fbpx

Liberales en linkses veg teen die werklikheid

Deur on Mei 24, 2019

Nuuskommentaar: 24 Mei

Die afgelope verkiesing het weereens getoon dat Suid-Afrika ʼn demografiese demokrasie is waar kiesers volgens identiteit, in plaas van beleid, stem. Die uitslae was grootliks dié van ʼn rassesensus. ʼn Betekenisvolle 74% van die kiesers het vir swart partye soos die ANC, EFF en IVP gestem, terwyl swart mense bo die ouderdom van 18 sowat 77% van die kiesers uitmaak.

Hierdie verskynsel is nie uniek aan Suid-Afrika nie. Prof. David Welsh van Kaapstad het jare gelede al gesê dat hy van geen geval in die wêreld weet waar die etniese of rasfaktor oorskadu is deur stemkeuses gebaseer op ideologiese beleid of waardes nie. Dit verklaar hoekom kiesers weereens oorweldigend vir die ANC gestem het ten spyte van die rekordhoë werkloosheid in die land en die feit dat Suid-Afrika die afgelope tyd die swakste gevaar het van enige land wat nie in ʼn oorlog gewikkel is nie. 

Tog swyg die liberale en linkse media meestal soos die graf oor hierdie demografiese verskynsel omdat dit teen hul ideologiese siening indruis. Liberales ontken die rol, en soms selfs die bestaan, van kultuur en identiteit en meen mense moet volgens liberale ideologiese oorwegings en waardes stem. Liberales sien mense net as vryswewende enkelinge sonder dat hulle bepalende bande met ʼn taal- of kultuurgemeenskap het. Identiteit word selfs as ʼn bedreiging vir liberalisme en liberale demokrasie gesien en word hand en tand beveg.

Linkses wil ook niks van identiteit of kultuur weet nie omdat hul sosialistiese siening van die mensdom op klas gegrond is. Waar liberales dus net die enkelbome raaksien en erken, sien linkses net die bos raak. Net soos die liberales glo die linkses ook dat kultuur en identiteit ʼn gevaarlike verskynsel is wat beveg moet word. Waar liberales glo dat dit die vrystaande enkelbome bedreig, glo linkses dat kultuur die eenheid van die bos bedreig.

Die val van die kommunisme in die negentigs is deur liberales as die finale oorwinning van liberalisme voorsien en dit het hul siening versterk dat die tyd van ʼn linkse ideologie of kulturele identiteit vir altyd verby is. Hulle het geglo dat die liberale demokrasie nou universeel is en dat mense voortaan net as enkelinge aan die politiek gaan deelneem. Kultuur en identiteit was volgens hulle uitgedien.

Die bekende Harvard-professor, Samuel Huntington, het gewaarsku dat hierdie liberale siening heeltemal verkeerd is en dat kultuur en identiteit juis die toekoms gaan bepaal. Hy het ook gesê dat die erkenning en akkommodering van gemeenskappe se kulturele identiteit nie ʼn bedreiging inhou nie, maar dat dit juis vrede en bestendigheid sal waarborg.

Mense wat gewaarsku het dat ʼn gewone een-mens-een-stem-demokrasie in Suid-Afrika net op ʼn rasseoorheersing sal uitloop, is 25 jaar gelede afgekraak en as regse rassiste uitgekryt. ʼn Federale bedeling, waar gemeenskappe soos in Europa regte en magte oor hul eie kulturele sake sou kry, is as onnodig afgemaak.

Die sesde verkiesing het nou weereens die werklikheid dat mense eerder volgens identiteit as beleid stem, beklemtoon. Panyasa Lesufi se jongste aanval op Afrikaanse skole is die nuutste bewys dat ʼn demokrasie sonder kulturele vryheid net vryheid vir die meerderheid is.


Laat 'n boodskap

Laat ń boodskap

Jou e-pos adres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde is gemerk *



Current track

Title

Artist