Na verkiesing steeds min hoop vir Griekeland

Deur on Jul 10, 2019

Nuuskommentaar: 10 Julie

Griekeland het na Sondag se parlementêre verkiesing ‘n nuwe regering met ‘n nuwe Eerste Minister. Kyriakos Mitsotakis het tydens die afgelope verkiesingsveldtog met ‘n boodskap van hoop, onderneem om die land uit die depressie van staatskuld, werkloosheid en die vernedering wat die Grieke die afgelope paar jaar moes beleef, te neem.

Griekeland bly ‘n plek van groot kontras. Voornemende toeriste sien prentjies van Griekse eilande, witgekalkte huisies, helderblou baaie, wit strande wat in die laatmiddag son bak, Mediterreense seekos en natuurlik die tempelruïnes van Athene.

Histories het Griekeland vir Westerlinge groot betekenis as die geboorteplek van die Westerse beskawing. Ons dink aan Westerse filosofie, beeldhoukuns, argitektuur en literatuur. Die Griekse stadstate word vandag nog as die geboorteplek van die Westerse demokratiese regeringstelsel beskou.

Tog is Griekeland ook die land van hemelhoë staatskuld, korrupsie en ‘n krimpende ekonomie. Sedert die Griekse skuldkrisis in 2009 ontstaan het, het die land van een krisis na die ander gestrompel. Terwyl sterk besparingsmaatreëlings deur Europese owerhede op Griekeland afgedwing is en die land met lenings sy skuld kon herstruktureer, het Griekeland se ekonomie met omtrent ‘n kwart gekrimp en is werkloosheid steeds bo 18 persent. Jong, opgeleide Grieke verlaat die land in groot getalle.

Die skuldkrisis het tot meer as net besparingsmaatreëls, hoër belastingkoerse en stygende werkloosheid aanleiding gegee. Dit het die psige van die Griekse volk aangetas. Dit het Griekeland verneder omdat die Grieke uitgebeeld is as ‘n klomp lui, korrupte mense wat nie kan tred hou met die moderne ekonomieë van lande in die noorde van Europa nie.

Die Griekse probleem is egter veel groter as net dit. Die land het nooit die ekonomiese modernisering wat in veral die noorde van Europa gedurende die twintigste eeu plaasgevind het, beleef nie. Tog het Griekeland na die moeilike eerste helfte van die twintigste eeu ‘n tydperk van gesonde groei beleef. Die land se staatskuld was ook redelik laag en was slegs 19.8% van die Bruto Binnelandse Produk toe Griekeland in 1981 deel van die Europese Ekonomiese Gemeenskap geword het.

Daarna was dit egter al die pad ondertoe vir Griekeland. Stygende rentekoerse het die koste van kapitaal verhoog en na Griekeland se toetrede tot die Eurosone het arbeidskoste toegeneem sonder ‘n noemenswaardige styging in produktiwiteit. Griekeland se handelsbalans het bly verswak, werksgeleenthede het verlore gegaan en kort voor lank moes die staat gate probeer toestop wat tot enorme staatskuld, veral weens ‘n groeiende staatsdiens aanleiding gegee het.

Tydens Sondag se verkiesing het kiesers in Griekeland vir ‘n terugkeer na ‘n konserwatiewe, vryemark regering gekies. Die nuwe Eerste Minister belowe laer belasting, ‘n kleiner staatsdiens en minder regulasies. Laer belasting en ‘n kleiner staatsdiens vereis oor die korttermyn minder staatsinkomste en meer werksverliese. Die Europese Unie en Griekse burgers gaan moeilik hiertoe instem. Die land se staatskuld is steeds baie hoog, die bevolking krimp weens emigrasie en ‘n lae bevolkingsaanwas. Hoewel die stempersentasie in Sondag se verkiesing laag was, oorleef die demokrasie in Griekeland nog. Of dit genoeg gaan wees om Griekeland te red, word betwyfel. Griekeland se rol in Europa en verhouding met ander Europese lande moet herbedink word. Slegs dan kan Griekeland ‘n nuwe era van welvaart tegemoet gaan.


Laat 'n boodskap

Laat ń boodskap

Jou e-pos adres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde is gemerk *



Current track

Title

Artist