’n Beter manier om van diktators ontslae te raak

Deur on Apr 16, 2019

Nuuskommentaar: 16 April

Twee Afrika-diktators is sedert die begin van April deur burgerlike opstande tot ’n val gebring. President Abdelaziz Bouteflika van Algerië het op 2 April bedank na weke se opstande en betogings in sy land. Bouteflika het Algerië vir twee dekades met ’n ystervuis regeer. Die land se ekonomiese probleme en Bouteflika se besluit om homself vir nog vyf jaar as president van Algerië beskikbaar te stel, ten spyte daarvan dat hy 82 jaar oud is en ernstige mediese probleme het, het tot grootskaalse woede aanleiding gegee. Meer as een miljoen inwoners van Algerië het aan die opstand teen Bouteflika deelgeneem.

Verlede week het Omar al-Bashir se diktatorskap van drie dekades in Soedan tot ’n einde gekom. Sedert Desember verlede jaar het duisende gemotiveerde Soedanese daagliks aan betogings teen al-Bashir se regering deelgeneem. Hoewel Soedan groot oliereserwes het, is daar enorme armoede in die land.

Terwyl beide van hierdie diktators oor die jare nie geskroom het om geweld te gebruik om burgerlike opstand te onderdruk nie, was die afgelope tyd se opstande net te oorweldigend. Bouteflika se aanvanklike belofte dat hy net tot einde April as president sou aanbly was nie eers vir Algeriërs genoeg nie. Die tussentydse regering wat in Algerië aangewys is, het ’n hele paar van Bouteflika se voormalige lojaliste in hul midde en dit is duidelik dat die Algeriërs ook nie daarmee tevrede is nie. Hulle gaan nie rus voordat ’n volwaardige demokraties-verkose regering beheer oorneem nie.

Ook in Soedan het al-Bashir allerhande planne probeer beraam om aan bewind te bly. Uiteindelik was die opstande so wesenlik dat die weermag verlede week hom uit sy posisie moes dwing. Toe die Soedanese weermag voorstel dat hulle die land vir ’n oorgangstyd sou regeer, het die opstande weer vlam gevat. Die weermaghoof moes uiteindelik aankondig dat ’n burgerlike tussentydse regering wel ingestel sal word.

Dit is tans nog moeilik om te voorspel of Algerië en Soedan binnekort volwaardige demokrasieë gaan word. Dit is egter duidelik dat beide lande beter daaraan toe is as toe Bouteflika en al-Bashir in beheer was. Wat die afgelope paar weke in Algerië en Soedan gebeur het, vergelyk goed met wat in 2011 in Tunisië gebeur het. Hoewel Tunisië steeds wesenlike uitdagings het, is die land wel vandag ’n demokrasie.

In lande soos Libië en Yemen het dinge baie slegter verloop. Beide lande is vandag in oorlog gewikkel en grootskaalse lewensverlies en verwoesting is algemeen. Een belangrike verskil is natuurlik die betrokkenheid van buitelandse rolspelers. Grootskaalse vernietiging in lande soos Libië, Yemen en Irak is moontlik gemaak deur die betrokkenheid van lande soos die VSA, Saoedi-Arabië en talle Europese lande wat dodelike wapentuig en ammunisie gebruik en beskikbaar gestel het.

Wat ons die afgelope tyd in Algerië en Soedan gesien het, is hoe beide lande se burgery vanuit eie vermoë van diktators onslae geraak het. Dit is sekerlik nie altyd moontlik nie en kom soms teen ’n groot prys, maar die les wat die wêreld kan leer is dat wat in Algerië en Soedan gebeur het soveel beter is as die wyse waarop diktators in Libië, Yemen en Irak verwyder is.


Laat 'n boodskap

Laat ń boodskap

Jou e-pos adres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde is gemerk *



Current track

Title

Artist