Johnny Appleseed

Deur on Mei 29, 2019

Nuuskommentaar: 29 Mei

Wie was Johnny Appleseed?

’n Suid-Afrikaner wat meer as ’n halfeeu gelede as sewejarige ’n jaar in die VSA op skool was toe sy pa met ’n beurs daar verder gaan studeer het, het ’n besondere jaar met volop herinneringe agter die rug. Nie alleen het hy met die TV kennis gemaak nie, maar John Glenn se ruimtereis om die aarde en die sluipmoord op pres. JF Kennedy het ’n blywende indruk gemaak. Uit sy ouers se reaksie het hy besef die Kubaanse missielkrisis was iets besonders.

Maar nog ’n naam het in sy kop vasgeslaan – Johnny Appleseed.

Johnny Appleseed, of eerder, John Chapman, was in baie opsigte die teenoorgestelde van wat ons in Suid-Afrika van ’n soort mitiese heldefiguur sou verwag – dit wil sê ’n persoon wat werklik bestaan het, maar om wie se naam soveel legendes en fantasie-gebeure gebou is dat daar by tye selfs oor sy werklike bestaan gewonder is.

Maar Chapman was werklik. Daar is selfs twee dae per jaar wat as Johnny Appleseeddag herdenk word, naamlik 26 September, sy verjaarsdag, en 11 Maart in die hoogtepunt van die Amerikaanse appelseisoen.  Hy is in 1774 gebore en het volgens die meeste bronne in 1845 gesterf.

Die legendes oor sy lewe bied die mees fassinerende verklarings aan vir die algemene opvatting dat hy ’n onverbonde reisiger in verflenterde klere en dikwels sonder skoene geword het, met geen belangstelling in geld nie. So het hy groot dele van die land te voet deurkruis met wat hy as sy missie beskryf het, om appelsaad te versprei. Oral het boorde ontstaan. Hy het nie sy mond aan vleis gesit nie, en glo eenkeer sy kampvuur verskuif om nie muskiete te pla nie. Hy is later deur ’n wolf vergesel wat hy gesond gedokter het. Hy het ook talle mense gesond gedokter van allerlei medikasie wat hy uit wilde plante vervaardig het.

Dit is nie so seker of sy verwysing na sy missie, eerder eintlik met sy sending vertaal moes word nie. Hy was lidmaat van die Kerk van Swedenborg, of te wel Nuwe Kerk. Sy leerstellings het hy oral verkondig waar hy gekom het.

Die geromantiseerde prentjie van Chapman het gemaak dat een legende lui dat hy so geraak het na ’n koei hom teen die kop geskop het.

Die waarheid oor Chapman was net effens minder romanties. Hy was ’n suksesvolle sakeman en het met sy dood meer as ’n duisend akker grond besit. Hy het eerder saailinge as appelsaad verkoop, en so pioniers gehelp om hul grondeise by die owerheid te bestendig omdat boorde as duidelike teken van voorneme om te vestig beskou is.

Anders as wat verwag kan word, het die inboorlinge hom nie hiervoor verkwalik nie, maar goed met hom oor die weg gekom. Hy kon verskeie van hul tale praat, en sy kennis van natuurlike medisyne het hulle beïndruk. So is talle oorloë voorkom.

Hy het ook van die saad van hierdie plante versprei – maar ongelukkig ook van ’n onkruid sonder enige medisinale waarde wat nou ’n pes is.

Hy het behoeftiges dikwels gehelp oorleef, en so dikwels uit sy skoene geraak. Sy voete was egter goed gebrei.

Elke volk het helde nodig, maar soek die hedendaagse Afrikaner nie dalk sy helde op die verkeerde podiums nie? Jesus het immers die toonbeeld van eenvoud gestel.


Laat 'n boodskap

Laat ń boodskap

Jou e-pos adres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde is gemerk *



Lees verder

Current track

Title

Artist