Groot toename in wettige immigrasie na Europa

Deur on Sep 11, 2019

Nuuskommentaar: 11 September

Sedert die  immigrasiekrisis van 2015 is die wêreld deeglik bewus van die probleem van onwettige immigrasie na Europa. Terwyl die golf van onwettige immigrasie die afgelope paar jaar oor Europa gespoel het, tref ‘n ander soort golf verskeie Europese lande. Wettige immigrasie na verskeie Europese lande het ook drasties toegeneem. Hierdie immigrasie word gedryf deur die ekonomiese groei wat Europa die afgelope paar jaar ervaar, maar veral deur die demografiese uitdaging wat meebring dat daar meer mense is wat aftree as jongmense wat tot die arbeidsmark toetree.

Terwyl die immigrasie van geskoolde werkers na onder andere Duitsland, Nederland, Brittanje en Swede welbekend is, het dit verlede week aan die lig gekom dat selfs Hongarye ‘n skerp toename in wettige immigrasie beleef. Terwyl die Hongaarse regering sterk gekant is teen immigrasie, het die land die afgelope paar maande noodgedwonge van die mees liberale immigrasiewetgewing in Europa aanvaar.

Die rede hiervoor is tweërlei. Eerstens het Hongarye se bevolking die afgelope dekade met 300 000 mense afgeneem tot 9,7 miljoen. Honderde duisende Hongare het na veral Wes-Europa getrek waar hulle beter salarisse kan verdien. Tweedens het die land, net soos ander lande in Europa, vir lank ‘n baie lae bevolkingsaanwas ervaar. Hoewel die regering onlangs omvattende stappe geneem het om ‘n hoër bevolkingsaanwas aan te moedig sal dit lank neem voordat die resultate daarvan gesien kan word. Tweedens het die land se werkloosheidskoers tot ‘n historiese 3,4% in Julie vanjaar gedaal. Die gemiddelde salaris in Hongarye het vanjaar reeds met 12% toegeneem.

‘n Verslag deur die Bertelsmann Stigting in Duitsland het vroeër vanjaar bevind dat 260 000 mense jaarliks oor die volgende vier dekades na Duitsland sal moet immigreer om aan die land se arbeidsbehoeftes te voldoen. Immigrasie uit ander Europese lande, veral uit Oos-Europa, na Duitsland is tans sowat 144 000 mense per jaar. Dit beteken dat nog sowat 120 000 mense uit ander wêrelddele nodig is. Volgens die nuutste syfers van die Duitse statistiekdiens het meer as 25% van mense wat tans in Duitsland woon ‘n immigrante-agtergrond.

Nog ‘n Oos-Europese land wat probleme met vaardigheidstekorte ervaar is Pole. Dié land ervaar tans selfs ‘n sterker ekonomiese groei as Hongarye en met honderde duisende Pole wat die afgelope paar jaar na veral Wes-Europa emigreer het, is daar tans ‘n groot tekort aan arbeid in sommige sektore. Pole het in 2017 reeds 680 000 werkspermitte uitgereik. Dit was die meeste van enige Europese land.

Lande soos Hongarye, Pole, Slowakye en die Tsjeggiese Republiek probeer om hul arbeidstekorte op te vul met immigrasie uit armer Oos-Europese lande soos die Oekraïne, Serwië en Roemenië. Daardeur word assimilasie vergemaklik. Daar is egter in Hongarye ‘n skerp toename van immigrante uit China, Indië, Mongolië en Midde-Oosterse lande soos Irak wat heelwat uitdagings in die toekoms kan veroorsaak.

In lande soos Duitsland, Nederland, België, Swede, Brittanje en Frankryk is die grootste immigrasie lank reeds uit Moslemlande soos Turkye, Marokko, Sirië, Irak en Afganistan. Die onmoontlike uitdaging om hierdie immigrante te assimileer is bekend.

Immigrasie tussen Europese lande is duidelik nie ‘n voldoende oplossing vir arbeidstekorte in sommige lande nie. Indien Europese lande nie ‘n skerp toename in eie bevolkingsaanwas kan teweeg bring nie, sal massa-immigrasie uit ander wêrelddele Europa vir altyd verander. Dit is reeds besig om te gebeur.


Laat 'n boodskap

Laat ń boodskap

Jou e-pos adres sal nie gepubliseer word nie. Verpligte velde is gemerk *



Current track

Title

Artist