fbpx

Kan Trump Amerika selfs groter maak?

Deur on Jun 24, 2019

Nuuskommentaar: 24 Junie

President Donald Trump van Amerika het verlede Dinsdag voor ‘n skare van 20 000 entoesiastiese ondersteuners in Orlando, Florida amptelik sy veldtog vir ‘n tweede termyn as Amerikaanse President afgeskop. Dit was ook presies vier jaar sedert Trump op 16 Junie 2015 by sy kantoor in New York sy aanvanklike presidentsveldtog geloods het.

Die bekende rubriekskrywer vir die Wall Street Journal en voormalige toespraakskrywer vir President Ronald Reagan, Peggy Noonan, skryf verlede week dat sy met verwondering Trump se aankondiging vier jaar gelede dopgehou het. Haar onmiddellike gedagte was dat Trump geen kans staan om president van Amerika te word nie, maar dat hy wel die veldtog interessant sou maak.

Noonan skryf dat sy kort na Trump se aankondiging met twee familielede gepraat het wat beide besonder opgewonde oor Trump se veldtog was. Beide familielede was nie geharde konserwatiewe Republikeine nie en die een het selfs in 2008 vir Barack Obama gestem. Beide hierdie familielede was egter geïnspireer deur Trump se eerlike kritiek op die politieke stelsel in Amerika.

Dit was duidelik dat kiesers van regoor Amerika stil-stil reeds in 2015 Trump as die spreekwoordelike Herkules wat in een dag die Augiusstal sou reinig, gesien het. Dit is duidelik dat ‘n meerderheid van Amerikaners oor jare ‘n diepliggende frustrasie met die politieke moeras in Washington D.C. ontwikkel het. Die Amerikaanse regeringsburokrasie gepaardgaande met oordrewe regulasies, enorme staatskuld, onbeheerde onwettige immigrasie en talle ander uitdagings het vir Amerikaners die simboliese kraal van die mitologiese koning Augius geraak waar die koning duisende beeste vir dertig jaar in sy stal aangehou het sonder om ooit die stal skoon te maak. Trump sou die Herkules wees wat in een dag die stal sou skoonmaak.

Vandag, vier jaar later, is dit duidelik dat die politieke uitdagings om die beestestal of moeras in die Amerikaanse hoofstad skoon te maak heelwat meer ingewikkeld is. Op sy onkonvensionele en soms bombastiese wyse het Trump heelwat bereik om minstens ‘n proses in werking te stel om van oorbodige regulasies ontslae te raak, om goeie regters aan te stel en om die probleem van onwettige immigrasie te hanteer. Ook op ander terreine soos belasting, internasionale handel, onderwys en infrastruktuurontwikkeling het Trump vordering gemaak.

Die vraag is egter of dit genoeg is om ‘n meerderheid van kiesers teen volgende November te oortuig om weer vir hom te stem? Is die slagspreuk: ‘Maak Amerika Weer Groot’ nog goed genoeg of het Trump ‘n meer ambisieuse agenda nodig?

Die bekende politieke kommentator, Kimberley Strassel, wys juis in ‘n rubriek op die noodsaak vir Trump om ‘n groter agenda aan kiesers voor te stel. Volgens haar moet dit ‘n grootskaalse hervorming van die regeringsburokrasie en verdere belastinghervorming insluit.

Indien Trump volgende jaar wil wen sal hy weer miljoene kiesers, wat dalk voorheen vir Demokrate soos Clinton en Obama gestem het, moet oortuig om sy agenda, ten spyte van sy problematiese persoonlike styl, te steun. Genoeg Amerikaners is steeds kwaad vir die ou gevestigde politieke belange, maar Trump het ‘n sterk agenda nodig indien hy genoeg van hulle wil oortuig om soos Peggy Noonan se suster en oom die byna onmoontlike te doen en vir ‘n bombastiese voormalige aanbieder van ‘n realiteitsprogram op televisie te gaan stem. In vandag se politiek is dit egter heeltemal moontlik.


Laat 'n boodskap

Laat ń boodskap

Jou e-pos adres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde is gemerk *



Current track

Title

Artist