie met die ortodokse Joodse partye, wat tot nou saam met Netanyahu regeer het, wil saamwerk nie.

‘n Verdere struikelblok vir die vorming van ‘n nuwe regering in Israel is die korrupsieklagtes teen Netanyahu. Weens die onsekerheid oor sy politieke toekoms het hy ‘n paar dae gelede selfs sy deelname aan die jaarlike Algemene Vergadering van die Verenigde Nasies in New York afgestel.

Dit alles laat Israeliese politici met min keuses. Eerstens kan Likud vir Netanyahu uit die leierskapsposisie stoot en ‘n nuwe leier aanwys wat vir Gantz of Lieberman meer aanvaarbaar is. Dat sal beteken dat die party steeds deel van ‘n regering sal uitmaak. Die alternatief is dat Gantz probeer om ‘n koalisieregering sonder Likud te vorm, maar daarvoor sal hy met ‘n kombinasie van verskeie Ortodokse Joodse partye, Lieberman se party en selfs die Arabiese groep moet saamwerk. So ‘n opsie lyk ook moeilik bereikbaar. Die laaste opsie is natuurlik ‘n derde verkiesing vroeg in 2020.

Politieke onsekerheid is iets waaraan Israel gewoond is. Die uitdagings van konflik in die Midde-Ooste, Hezbollah se rol in Libanon en die voortdurende bedreiging uit die Gaza-strook is egter vraagstukke wat dringende aandag verlang.


Laat 'n boodskap

Laat ń boodskap

Jou e-pos adres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde is gemerk *



Current track

Title

Artist