Met die maan gepla…

Deur on Mei 13, 2019

Nuuskommentaar: 13 Mei

Op 20 Julie vanjaar is dit presies 50 jaar sedert Neil Armstrong sy bekende woorde op die maan geuiter het: “Een klein treetjie vir ’n mens, maar ’n reuse sprong vir die mensdom.”

Ongeveer agt jaar tevore het pres. John F. Kennedy aangekondig dat die VSA voor die einde van die 60-tigerjare ’n bemande maanlanding gaan uitvoer, ’n mylpaal wat net-net gehaal is. Dit was duidelik die VSA wou wat sy ruimteprogram betref, ’n voorsprong bo sy Russiese teenstanders behaal.

Die Apollo-program moes teen ’n reuse spoed aangepak en versnel word. Nasa se begroting het oornag gestyg tot ongeveer 4 persent van die nasionale begroting, teenoor ongeveer ’n half persent teen verlede jaar. In vandag se randwaarde sou die program die VSA  sowat R2 625 miljard gekos het.

Die krag wat die Saturn-vuurpyle gelewer het, word nou eers deur Space X se Falcon Heavy’s geëwenaar of oortref. Wanneer so ’n vuurpyl in Florida gelanseer is, kon ’n seismometer die trillings in New York opmerk.

Armstrong en sy twee kollegas het met die Apollo-ruimtekapsule na die maan gereis.

Die maanlanding se ruimtekapsule, Apollo 11, het om die maan bly wentel terwyl Armstrong en Edwin Aldrin  in die Eagle na die maan neergedaal het. Michael Collins het om die maan bly wentel.

Altesaam 12 mense sou op die maan land, waarna die program in 1972 weens begrotingsbesnoeiings gestaak is. Net Apollo 13 kon nie ’n maanlanding uitvoer nie toe ’n suurstofpyp gebars het, en die tuig met die hulp van die maanlandingstuigie na die aarde moes terugkeer.

Nou, vyftig jaar na die eerste maanlanding, is Nasa weer op dreef om weer reise na die maan te hervat. As alles volgens plan verloop, sal die volgende maanlanding oor vyf jaar gedoen word. Hiervoor het Nasa weer aansienlike bykomende fondse bekom, naamlik $800 miljoen. Hiermee moet onder meer ’n ruimtestasie gebou word wat om die maan sal wentel, en wat ook as vertrekstasie sal dien vir reise na die diep ruimte in, soos na Mars.

Twee voorwaardes geld dat die nuwe projek volhoubaar moet wees, en dat die vertrekstasie in ’n werkende toestand moet wees.

 Intussen word ander voorbereidings kliphard gedoen, soos die ontwerp van ’n maanbasis. Dit sluit in dat die bouwerk deur drie-dimensionele drukwerk gedoen word. Indien moontlik sal so veel as moontlik van die grondstowwe op die maan self gebruik word.

Vir die reise na die maan is in wese gans ander tegnologie ontwikkel, en sal die reise na verwagting veel veiliger en heelwat luukser wees.

Met die eerste maanlanding het Suid-Afrika nog nie TV gehad nie. Mense wat beeldmateriaal van die landing wou sien, moes na spesifieke plekke gaan waar TV’s ingerig is, sodat ’n groot groep mense gelyk kon kyk. Die beeldmateriaal was baie dof. Met ’n volgende maanlanding sal omtrent alle Suid-Afrikaners tuis na bykans volmaakte opnames kan kyk.


Laat 'n boodskap

Laat ń boodskap

Jou e-pos adres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde is gemerk *



Lees verder

Volgende artikel

NAMPO


Thumbnail
Current track

Title

Artist