fbpx

’n Abnormale samelewing voed abnormaliteit

Deur on Mei 21, 2019

Nuuskommentaar: 21 Mei

Die abnormale samelewing is voorheen dikwels as regverdiging gebruik vir buitengewone maatreëls en straf teen Suid-Afrika. Selfs die ergste terreurdade is verskoon, of selfs geprys, omdat dit teen ’n abnormale samelewing gerig sou wees.

Nou is dit 25 jaar nadat die stelsel wat so abnormaal beskryf was verander is. Trouens, die laaste apartheidswet is al ’n aantal jare voor 1994 deur die vorige regering uit die wetboek verwyder. Wetgewing wat nou allerlei rassemaatreëls afdwing is deur die nuwe regering ingevoer. Dit word dikwels gesê dié wetgewing beheer die lewe van ’n wit persoon van die wieg tot die graf.

Daar is objektiewer prentjies, oor wat aangaan ook. In watter heelal kan dit normaal wees as eertydse bure, vriende of familie die name op die gedenkmuur vir plaasmoorde op die Nampo-plaas by Bothaville kom opsoek?

Dit kom nou juis na die afloop van die jongste algemene verkiesing. Let wel, ’n verkiesing wat beklemtoon dat dit ’n DEMOKRATIESE verkiesing is. Die strome en strome bewyse van allerlei ongerymdhede wat feitlik daagliks bewyse uitlig dat daar ernstige probleme met die verkiesing was, maar dan ewe absurd deur die OVK self tot vry en regverdig verklaar word?

Dit is moeilik om in te dink dat enige ander gemeenskap in Suid-Afrika so die kort lootjie bly trek soos die kommersiële boere in Suid-Afrika. Hoewel daar onder hierdie boere wel vrot appels ook voorkom, is dit duidelik nie hierdie vrot appels wat vir wrede aanvalle en uiters stief behandeling deur die regering uitgesonder word nie.

Hoeveel erger moet dinge nog word voor die regering sal erken dat ons nou met ’n abnormale samelewing te kampe het?

Waar die landbou-gemeenskap steeds om elke hoek en draai die kort lootjie moet trek.

Beide die TLU SA en Agri SA, het in die baie onlangse verlede verklarings uitgereik wat in wese mosies van wantroue in die regering stel. Agri SA se reaksie het gehandel oor die beleidsonsekerheid aan regeringskant oor landbou- en landbouverwante sake, wat behoorlike investering in die landbou in wese riskant maak.

Die TLU SA het sy SOS-veldtog bekend gestel wat daarop gemik is om die buiteland te laat standpunt inneem teen ’n beoogde grondwetwysiging wat onteiening sonder vergoding moontlik maak.

Dit is inderdaad ’n hartseer herhalende geskiedenis – die georganiseerde landbou wat al by herhaling na die regering uitgereik het, en aangebied het om kundigheid beskikbaar te stel om beginnerboere te help. Die oorhoofse indruk wat volg is dat vooropgesette idees, en haat / wantroue wat eerder op persepsies as feite gebaseer is, die aanbiedinge laat verongeluk. Die boere word telkemale die skuld gegee, en die situasie so geplooi dat dit voorkom of selfs die mees voorbeeldige boer aan die hand van die standpunt gemeet word dat alle boere deel van die vrot-appel-brigade is.

Werklike feite maak gewoon nie saak nie, soos dat die R100 000 wat TLU SA uitgeloof het aan die eerste persoon wat bewyse van gronddiefstal voorlê. Daardie geld lê steeds veilig in die kluis, maar die regering gaan van die veronderstelling uit dat dit waarheid is.

Dis ’n abnormale samelewing waar fiksie beleid bepaal, en sodoende  abnormaliteit nog verder voed.  


Laat 'n boodskap

Laat ń boodskap

Jou e-pos adres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde is gemerk *



Lees verder

Current track

Title

Artist