fbpx

Lesufi, sê dit gaan nie oor taal nie…

Deur on Jul 5, 2019

Nuuskommentaar: 5 Julie

Enige Afrikaanse ouer of skoolkind in Gauteng moes al die naam van die berugte LUR vir Onderwys gehoor het – Panyaza Lesufi.  Dit is die einste man wat ʼn elektroniese stelsel in plek probeer stel wat vir die regering die finale woord sal gee oor watter skool ʼn Graad 1 of Graad 8 leerder by geplaas word.  Dit is die einste man wat vir sy departement die mag toe-eien om te besluit wanneer ʼn skool nou eintlik vol is, en dit is die einste man wat vir homself die mag toe-eien om enige skool wat volgens hom nie vol is nie, te vul – met enige kinders binne 30 kilometer van daardie spesifieke skool.

Hierdie drie reëls gee vir meneer Lesufi ʼn monargiese hoeveelheid mag oor waar presies kindertjies skole sal betree.  Tydens ʼn gesprek oor die toekoms van onderwys, wat op 3 Julie 2019 aangebied is, het meneer Lesufi gesê dat dit nie oor taal gaan nie, maar eerder oor ʼn magdom ander dinge, soos toegang en gehalte.  Hierdie tipe opmerking staan direk in teenstand met vorige opmerkings deur hom gemaak, soos dat hy nie kan verstaan waarom mense in Afrikaans skool wil gaan nie, siende dat dit nie eens meer aan universiteite aangebied word nie.  Hoe kan hy maak asof dit nie oor Afrikaans gaan nie, maar terselfdertyd wou hy aanvanklik nie hê taal behoort ʼn kernoorweging te wees wanneer daar bepaal word waar ʼn kind geplaas word nie?  Dit spreek van of vergeetagtigheid, of moedswilligheid.

Vir Afrikaanse ouers, en jongmense wat van plan is om binnekort ouers van Afrikaanse kinders te wees, is die boodskap duidelik soos daglig – en die helderheid kom juis deur in dit wat nie bekendgemaak word nie.  Deur op alles behalwe taal te probeer fokus as die kameras aan is en op hom skyn, wys meneer Lesufi presies vir ons wat hy nie wil hê ons moet sien nie – en dit is juis taal.  Eie oplossings sal gemaak word, en hoe meer planne nou gemaak word, hoe kleiner sal die krisis wees as daar prontuit gestel word dat Afrikaans nou weg is.  In Namibië was dit so eenvoudig soos ʼn jaarwisseling wat die einde van Afrikaans in verskeie staatskole beteken het, meneer Lesufi mag dalk meer slinks wees as dit, maar dat hy ons moedertaal stelselmatig uit staatskole wil stoot behoort vir niemand meer onseker te wees nie.  Die ouers en voornemende ouers behoort nie vir te lank in sak en as hieroor te sit nie – daar is werk om te doen, die tyd om moue op te rol en skouer aan die wiel te sit, is nou.  Eie skole, skole wat aan die gemeenskap behoort, skole waar wêreldgehalte sonder jaloesie of politiek gebuk moet gaan, dit is wat ons soek, so dit is wat ons vir onsself moet bou.


Laat 'n boodskap
  1. Janneman   On   Jul 5, 2019 at 12:11 pm

    Wat die ene Lasufi ook nie verstaan is dat sy oorvol skole juis die kwaliteit van onderwys beïnvloed.
    Ek voel verskriklik jammer vir ons blanke onderwyseresse wat aan die korste end trek.

Laat ń boodskap

Jou e-pos adres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde is gemerk *



Current track

Title

Artist