fbpx

‘n Bitter pil…

Deur on Aug 15, 2019

Nuuskommentaar: 15 Augustus

Verlede week het die waarskuwings van twee vooraanstaande meningsvormers, Johann Rupert en RW Johnson, die openbare mening op hol gehad.

Albei het gewaarsku dat Suid-Afrika op die drumpel staan van ‘n toestand waarin die regering geen ander keuse gaan hê nie, as om die IMF om hulp te nader om die ekonomiese skip vlot te hou.

Tussen 2000 en 2008 het die gemiddelde rand-dollar wisselkoers gewissel vanaf R6,72 in 2000 en R7,56 in 2008. Selfs in die Zuma-era het die wisselkoers van ons geldeenheid verbeter tot R6,77 per dollar in 2011, maar sedert 2012 het die rand gaandeweg verswak tot die vlakke waar dit nou staan.

Nadat die rand aanvanklik, aan die begin van die jaar begin verstewig het as deel van die optimisme onder sakelui en ekonome dat die einde van die Zuma-era goeie nuus vir die ekonomie sou wees, het ons geldeenheid intussen weer geval en kos ‘n Amerikaanse dollar nou meer as R15,00. 

Die gangbare toets onder ekonome, om te bepaal wanneer die rooi ligte begin flikker op pad na die noodsaak vir ‘n IMF reddingsboei, is ‘n verhouding van staatskuld teenoor die bruto binnelandse produk.

Wanneer staatskuld soveel as 60% van die land se totale BBP oorskry, lui die alarms dat IMF hulp nodig is.

Suid-Afrika se huidige staatskuld teenoor BBP verhouding is egter reeds meer as 68%, wat beteken dat ons al ver verby die waarskuwingstekens gevaar het.

Die rasionele, verantwoordelike ding vir enige regering in sulke omstandighede, sou wees om oral briek aan te draai en beleidsrigtings wat verdere spandering tot gevolg gaan hê of wat vertroue in die ekonomie in gevaar stel, vir eers op ys te plaas en ten minste te luister na die vele oproepe om mislukte staatsondernemings te privatiseer.

Maar nie hier nie.

Drie weke gelede het die parlement die proses om die grondwet te wysig sodat onteiening sonder vergoeding moontlik raak, weer op dreef gekry en ‘n ad hoc komitee benoem om die proses te dryf.

Die prosesse om eiendomsreg onseker te maak vertaal onmiddellik in ‘n agteruitgang in sake-vertroue, maar ANC-politici blameer die wit minderheid vir internasionale skeptisisme oor die onsekerheid wat deur die beoogde grondwetwysiging veroorsaak word.  

Verlede week het die Nasionale Gesondheidsminister, dr Zweli Mkhize die wetsontwerp vir Nasionale Gesondheidsversekering ter tafel gelê, ten spyte van hewige teenstand uit die sakesektor en die mediese professie.

Alhoewel die wetsontwerp reeds gepubliseer is, het die nasionale tesourie nog nie ‘n behoorlike kosteberaming gedoen van wat die NGV die belastingbetaler gaan kos nie is daar in die 2019 begrotingswetsontwerp reeds R2,1 miljard begroot vir die inwerkingstelling van die wet. Ramings oor wat die stelsel belastingbetalers gaan kos wanneer dit uiteindelik in werking is, wissel tussen die gesondheidsdepartement se eie raming van R256 miljard en die Instituut vir Rasseverhoudinge se raming van R450 miljard per jaar.  

Indien die departement van gesondheid reg is, gaan die stelsel elke geregistreerde belastingbetaler sowat R35 000 per jaar kos. Indien die IRR reg is kan die syfer styg tot nagenoeg R60 000 per geregistreerde belastingbetaler.

Eergister het President Cyril Ramaphosa tydens ‘n saamtrek van die ANC-vroueliga in Soweto breë bors aangekondig dat die nuwe stelsel van Nasionale Gesondheidsversekering, hier is om te bly – of mense daarvan hou of nie.

Dit wil voorkom of die mate van roekeloosheid en irrasionaliteit waarmee die land bestuur word, geen einde het nie.

Die reeds leeg gemelkte 7 miljoen geregistreerde belastingbetalers, uit ‘n bevolking van byna 60 miljoen, sal die bitter pil van NGV moet sluk – of dalk nie.    


Laat 'n boodskap

Laat ń boodskap

Jou e-pos adres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde is gemerk *



Lees verder

Current track

Title

Artist