fbpx

Kollektiewe aanspreeklikheid het die teëlaarde geskep vir geen individuele aanspreeklikheid of verantwoordelikheid nie.

Deur on Sep 25, 2019

Nuuskommentaar: 19 September

Daar is oorgenoeg konsensus in demokrasieë oor die wêreld wat bepaal dat deursigtigheid, aanspreeklikheid en verantwoordbaarheid kernwaardes vir enige demokrasie is. Die graad van demokrasie word verder gevestig deur die mate van verantwoordbaarheid en aanspreeklikheid van regerings en individuele politici.

Ook in Suid-Afrika word dit soos volg in die grondliggende bepalings van die Grondwet   verwoord: “… ‘n veelparty-stelsel van demokratiese regering, om verantwoordingspligtigheid, ‘n responsiewe ingesteldheid, en openheid te verseker.” 

Reeds met die Waarheid en Versoeningskommissie is ‘n presedent in 1997 geskep dat kollektiewe amnestie toegestaan is aan 37 ANC leiers waaronder oud-Presidente Jacob Zuma en Thabo Mbeki, oud-SAPD Kommissaris Jackie Selebi en oud-SAUK nuushoof,  Snuki Zikalala en ander bekende name soos Pravin Gordhan, Matthews Phosa en Baleka Mbete-Kgositsile. In hierdie geval is kollektiewe amnestie verleen sonder dat daar ooit enige openbaarmaking was, sodat individue aanspreeklik en  verantwoordelikheid gehou kon word vir enige wandade. Dit het die teëlaarde geskep en die grondslag gelê vir die voortsetting van kollektiewe verantwoordelikheid in die prosesse van regering. Dit op sy beurt het gelei tot die gevolglike moraliteitsgebrek waarmee Suid-Afrikaners geteister word. Hierdeur het die ANC verseker dat niemand ooit vir enige iets aanspreeklik gehou kon word nie.

Deur die ANC se toepassing van kollektiewe verantwoordelikheid en geen individuele aanspreeklikheid nie is Suid-Afrika op ‘n rampspoedige pad plaas. As die kollektief verantwoordelikheid aanvaar het, kan geen individu aanspreeklik gehou word nie. Ons het gevolglik ’n regering wat bitter mank gaan aan demokratiese aanspreeklikheid.

Daar is legio voorbeelde van die kollektiewe verantwoordbaarheid van die regering in die onlangse verlede. Die daaglikse blootlegging by die Zondo Kommissie van ondersoek na staatskaping van enorme misdade en korrupsie, die stroping van staatsbates, en vele meer laat nie meer wenkbroue lig nie.  Hoë politieke figure word geïmpliseer  sonder dat enige iemand die laaste paar jaar aan die pen gery het. In menige ander demokrasieë sou ‘n regering wat só  blootgestel is aan korrupsie van só ‘n omvang, geval het.

Dit maak die verantwoordbaarheid in sogenaamde demokratiese en oop samelewing ongedaan. Juis hierin moet ons onverbiddelik optree aangesien die hantering van staatsgelde deursigtigheid, aanspreeklikheid en verantwoordbaarheid vereis. Dit stuur ook die boodskap na vele ander in verskeie sektore dat die oë gesluit word vir korrupte optredes en is onteenseglik ʼn onderbou van die bose spiraal van vele misdade en die stroping van infrastruktuur wat ons daagliks sien en beleef.

Die Zuma-bewind alleen kan nie blameer word nie. Oud-President Mbeki en sy regering se onbeholpe en nalatige optrede met betrekking tot die bekamping van die vigs-pandemie wat jaarliks meer as ’n kwart miljoen slagoffers geëis het, het ook geen verantwoordbaarheid getoon nie. Dit was veel eerder ‘n skrikwekkende demonstrasie van die effek van kollektiewe verantwoordelikheid.  

Die dobbelspel met ons kinders se onderwys word gedemonstreer deur die een kurrikulum na die ander wat misluk het en nog ‘n generasie van kinders skep wat nie voorberei word om met selfstandigheid toe te tree tot die ekonomie nie.  Jaarlikse swak matriekuitslae word weggepraat met verskonings, met geen politikus wat self verantwoordelikheid neem nie. 

Menige semi-staatsinstellings soos Eskom, die SAL, Denel die SAUK en vele ander was eens trotse instellings wat baie vermag het. Hierdie instellings word egter voortdurend gery deur kontroversie en magsbeheer en in baie gevalle bestuur soos persoonlike koninkryke met geen aanspreeklikheid ten opsigte van bestuur nie. Elke keer is die oplossing net ʼn nuwe bestuur met ʼn nuwe “strategiese omkeerplan” wat maar net beteken dat nog miljoene Rande ingepomp word om die instellings van algehele ondergang te red. 


Laat 'n boodskap

Laat ń boodskap

Jou e-pos adres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde is gemerk *



Current track

Title

Artist