Khaddafi die Tweede

Deur on Apr 11, 2019

PRETORIA FM: NUUSKOMMENTAAR – 11 April

Om die opmars van generaal Khalifa Haftar na die Libiese hoofstad, Tripoli, as die optrede van net nog ‘n rebelleleier te beskou, is om die bal ver mis te slaan oor die chaos wat nou in hierdie Noord-Afrikaanse staat heers.

Hoewel min mense Haftar se kanse om Tripoli te verower hoog aanslaan, en ook sy opmars as ‘n foutiewe skuif beskou, kompliseer dit tog die ontrafeling van die post-Khaddafi-chaos.

Tot baie onlangs is Haftar as ‘n baie belangrike onderdeel van die oplossing beskou. Haftar se voorneme om van die radikale Islamiete ontslae te raak, klink vir baie mense soos musiek in die ore. Sy militêre suksesse, wat die besetting van belangrike olievelde, die uitgestrekte woestyn en die stad Benghasi insluit, het van hom ‘n noodwendige groot rolspeler gemaak.

Haftar was baie lank op ‘n ongewone wyse ‘n westerse bondgenoot, en Frankryk skaar hom nog grootliks agter hom. Aanvanklik was Haftar en Khaddafi bondgenote, tot Khaddafi by Tsjad se huishoudelike sake ingemeng het en op ‘n strook grondgebied aanspraak gemaak het. Haftar het die militêre aanslag gelei, en is saam met ‘n groot aantal soldate krygsgevange geneem. Khaddafi het hulle by wyse van spreke afgeskryf. Hulle is later deur VN-bemiddeling vrygelaat, en Haftar het ‘n sleutelrol vir die FBI begin speel, en toe lank in die VSA gaan woon.

Na Khaddafi se ontseteling het Haftar na Libië teruggekeer, maar nie die rol binne die nuwe bedeling gekry wat hy gemeen het hy op geregtig was nie. Hy het leier van die Libiese Bevrydingsleër geword.

As taktikus is Haftar ‘n meester en het groot sukses behaal. As strateeg blyk hy minder geniaal te wees. Trouens, deur nié Tripoli aan te geval het nie, was sy kanse uitstekend om deur die voorgestelde onderhandelingskonferensie die nuwe leier van Libië te word, maar dit blyk dat sy drang om deur ‘n oorwinning die regering oor te neem sterker as gesonde verstand geweeg het.

Hierdie strategiese blapse het hom die bynaam van Khaddafi die Tweede besorg.

Libië is ten spyte daarvan dat die land vir eeue op die een of ander manier verenig was, ‘n verdeelde land. In die praktyk het die lojaliteite wat om Tripoli en Benghasi ontwikkel het, nooit verdwyn nie. Omtrent enigeen wat in een van die twee helftes van die land ‘n opstand van stapel wil stuur het bykans outomaties ‘n gevolg. Benewens die radikale Islamiete, is daar nog minderheidsgroepe soos die Berbers ook. Boonop het Libië eeue lank so te sê geen ervaring van onafhanklikheid nie, met Fenisiërs, Grieke, Romeine, Bisantyne, Ottomane, Arabiere en ander wat in beheer was, met die Nubiërs uit die suideliker dele wat lang tye ook prominente rolle gespeel het.  

Haftar het geblyk ‘n sterk kandidaat te wees om eenheid onder ‘n groot deel van die bevolking te verkry, met ‘n duidelike uitsondering van die radikale Islamiete, wat hy glo by geleentheid gesê het hy wil uitdelg.

Deur na Tripoli, waar die wettige regering gesetel is, op te ruk gaan Haftar, wie se magte nie oor ‘n baie groot arsenaal beskik nie, waarskynlik die onderspit delf.  Dan begin die onstabiliteit weer van voor af.


Laat 'n boodskap

Laat ń boodskap

Jou e-pos adres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde is gemerk *



Lees verder

Current track

Title

Artist