Het Suid-Afrika weer ‘n regering van nasionale eenheid nodig?

Deur on Mei 10, 2019

Nuuskommentaar: 9 Mei

Het Suid-Afrika weer ‘n regering van nasionale eenheid nodig?

Histories was daar twee stadiums wat dit nodig was.

Eerstens in 1930’s rondom die depressie en die groot droogte. Destyds was die Nasionale Party van Genl JBM Hertzog aan bewind en die Suid-Afrikaanse Party van Genl Jan Smuts was die amptelike opposisie. Die ekonomie was bedruk en die groot ekonomiese debat was of Suid-Afrika die goud-standaard ten opsigte van monetêre beleid moes afskaf, die geldvoorraad moes verhoog om groei te stimuleer en sodoende die depressie te breek. Dit het destyds gebeur. Die NP en die SAP het ‘n koalisie gevorm met Genl Hertzog as eerste minister. Die koalisie-vennote sou later verenig tot die Verenigde Party wat uiteindelik sou regeer tot 1948 toe Dr DF Malan se gesuiwerde Nasionale Party die bewind oorgeneem het.

Tweedens het Suid-Afrika grondwetlik tussen 1994 en 1999 ‘n regering van nasionale eenheid gehad. As deel van die oorgangsproses vanaf minderheidsregering na die nuwe grondwetlike bestel het die oorgangsgrondwet destyds bepaal dat die tweede grootste minderheidsparty of partye wat meer as 20% van die nasionale steun kry, geregtig sou wees op die aanwys van ‘n adjunk-president. Verder moes die president sy kabinet saamstel om proporsioneel die samestelling van die grootste partye in die kabinet te weerspieël. Die Nasionale Party het egter voortydig uit die regering van nasionale eenheid onttrek veral weens die frustrasie wat Mnr FW de Klerk en sy span ervaar het om as minderheid in die kabinet dikwels geminag te word. Dr Mangusothu Buthelezi het egter sy termyn as minister van Binnelandse Sake deurgesien.    

Ironies genoeg kon die Nasionale Party homself nooit weer vind tussen die rol van regering en opposisie nie, en na die mislukte samesmelting met die Demokratiese Party van Tony Leon om die DA te vorm en die gevolglike wegbreek-aksie van Mnr Marthinus van Schalkwyk, het uiteindelik tot die eerlose ondergang van die Nasionale Party en die opname van ses van sy sewe oorblywende parlementslede in die ANC uitgeloop.

Terugskouend, meen baie waarnemers egter dat die konsep van ‘n regering van nasionale eenheid in ons diep verdeelde land, ‘n heilsame uitwerking op die nasionale politieke diskoers kon hê. Die mislukking van die idee tussen 1994 en 1999 word deur baie as ‘n fout beskou.

Pretoria FM se parlementêre korrespondent, Jan-Jan Joubert het in sy boek “Wie gaan regeer in 2019?” onthul dat President Cyril Ramaphosa reeds voor sy verkiesing as ANC president, van voorneme was om weer die konsep van ‘n regering van nasionale eenheid in te stel. Partye het egter gemeng gereageer op die moontlikheid van so stelsel, maar die vraag bly of dit nie dalk nodig is nie.

Enkele faktore is van belang:

  • Suid-Afrika is sedert 2008 hard geslaan deur die wêreldwye ekonomiese resessie en anders as die res van die wêreld het ons nie herstel nie, waarskynlik as gevolg van die massiewe korrupsie onder oud-president Jacob Zuma se bewind;
  • Intergroepverhoudinge is op ‘n laagtepunt en rassepolarisasie is veel erger as in die 1980’s ten tye van die nasionale noodtoestand;
  • Die ANC se steun is onder druk en veral ANC-kiesers radikaliseer na opsies soos die EFF en BLF;
  • Indien die ANC-steun gister onder 50% geval het, is ‘n regering van nasionale eenheid wensliker as byvoorbeeld ‘n ANC-EFF koalisie.

‘n Regering van nasionale eenheid mag dalk ons voorland wees en dit is verseker wenslik, wat egter van belang is, is dat dit liefs deur grondwetlike verskansing moontlik gemaak moet word as deur die welwillendheid van die heersende president Cyril Ramaphosa of sy opvolger.


Laat 'n boodskap

Laat ń boodskap

Jou e-pos adres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde is gemerk *



Lees verder

Volgende artikel

NAMPO


Thumbnail
Current track

Title

Artist