‘n Klassieke fabel…

Deur on Aug 29, 2019

Nuuskommentaar: 29 Augustus

25 jaar gelede het Walt Disney die eerste maal die animasie-fliek Lion King uitgereik.

Dit was Junie 1994. Suid-Afrika het twee maande tevore die nuwe era van meerderheidsregering bereik, met die Nelson Mandela as staatshoof. Daar was algemene euforie in die lug. ‘n Splinternuwe regering met nuwe ministers en ‘n nuwe parlement, maar die staatsdiens sowel as openbare ondernemings soos Eskom, SAL, Denel, die Poskantoor, die SAUK en algemene infrastruktuur was nog in die funksionele toestand waarin die voormalige regering dit nagelaat het.

In daardie atmosfeer van die euforie na die 1994-verkiesing het die storie van Lion King destyds vir Suid-Afrikaners na net nog ‘n storie gelyk. Bygesê, ‘n baie mooi storie met humor, hartseer, mooi musiek, teleurstelling, lewenslesse en triomf vir die goeie oor die slegte.

Vir Walt Disney was Lion King destyds sy mees suksesvolle animasieprent na Sneeuwitjie, 101 Dalmations en Fantasia, met ‘n wêreldwye bruto opbrengs van R8,4 miljard. 

In Julie is Lion King opnuut vrygestel. Die keer met die hulp van animasietegnologie wat ‘n produksie lewer met ‘n so te sê lewensgetroue beeld. Moeite is ook die slag gedoen om Zoeloewoorde in die dialoog reg uit te spreek, met John Kani as een van die stemme en die kopiereg van Suid-Afrikaanse komponis Jonathan Linda is die slag behoorlik erken vir sy 1939 komposisie The Lion Sleeps Tonight.

Maar daar is nog ‘n stuk realiteit wat met die 2019 produksie duidelik na vore kom. Die vervaardigers van die 2019-weergawe het, wetend of onwetend, met die nou reeds oorbekende storie sosiale kommentaar gelewer.

Die leeu-koning Mufasa, berei sy kroonprins-welpie Simba voor op sy toekomstige rol as heerser. In sy kinderlike naïwiteit vra Simba vir sy pa op ‘n stadium of die hele koninkryk eendag sy eiendom gaan word. Sy pa help hom reg en wys hom daarop dat dit nie sy eiendom is nie, maar slegs aan hom toevertrou word om te beskerm in almal se belang. Sy pa waarsku hom teen gierigheid en toe-eiening en leer hom hoe belangrik balans en selfbeheersing is. Hy verduidelik hoe belangrik dit is dat een geslag met die omgewing en die hulpbronne daarvan omgaan op ‘n manier dat die balans onversteurd bly en toekomstige geslagte kan deel in die natuurlike lewensiklus.

Dan is daar Scar, Mufasa se broer wat ten alle koste mag soek. Hy doen dit deur ‘n alliansie met die hiënas wat bekend is vir hulle onvergenoegdheid met hulle erg ongelyke plek in die voedselketting. Scar en sy hiënas vermoor vir Mufasa, maar skep en gebruik skuldgevoelens by Simba om van hom ontslae te raak. Simba emigreer na ‘n sorgvrye paradys en onder die heerskappy van Scar verval die eens trotse koninkryk in ‘n woesteny van plundering, agteruitgang en hongersnood.

Die natuurlike voedselketting word selfs deur Scar omvergegooi en die hiënas vervang die leeuwyfies. So word elke simbool wat onderdane in die koninkryk kan herinner aan die vorige bestel waarin die balans gehandhaaf is en heersers selfbeheersing toegepas het, vernietig.

Uiteindelik keer Simba terug uit sy ballingskap en herstel die orde.

Uit linkse oorde word hierdie boodskap raakgesien en woedend veroordeel. ‘n Rubriekskrywer op die webblad www.politics.co.uk , Ewan Cameron beskryf die prent as “a crazed piece of capitalist propaganda”. Die Nederlandse outeur en spreker Dan Hassler-Forest beskryf die prent in Washington Post  as ‘n “fascistiese verhaal” van onderdrukking van die swakkeres.

Na 25 jaar van belewing van ‘n sosialistiese bewind in Suid-Afrika, beskou die skrywer, Lion King as ‘n klassieke fabel wat die werklikhede in Suid-Afrika vandag, raak saamvat.


Laat 'n boodskap

Laat ń boodskap

Jou e-pos adres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde is gemerk *



Current track

Title

Artist