fbpx

Hoe om met ’n bevolking te werk

Deur on Sep 13, 2019

Nuuskommentaar: 13 September

Suid-Afrika se pas-vrygestelde misdaadsyfers vertel ’n verhaal van ’n land waar ernstige skroewe los is. Nie alleen word twee mense per uur vermoor nie, maar ’n stroom mense wat na Suid-Afrika gevlug het, keer nou vreesbevange na die einste lande waaruit hulle gevlug het, terug.

Beeldmateriaal in Suid-Afrika wanneer iets skeefloop, wys net te gereeld hoe plunderaars met allerlei skatte, hulle na ’n plundertog met breë glimlagte uit die voete maak – oop en bloot so asof dit hulle reg is. Of dit nou xenofobiese geweld is, of ’n toerbus of dranklorrie is wat naby ’n nedersetting omslaan – nie lank nie of die plunderaars slaan net te gereeld vir ’n aandeel in vrybuit toe.

Statistiek oor plaasaanvalle kan nie doeltreffend die verhaal van uiterste wreedheid vertel waarmee baie van die aanvalle gepaard gaan nie.

Iets is verkeerd, en kenners van verskeie vakgebiede bepeins nou al jare die moontlike oorsake van dit wat verkeerd is.

Die staatkunde bied nie altyd al die antwoorde nie, maar deur die staatkunde te verreken, veral waar ’n land die geleentheid gebied word om met ’n gesonde en paslike staatkundige model uit die wegspringblokke te kom, kan reeds baie toekomstige moeilikheid voorkom. Suid-Afrika het by uitstek so ’n geleentheid gehad, maar ander faktore soos ideologiese beheptheid het veroorsaak dat dit erg ontspoor het. Na ’n kwart eeu is dit moeilik om hierdie werklikheid, namate die foutlyne in die grondwet blootgelê word, mis te kyk, en waar dit nog ontken word, aan stiksienigheid kan toeskryf.

Terwyl Suid-Afrika by wyse van spreke die brande met stukkende brandweerlorries probeer blus, is dit nie al land waar heterogeniteit ’n groter of kleiner rol in onstabiliteit speel nie. Op die oomblik speel Indië ’n belangrike rol om te demonstreer hoe om heterogeniteit, of deesdae polities meer korrek, diversiteit te hanteer. Die ironie is dat baie van die argitekte van die Suid-Afrikaanse grondwet etniese Indiërs is, soos die Cachalias, en inderdaad baie uit die Indiese grondwet en veral die handves van menseregte geneem is … behalwe waar dit aan staatkundige modelle raak. Beide lande is heterogeen en Indië se grondwet is daarvolgens ingerig, maar in Suid-Afrika is ’n eenheidsmodel aanvaar wat tipies op homogene lande van toepassing sou wees. Waar die Suid-Afrikaanse grondwet wel vir heterogeniteit voorsiening maak, word dit geïgnoreer of ondermyn.

Indië beleef relatiewe inheemse vrede. Feitlik alle beduidende etniese groepe se deelstate het federale outonomie, terwyl die pre-Indiese inheemse bevolking oor stamgebiede beskik, maar ook oor ’n aantal gewaarborgde setels in Indië se sentrale parlement.

Nie volmaak nie, maar die fanatisme waarmee Indiërs, ook wat in die buiteland woon, hulle agter veral die Indiese krieketspan skaar, is besonders. Danksy ongekende lojaliteit het Indië ’n besonder suksesvolle ruimteprogram. ’n Poging om ’n onbemande maanlanding met ’n maankarretjie uit te voer, het in die laaste oomblikke voor landing skeefgeloop. Pogings gaan nog meer as week lank uitgevoer word om kontak met die landingstuig te herstel. Intussen stel die Indiese premier ’n wonderlike voorbeeld – hy troos en bemoedig terwyl hy self in die beheerkamer was. Hy het self van die mediaverklarings uitgereik, en beklemtoon die projek was minstens 95 persent suksesvol. ’n Nuwe daeraad wag, beloof hy.

Ons regering, en die Britse regering wat die Keltiese minderheid met Brexit gering skat, asook ander, het nog baie te leer uit die hantering van minderhede.


Laat 'n boodskap

Laat ń boodskap

Jou e-pos adres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde is gemerk *



Current track

Title

Artist