fbpx

Deur on Okt 8, 2019

Het Trump nou sy hand oorspeel?

Nuuskommentaar 7 Oktober

Seker een van die ongewildste etikette wat iemand hom of haar op die hals kan haal is om as fluitjieblaser geïdentifiseer te word. Dit kan selfs lewensgevaarlik wees.  En hoewel fluitjieblasers tegnies deur die howe en wetgewing beskerm word, en eintlik bewondering van enige reggeskape mens verdien, word hulle dikwels neerhalend beskou. Hierdie soort klikbekke staan in die VSA dikwels ook as “rats” bekend.

Skielik is fluitjieblasers weer sterk in die nuus – hier te lande weens die persoon wat inligting oor onheile aan die Zondo-kommissie onthul.

In die VSA het ’n fluitjieblaser sake vir pres. Donald Trump erg besoedel na hy moes begin ontspan het dat die swaard oor sy kop, naamlik om in ’n staat van beskuldiging, begin skoert het.

Nou het ’n enkele fluitjieblaser skielik in ’n ommesientjie die proses nader aan ’n werklikheid gevoer as wat tot dusver oor jare nie deur formele ondersoeke kon vermag nie. Trump het dit klaarblyklik nie verwag nie, want hy is volgens aanduidings erg ontevrede. Die media berig wyd oor die spektakel wat hy van homself gemaak het voor sy eregas, die Finse president. Sy vloermoer het hom klaarblyklik  erg steun laat inboet.

Byna dadelik het die peilingsagentskap Rasmussen, wat dikwels daarvan beskuldig word dat dit pro-Trump is, of akkurater gestel, neig om Republikeinsgesind te wees, in ’n peiling bevind dat 53 persent van die Amerikaanse kiesers kwaad vir Trump is. Altesaam 39 present is baie kwaad vir Trump. ’n Bietjie meer as ’n jaar gelede was minder as die helfte van die kiesers vir Trump kwaad, en meer as die helfte kwaad vir Trump se opponente.

Die Daily Maverick berig dat Trump “as mad as hell” is oor daar probeer word om hom in ‘n staat van beskuldiging te plaas.

Twee persent van Trump se mees lojale steun wêreldwyd word in Suid-Afrika aangetref. Die meeste kom in die VSA voor, soos verwag kan word, maar as die ander lande waar hy baie steun geniet, soos Brittanje, Nigerië en Indië se bevolkingsgetalle in ag geneem word, is dit moontlik dat Suid-Afrika op die VSA na proporsioneel die meeste fanatiese Trump-ondersteuners het. Na byna ’n dekade van Zuma-rampspoed en pres. Ramaphosa wat self maar struikelend uit die wegspringblokke kom, is dit nie vreemd dat so baie die hoogs opvallende Trump so fanaties sal steun nie.

Altesaam 61 persent van die kiesers is kwaad vir die media. In nog ’n onlangse peiling is bevind dat net een uit drie Amerikaners glo dat die New York Times sy feite reg het. Die New York Times word saam met CNN beskou as van Trump se mees verbete teenstanders en ook nie skroom om die waarheid geweld aan te doen om dit te vermag nie.

Met die nuwe teenspoed wat Trump op die lyf geloop het, het media wat hom aanvanklik erg teengestaan het, maar later meer neutraal geword het toe dit blyk Trump is skynbaar immuun daarteen, is skielik weer voluit op die oorlogspad. Die Los Angeles Times is ’n goeie voorbeeld wat Trump soos van ouds ongenadig toedam, en onder meer skryf dat die jongste verwikkelinge toon hoe die president nie daarin kon slaag om die federale administrasie volledig volgens sy eie grille en giere te buig nie. 


Laat 'n boodskap

Laat ń boodskap

Jou e-pos adres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde is gemerk *



Current track

Title

Artist