Hoe Christelik is Suid-Afrika?

Deur on Jul 30, 2019

Nuuskommentaar: 30 Julie

’n Onlangse peiling toon dat 61 persent van alle volwasse Amerikaners meen dat skoolkinders elke oggend die eed van getrouheid, of te wel Pledge of  Allegiance, moet aflê. Boonop voel hulle dat dit die bewoording “under God” moet insluit. In 2008 was 77 persent volwassenes nog die mening toegedaan.

Hoe sterk die Amerikaners oor godsdiens voel, en veral die reg om Christelike beginsels in ander lewensfere as net die gesin en kerk uit te leef,  is al lank ’n omstrede kwessie, en die syfers van steun vir die een of ander kant wissel gereeld.

Voorbeelde is steun vir die gebruik van die woord Christmas, en daarmee saam, Merry Christmas, of die sekulêre Happy Holidays, steun vir of teen aborsies, die aanvaarbaarheid al dan nie van godsdiens op skool, en vele meer.

Maar hoe lyk sake in Suid-Afrika? Wanneer neem sekularisering die omvang aan dat onverdraagsaamheid met godsdiens eintlik op die onderdrukking daarvan neerkom, en bepaald die Christelike godsdiens?

En verander sake? ’n Leraar in een van die Afrikaanse susterkerke se onlangse preek is gebou om die vraag: AANBID GOD – Polities korrek?

Die bekende menseregte-aktivis, Rhoda Kadalie, het ’n paar jaar gelede in Die Burger in haar rubriek geskryf politieke korrektheid is die diktatuur van die liberalis. Maar het politieke korrektheid werklik nou so ’n omvang aangeneem dat die vraag in ’n preek gevra kan word of dit polities korrek is om God te aanbid – of dit nou bid binne die kerk, of ook in ander vorme van bymekaarkoms is.

Breedweg kan gesê word Suid-Afrika bied deur godsdiensvryheid in beginsel dieselfde regte aan mense wat ‘n godsdiens aanhang, as aan diegene wat die ateïsme aanhang. Van ’n Christelike staat kan daar sekerlik lankal nie meer sprake wees nie, soos met die wettiging van dobbel, aborsies en vele meer. Die regering spog selfs met die aborsiewetgewing wat as van die sogenaamd liberaalste ter wêreld beskryf word.

Die diktatuur wat mense dikwels beleef is egter dikwels hoe die een individu teenoor ’n ander optree. Die sosiale media is dikwels ’n goeie voorbeeld hiervan, maar leserskommentare onderaan nuusberigte in kuberkoerante is dikwels skokkend. Is daar ’n berig oor die 50-jarige herdenking van die eerste bemande maantuig, word die skrywer gelooi deur lesers wat op erg aanmatigende wyse aanvoer die maanlanding was ’n bedrogspul. Dieselfde gebeur onderaan ’n artikel wat selfs net in die verbygaan na klimaatsverandering verwys.

Ongelukkig is daar ook mense wat hul godsdienstige sienings hieraan koppel en die artikelskrywer eenvoudig tot nie-Christen verdoem, al deel die skrywer die siening van sy hoofstroomkerk. Hieronder tel onder meer aanhangers van die plat aarde-gedagte wat die lakens lekker kan uitdeel.

En omgekeerd. Waag die artikelskrywer dit om ’n aanhaling uit die Bybel te gebruik, of na iets van godsdienstige aard verwys, is daar gou ’n leser wat bitter ongelukkig is oor, soos hy dit sal stel, kamtige Christene wat hul godsdiens op ander opdwing. Dit word selfs op ’n  bekende Christelike Afrikaanse e-koerant ervaar. As ’n Christen nie eens sy Christelike gebondenheid op ’n Christelike blad kan uitdruk nie, is dit laat in die dag.

Ongelukkig is daar ook Christene wat God se oordeelsreg is aan hulleself  gedelegeer, en lustig ander Christene veroordeel wat, soos hul kerke, anders oor sekere sake dink en glo. Die goeie vrugte van die Heilige gees sluit immers vrugte in soos om nie veroordelend te wees nie, inskiklik te wees, vol liefde te wees, en die waarheid na te streef.

Mag die dag nooit aanbreek dat dit politiek inkorrek is om ’n Christen in dié land te wees nie.


Laat 'n boodskap

Laat ń boodskap

Jou e-pos adres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde is gemerk *



Lees verder

Current track

Title

Artist