fbpx

Johnson sal Britte weer van Brexit moet oortuig

Deur on Sep 16, 2019

Nuuskommentaar: 16 September

Na verskeie terugslae die afgelope paar weke word daar wyd bespiegel oor of die Britse Eerste Minister Boris Johnson nog daarin gaan slaag om Brittanje se onttrekking uit die Europese Unie suksesvol deur te voer. ‘n Meerderheid van Britse parlementslede staan duidelik sy pogings tee en dit raak duidelik dat slegs ‘n verkiesing duidelike rigting aan die proses kan gee.

Terwyl Johnson daarin kon slaag om sedert hy in Julie Eerste Minister geword het, die Konserwatiewe Party se steun onder kiesers grootliks te herstel, gaan hy steeds ‘n baie moeilike taak in ‘n verkiesing hê. Vir Johnson om te slaag sal hy weer eens, soos in 2016 genoeg Britte moet herinner aan al die goeie en geldige redes waarom Britse lidmaatskap van die EU ‘n fout was.

Sedert 52% van Britse kiesers in ‘n referendum op 23 Junie 2016 ten gunste van die Verenigde Koninkryk se uittrede uit die Europese Unie gestem het, woed ‘n permanente stryd oor die toekomstige rol van dié land binne Europa en ook die internasionale politieke en ekonomiese omgewing.

Johnson sal Britte aan hulle eie geskiedenis moet herinner.  Verder sal hy goeie redes moet gee waarom Brittanje nog nooit regtig deel van Europa was nie. Toe Brittanje in 1963 deel van die Europese Ekonomiese Gemeenskap wou word, was dit die groot Franse staatsman, Charles de Gaulle wat waarteen geredeneeer het omdat hy Brittanje se verskille met die Europese vasteland goed verstaan het. Volgens De Gaulle was Brittanje afgesluit van die Europese vasteland en was dit ‘n maritieme land met markte en handelsbande in afgeleë dele van die wêreld.

Brittanje was in die Westerse wêreld ‘n voorloper met die ontwikkeling van demokrasie, ‘n parlementêre regering, vryhandel en die beginsels van persoonlike vryheid – alles die soort van waardes waarop lande soos die Verenigde State van Amerika, Kanada, Australië en Nieu-Seeland uiteindelik gebou is. Juis daarom is daar vandag heelwat meer ooreenkomste tussen Brittanje en hierdie voormalige kolonies as tussen Brittanje en Europese lande.

Brittanje se besluit drie dekades gelede om deel van die Europese Unie te word, was gebou op die utopiese denke wat na die Tweede Wêreldoorlog in Europa, en ook in Brittanje, geheers het. Die Britte se besluit om nie die Euro as geldeenheid aan te neem nie, is egter nog ‘n bewys waarom dié land nooit regtig deel van die moderne Europese integrasieprojek geword het nie. 

Brittanje het vir lank grootliks die Europese sosialistiese model verwerp en dit was veral die beleid van Margaret Thatcher wat deur ekonomiese hervorming Brittanje in ‘n moderne ekonomiese era ingelei het. Hoe langer Brittanje egter deel van die Europese Unie was, hoe meer het dié land by die Europese tradisie van oorregulering begin aanpas.

Indien Brittanje ‘n belangrike internasionale rolspeler wil bly het die land nodig om homself strategies te onderskei. Dit kan begin met Brittanje se uittrede uit die Europese Unie. Indien Boris Johnson egter nie daarin slaag om sy mense van die noodsaaklikheid hiervan te oortuig nie, sal die land voortgaan om soos die afgelope paar dekades stelselmatig sy rol en relevansie op die globale politieke en ekonomiese terrein te verloor.


Laat 'n boodskap

Laat ń boodskap

Jou e-pos adres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde is gemerk *



Current track

Title

Artist