fbpx

Lesufi se dinges man

Deur on Sep 18, 2019

Nuuskommentaar: 18 September

Daar is ‘n onlangse TV-advertensie waarin twee tegnici besig is om instandhouding te doen aan Suid Afrika se Square Kilometer Array satelliete.

Terwyl hulle so aan die werk is vra die een man vir sy kollega:

“Please hand me the dinges

Die kollega vra dan “the dinges-dinges, or the dinges-dinges?”

“The dinges-dinges” kom die antwoord terug.

Elke Afrikaanssprekende weet wat ‘n dinges is, en het al gevra vir ‘n dinges.

Of dit nou die dinges in jou voertuig is wat ‘n klak-klak geluid maak, en of dit nou die dinges is wat jy gebruik om ‘n kurk te trek, die universele term vir ‘n woord wat so op die punt van jou tong is, is vir ons welbekend.

Die LUR vir onderwys in Gauteng, Phanyaza Lesufi, het die afgelope naweek menige weer die dinges ingehad met sy uitsprake oor Afrikaanse onderwys.

Die keer was sy grimmigheid gemik op Sol-Tech, wat Vrydag ‘n sooispit seremonie vir sy nuwe kampus gehou het.

“’n Ras-gebasseerde instelling in ‘n nie-rassige samelewing sal nooit slaag nie! Ek haat rassisme as ek dit sien” het Lesufi getweet.

Hy het die tweet opgevolg met blatante leuens, soos dat slegs wit mense na die seremonie uitgenooi is, en dat slegs wit mense by Sol-Tech kan studeer.

Sy dinges man!

Wat Lesufi vergeet is dat daar ruimte is vir ‘n instelling soos Sol-Tech om te bestaan. Sy bestaansreg word in die Grondwet bevestig.

Sol-Tech is ‘n privaat-instelling, wat nie na die regering se rasse-pype hoef te dans nie; wat in Afrikaans mag klas gee, en wat opleiding mag verskaf aan die wat dit graag in Afrikaans wil ontvang.

Sol-Tech doen dit al vir die afgelope 12 jaar, en het reeds meer as 1200 studente opgelei as suksesvolle meulmakers, dieselwerktuigkundiges, elektrisieens en pas-en-draaiers. En dit in Afrikaans.

Die afgestudeerde studente is reeds besig om ‘n bydrae te lewer in hul gemeenskappe en aan die ekonomie, en hou in sommige gevalle die bal letterlik aan die rol… in Afrikaans.

Verbeel jou die twee manne in die TV-advertensie het ook by Sol-Tech studeer, en hulle werk nou aan een van Suid Afrika se grootste tegnologiese projekte.

Die rede hoekom die twee kollegas mekaar verstaan as die een die ander vra vir die dinges, is omdat hulle ervaring het in hulle beroepsveld, en hulle weet watter gereedskap nodig is vir die betrokke projek. Hulle verstaan mekaar.

Hulle het weens goeie opleiding ‘n splinternuwe taal aangeleer, ‘n sub-taal wat deur tegnici en ambagslui gepraat word, en onderling verstaan word.

Dit gee nie om of die grondslag van hierdie ervaring vir hulle aangebied is in Afrikaans, Sotho, Engels, of Zulu nie.

Maar Lesufi kan nie verder kyk as die kleur van jou vel nie.

Hy sal kwaliteit onderwys offer op die brandstapel van sogenaamde nie-rassigheid.

Hy kon in sy hele Sol-Tech tirade homself nie een keer sover kry om te sê dat ‘n privaat-instelling ‘n waardevolle bydrae kan lewer aan die breër Suid Afrikaanse samelewing nie.

Lesufi se dinges man, gaan bou, gaan ontwikkel, gaan doen jou deel om jou Suid Afrika vir jou beter te maak.


Laat 'n boodskap
  1. Wimpie Du Preez   On   Sep 18, 2019 at 12:02 pm

    Die groot bitterheid is dat hy nie kan voorskryf, beheer en deel nie. Die bitterheid dat die Afrikaners soveel geld kan bymekaar maak sonder regeringshulp en dat ons nasie weer besig is om op te staan. Saluut.

  2. Ina v R   On   Sep 18, 2019 at 1:52 pm

    Hoekom boy Lesufi nie sy eie opleidingskollege net vir sy mense met Engels as taal nie? Niemand keer hom nie!! Elke voël op sy eie tak en almal leef in vrede saam.

Laat ń boodskap

Jou e-pos adres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde is gemerk *



Current track

Title

Artist