fbpx

Hoe omvattend is Nederlandse perspektiewe oor SA gewysig?

Deur on Aug 13, 2019

Nuuskommentaar: 12 Augustus

Twee artikels wat oor Suid-Afrika handel het so te sê gelyk in die Nederlandse dagblad Trouw, verskyn. Beide handel oor aspekte van Suid-Afrika se huisvestingprogram, maar die werklike interessante verhale is tussen die lyne geskryf.

Die eerste artikel se opskrif lui: “De beschermde groene zone van Zuid-Afrika wordt overspoeld door nieuwbouw” en is geskryf deur die Nederlandse joernalis, Niels Posthumus wat vyf jaar gelede in Suid-Afrika hervestig het.

Hoewel die skrywer nie daarvan kan ontsnap om die skuld vir brouwerk en korrupsie te plaas waar dit hoort nie, naamlik die huidige regering, word die vorige regering tog tydig en ontydig ingetrek. So asof die huidige regering sulke onmoontlike take het weens die agterstande wat weens die apartheidsregering veroorsaak is.

Die voordeel is darem dat deur die artikels te skryf en plaas, word die ANC-regering se kleitrappery ook aan die kaak gestel. Dit beteken dat pres. Cyril Ramaphosa en sy ministers en ambassadeurs nie meer daarmee kan wegkom deur alles wat skeefloop, gewoon voor die deur van die vorige bedeling te plaas nie. Daar gaan nog probeer word, want die ANC het gewoond geraak daaraan dat dit maklik is om wit Suid-Afrikaners die skuldiges te maak.

Boonop word die huidige regering se onbeholpenheid ook oor ’n baie wye front aan die kaak gestel – swak omgewingsbestuur en maatreëls, min kennis oor moderne vestigingspatrone, die invloed van onwettige immigrante, en ja, die alomteenwoordige teenwoordigheid van korrupsie wat veroorsaak dat diegene wat eerlik is, en diegene wat nie ’n omkoopgeldjie kan afstaan nie, eenvoudig nie op waglyste kan klim nie.

Dit is natuurlik nie heeltemal nuut dat baie Nederlanders met ander oë na Suid-Afrika, en in besonder Afrikaanssprekendes in Suid-Afrika kyk nie, veral sedert die dae van premier Joop den Uyl. Sedertdien het die politiek in Nederland al wipplank-ryende na ’n meer konserwatiewe middelgrond beweeg, met ’n regs-populistiese front in die vorm van Geert Wilders.

Nog meer onlangs het verskeie akademici in Nederlandse en Vlaamse publikasies geskryf oor die toename van rassisme op eie bodem – so asof daar net geen ruimte vir teenspraak is hieroor nie. Vroeër vanjaar het Nederland se Eerste kamer, vergelykbaar met ons parlement se nasionale vergadering, ’n mosie teen grondonteiening sonder vergoeding aanvaar. Van nog meer waarde is dat Nederland nou op internasionale forums ook druk hieroor sal uitoefen. Boonop is Suid-Afrika lid van ’n hele aantal internasionale menseregteverdrae wat burgers se reg op eiendom teen grondgryp verskans. Dit is waardevol omdat dit aan Suid-Afrikaanse drukgroepe wat die ANC se planne internasionaal wil beveg, ankers dwars oor die wêreld bied.

Die vulgariteit van Suid-Afrika se sogenaamde vuilbek–ambassadeur in Denemarke wat duidelike rassistiese aanvalle op wit Suid-Afrikaners geloods het, help ook nie om pres. Cyril Ramaphosa se pogings om hierdie onteieningsplanne met ’n vyeblaar van fatsoenlikheid te probeer bedek nie.

Die yster is nou warm en moet gesmee word, maar ons moet die morele hoë grond beset, en so fatsoenlik as moontlik ons saak bly stel. 


Laat 'n boodskap

Laat ń boodskap

Jou e-pos adres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde is gemerk *



Current track

Title

Artist